Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Norme vir samebinding en vir verdelingslyne

AKTUEEL: Geloftedag of Versoeningsdag? 

SKRIFOORDENKING:
2 Konings 2 God is heilig....

Die drie formuliere van eenheid

Deformasie? 'Nuwe reformasie?' Reformasie? 

Die stryd rondom die suiwer Psalmboek

26 Oktober 2003: Dag van beslissing in die GKSA

GKSA-Middestadbediening ....

KERKLIKE JOERNAAL: 
Hersiening en herdruk van 1936-Totiusberyming Psalmboek

Skrifhantering in die brandpunt

Mededeling van kerkraad "Die Kandelaar", 30 November 2003

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Onderwys as instrument tot nasiebou

Die PU vir CHO se amalgasie met die UNW

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Lesse uit die onststaansgeskiedenis van die GKSA

'n Brief uit Ierland ....

PERSRUBRIEK: 
Ons enige troos

'n Besinning oor die doleansie van vroeër.... en nou

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van biblisisme.

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 1 Januarie 2004

MEDIESE ETIEK

DIE PROBLEEM VAN BIBLISISME

-   DR MC DURAND  -

Soms kan ons nie moeilike vrae vermy nie. Ons word dan gedwing om ‘n antwoord te gee. Die mediese student word gekonfronteer deur ‘n kadawer - mag hy ‘n kadawer dissekteer of nie? Die familie konfronteer die mediese praktisyn met ‘n aansoekvorm vir ‘n kremasie - mag hy die vorm invul of nie? Die transseksuele persoon konfronteer die chirurg met sy aansoek om ‘n geslagsverandering - mag hy instem of nie? ‘n Egpaar konfronteer die arts om voorbehoeding voor te skryf - mag hy voorbehoeding voorskryf of nie?

‘n Persoon wat meen dat morele antwoorde spontaan deur intuïsie verkry kan word, sal geen probleem hê om uit sy vuis ‘n "Ja" of ‘n "Nee" te antwoord nie. Só ‘n persoon sal geen verdediging van sy antwoord kan gee nie, en hy sal ook nie meen dat ‘n verdediging van sy antwoord nodig sou wees nie. ‘n Persoon wat spontaan tussen reg en verkeerd wil onderskei sal trouens selfs verras wees indien hy gekonfronteer word met sy antwoord.

Hierdie artikel gaan nie oor die persoon wat spontaan tussen reg en verkeerd wil onderskei nie. Hierdie artikel handel oor ‘n ander tipe persoon. Hierdie artikel gaan oor die persoon wat wel aan God se Woord gehoorsaam wil wees - of ten minste wil lyk asof hy aan God se Woord gehoorsaam wil wees. Dit gaan hier om die persoon wat ten minste weet dat die verdediging van ‘n morele saak slegs uit die Skrif gedoen mag word. Want dit is juis hier wat ons met die probleem van die biblisisme te doen kry.

Wat is biblisisme? Biblisisme kom voor wanneer daar op ‘n eiesinnige manier met die Skrif omgegaan word. Wanneer daar met die Skrif omgegaan word sonder om ag te slaan op wat die Kerk bely en wat die Kerk leer. Biblisisme gaan om iets uit die Skrif te kry om jou siening te verdedig - sodat dit ten minste klink asof jy aan die Here gehoorsaam is.

In die mediese praktyk werk biblisisme gewoonlik só:

Die biblisis neem ‘n besluit (dikwels uit gewoonte, of selfs onder druk van sy omstandighede, portuurgroep, of kultuur) wat reg en verkeerd is (byvoorbeeld dat kremasie, aborsie, eutanasie, disseksie van kadavers, orgaanoesing, ensovoorts reg - of selfs verkeerd is). Wanneer hierdie biblisis sy besluit oor reg en verkeerd moet verdedig, weet hy dat hy iets uit die Skrif moet kry om hom te verdedig. Anders sal die konfrontasie moontlik net toeneem. Dikwels word die biblisis deur gelowiges in die Kerk oor sy verkeerde besluite gekonfronteer.

Die biblisis doen dan naarstigtelik in die Skrif ‘n soektog na gedeeltes om sy siening te verdedig. Hy soek na Bybel gedeeltes om redes vir sy besluite te bied (en nie om uit die Skrif besluite te neem nie). Die besluit kom eerste en die redes kom tweede. Hierdie rasionalisering van reeds geneemde besluite sal aanhou totdat die kritici tot bedaring gebring is.

In die mediese praktyk kan gewoonlik weggekom word met verwysings na algemene beginsels uit die Bybel. Iemand wat reeds besluit het om eutanasie te doen, sal vorendag kan kom met die beginsels van naasteliefde of die sogenaamde goue reël van Matteus 7:12 (Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete). Sodoende word die Woord van God gereduseer tot ‘n paar inhoudlose abstrakte morele reëls. Wanneer die biblisis nie toegelaat word om met sy rasionalisering weg te kom nie, is daar ‘n paar ander Bybeltekste wat vir hom ‘n ontsnaproete kan bied. ‘n Gunsteling ontsnaproete is gewoontlik Johannes 8:7 (Maar toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy Hom opgerig en vir hulle gesê: Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi). Wanneer geen van die biblisistiese rasionaliserings geslaag het nie, is die laaste uitweg nog die sogenaamde verdraagsaamheidsontsnaproete van Romeine 14:5 (Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees).

Hierdie vorme van biblisisme word in sy spore deur die suiwer leer van die Kerk gestuit. Die leer van die Kerk laat nie rasionalisering uit die Bybel toe nie. Werke van eie goeddunke is nie gehoorsaamheid nie. Die leer van die Kerk bevestig die Skriftuurlike beginsel dat ‘n goeie werk is daardie werk wat uit geloof is, tot die eer van God is, nie uit eie goeddunke nie, en volgens die Wet van die Here is (Sondag 33 Heidelbergse Kategismus). Die leer van die Kerk ontmasker die biblisis se bluf-gehoorsaamheid.

Die onderskeid tussen reg en verkeerd kan slegs vanuit die Skrif spruit. Die Skrif dwing die gelowige tot morele besluite. Die Skrif laat nie vroomklinkende biblismes toe nie. (Vergelyk Israel wat die verskoning van hulle besorgheid oor hulle vroue en kinders voorhou as rede om nie die beloofde land in te trek nie - Numeri 14:3). Gehoorsaamheid is die oordenking en die uitvoering van God se Wet. Biblisisme keer die proses om. By biblisme gaan dit nie om die besluite, keuses en handelinge wat voortkom ná die besinning van die Wet van God nie. Maar dit gaan om die besluite, keuses en handelinge wat alleen maar beskerm word deur ‘n klomp aanhalings uit die Skrif.

Derhalwe moet ons die versoeking van biblisisme vermy. Ons moet ons oopstel vir die belydenisskrifte van die Kerk - ook Sondag 33 van die Heidelbergse Kategismus. Ons sal dan weet om ons rustig te laat onderrig deur die Wet van die Here om te onderskei tussen reg en verkeerd. Sodoende sal ons saam met die Kerk van alle eeue die Wet van God toelaat om deur ons besluite, keuses en handelinge sigbaar te word.

Daarom sal ons die dooies begrawe - en nie kremeer, dissekteer of organe uit hulle verwyder nie. Daarom sal ons nie die ongeborenes abborteeer en nie die sterwendes (voortydig of op versoek) doodmaak nie.