Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Norme vir samebinding en vir verdelingslyne

AKTUEEL: Geloftedag of Versoeningsdag? 

SKRIFOORDENKING:
2 Konings 2 God is heilig....

Die drie formuliere van eenheid

Deformasie? 'Nuwe reformasie?' Reformasie? 

Die stryd rondom die suiwer Psalmboek

26 Oktober 2003: Dag van beslissing in die GKSA

GKSA-Middestadbediening ....

KERKLIKE JOERNAAL: 
Hersiening en herdruk van 1936-Totiusberyming Psalmboek

Skrifhantering in die brandpunt

Mededeling van kerkraad "Die Kandelaar", 30 November 2003

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Onderwys as instrument tot nasiebou

Die PU vir CHO se amalgasie met die UNW

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Lesse uit die onststaansgeskiedenis van die GKSA

'n Brief uit Ierland ....

PERSRUBRIEK: 
Ons enige troos

'n Besinning oor die doleansie van vroeër.... en nou

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van biblisisme.

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 1 Januarie 2004

OPVOEDING EN ONDERWYS

ONDERWYS AS INSTRUMENT TOT NASIEBOU

BRANDPUNT: ARTIKEL IN DIE KERKBLAD, NOVEMBER 2003 (BL 8 & 9)

- FP (Frank) van Niekerk - Pretoria-Rietvallei -

Volgens die Manifesto Values, Education and Democracy word die fundamentele waardes waarop die huidige onderwysbeleid gevestig is, as volg aangedui:

demokrasie

sosiale geregtigheid en gelyke beregtiging

gelykheid

nie-rassisme en -seksisme

ubuntu (menswaardigheid)

oop gemeenskap

aanspreeklikheid (verantwoor-delikheid)

regstaat (rule of law)

respek

versoening

Minister Asmal verklaar in sy voorwoord: "Here was born an idea, a South African idea, of moulding (vormgieting) a people from diverse origins, cultural practices, languages, into one, within a framework democratic in character, that can absorb, accomodate and mediate conflicts and adverserial interests without oppression and injustice."

Ten spyte van bogenoemde word daar egter onomwonde verklaar: "More than merely being a question of saying sorry, it (reconcilliation) requires redress (regstelling) in other, even material ways too."

Minister Asmal verklaar verder in die Overview: "The newe curriculum expresses our idea of ourselves as a society and our vision is to how we see the new form of society realised through our children ..."

Die Hersiene Nasionale Kurrikulum (R-9) is deurgaans met die oog op eenwording saamgestel. Daar is op 'n baie deeglike en weldeurdagte wyse doelwitte (uitkomste) daargestel om op 'n subtiele wyse die ontvanklike kinderpsige te gebruik om blywende resultate te vestig.

Op die oog af lyk baie van hierdie elemente en uitkomste heel onskuldig. Daar word egter stellings gemaak wat vir die Christenkind erg aanvegbaar mag wees. Weens sy onskuld, kinderlike vertroue en openhartigheid is hy egter vatbaar vir die talle negatiewe en kritiese gevolgtrekkings ten opsigte van dieperliggende konsensieuse beginsels. Die doel is om die kind deur kritiese samesprekings in groepverband en onder die subtiele leiding van die fasiliteerder, in die gewenste rigting te stuur. Konsensus word nagestreef.

Op hierdie wyse word die norme en kulturele oortuigings wat geld vir ouers, gesin, volk, woning, woonbuurt, die mate van welstand of gebrek daaraan en die godsdienstige oortuigings, krities onder die loep geneem en met die omstandighede van die agtergeblewenes en historiese "benadeeldes" vergelyk.

Aanvanklik heel onskuldig en interessant vir die deelnemers. Weldra egter, soos daar deur die grade gevorder word, word daar meer aanvegbare onderwerpe bygebring. Die handboeke wat in gebruik is, bevat skokkende leerstof.

Omdat die Christelike oortuiging en benadering nie bygebring mag word nie, bevind die kind sowel as die Christenonderwyser hulleself weerloos en verward in die milieu van diverse kulture, godsdienstige oortuigings en rituele. Hulle kan en mag hul nie beroep op hul persoonlike Christelike belydenis nie, maar is verplig om in groepsverband elke ander godsdienstige of ateïstiese sienswyse te bestudeer.

Juis op hierdie gevaarlike terrein word die kind se bemeestering en entoesiastiese samewerking van die uitkoms geassesseer en gedokumenteer. Die resultaat berus op die leerder se entoesiastiese meelewing en meedoen aan die ander godsdienstige en kulturele gebruike soos sang, dans, afgodsmaskers, geloof in voorvadergeeste, Moeder Natuuraan-bidding, inisiasierituele, ensovoorts.

Die leeruitkomste is verpligtend en geen leerder mag hom op grond van geloofsoortuiging daarvan verskoon nie,

Dit is 'n baie hoë prys wat ons deur ons verbondskinders vir "ongeregtighede" van die verlede moet betaal. Ons kinders word op die altaar van eenvormigheid geoffer.

Dieselfde metodiek word deurgaans in al die leerareas gevolg. Om egter die waarheid van bogenoemde stelling te bewys, kan daar na die leerarea Kuns en Kultuur verwys word: In die Overview word die volgende definisie aangebied: "The Arts and Culture Learning Area embraces the spiritual, material, intellectual and emotional aspects of different African indigenous arts and culture practices."

Kuns en Kultuur moet bydra tot nasiebou en daar moet saam gebou word aan ons gedeelde nasionale erfenis om'n nuwe nasionale identiteit te vorm en leerders voor te berei vir die lewe en 'n lewenslange leerproses - "Life-long-learning". Kuns en Kultuur dra by tot holistiese onderwys vir alle leerders. "In die verlede het die sogenaamde internasionale kulture te veel aandag geniet en die wanbalans moet nou herstel word." Aldus die Overview.

In die woordlys agter in die kurrikulumdokument van Kuns en Kultuur kom daar 'n lang lys woorde en verklarings uit verskillende Afrikastamme se stories, danse, township-speletjies ensovoorts voor. Dit het almal te doen met sang, danse, drama, gedigte en kunsontwerpe van verskillende swart stamme in Suid-Afrika. Hierdie woorde verteenwoordig elke keer die hele spektrum van kulturele gebruike. Nêrens vind ons in daardie lys enige Westerse of Afrikaner kultuurspeletjies of terminologie nie.

Kinders word vanaf Graad R, al singende en dansende, op die maat van tromslae en Afrikamusiek, subtiel voorberei vir deelname aan kulturele rituele en seremonies. Godsdienstige belewenisse word deur musikale voordragte, mimiek, maskers, kostuums en danse uitgebeeld. Daarom dan ook die klem in die Grade R tot 3 op die demonstrering van emosionele en dramatiese bewegings en sang.

Die kleuter word reeds in Graad R geleidelik van die bekende en aanvaarbare omgewing tot die onbekende en vreemde bewusgemaak, emosioneel gestimuleer en in sy reaksies begelei. Vanaf Grade 1 tot 3 word daar gereageer op fantasievoorstellings deur beweging van die liggaam, handeklap, stamp, tempo's en ritmiese liedere. Plekke en omstandighede van oorsprong van liedere en danse word bespreek. Emosies word voorgedra in respons op dramatiese gebeurtenisse. Luister en deel in verskillende kulturele ondervindinge. Sing liedere soos beurtsang (rounds) en koorsang wat gevoelens en gemoedstoestande uitbeeld.

Vanaf Grade 4 tot 9 word daar meer op detail toegespits. Leerders herken en voer passies van inheemse danse uit Afrikakulture uit, met aandag toegespits op detail:

 

"Selekteer 'n repertoir van liedere van verskeie kulturele omgewings en verduidelik in watter kulturele gebruike dit aangewend word. Verduidelik die boodskap van die lirieke en die aanwending van die liedere."

"Dramatiseer 'n kulturele ritueel, godsdienstige seremonie of sosiale fees en toon die elemente daarvan. Verduidelik die belang van die ritueel vir die deelnemers."

"Vors na, skep en bied musiek aan wat die simbolisme van die ritueel oordra."

"Demonstreer en beskryf die gebruike van die verskillende kunsstukke (maskers en kostuums) in die kulturele rituele."

Daar is 'n uiters belangrike beginsel wat ons duidelik moet verstaan. In die heidense godsdienste, soos die Afrikagodsdiens, is alle kultuuraksies soos danse en kultuurobjekte soos byvoorbeeld maskers, deel van hul godsdiens. Die stories en gedigte het hoofsaaklik te doen met hulle godsdienstige belewing en word vanuit daardie perspektief vertel. Talle Afrikastories gaan oor die skepping soos hulle dit vanuit hulle godsdienstige perspektief sien. Een begrip wat hulle lewe kan oorheers is die feit dat hulle 'n animasiegeloof huldig. Dié geloof verkondig dat daar geeste, kragte, en magte in gewone materiële dinge is wat hulle kan "toor", of hierdie dinge kan deur hulle "getoor" of gemanipuleer word.

Dit is duidelik uit hierdie steekproef van die leerarea Kuns en Kultuur dat dit 'n subtiele maar weldeurdagte en doelgerigte proses is om 'n onomkeerbare verandering in die kulturele erfenis van verbondskinders teweeg te bring. Dit is opvallend dat daar van die Christelike kultuur baie min indien enige in die leeruitkomste na vore kom. Die doel is duidelik: "the reconstruction of society".

Verder word die Woord van God vervang met die intergeloofsbenadering waarin daar geen plek gevind kan word vir Jesus, die Christus, nie.