Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Norme vir samebinding en vir verdelingslyne

AKTUEEL: Geloftedag of Versoeningsdag? 

SKRIFOORDENKING:
2 Konings 2 God is heilig....

Die drie formuliere van eenheid

Deformasie? 'Nuwe reformasie?' Reformasie? 

Die stryd rondom die suiwer Psalmboek

26 Oktober 2003: Dag van beslissing in die GKSA

GKSA-Middestadbediening ....

KERKLIKE JOERNAAL: 
Hersiening en herdruk van 1936-Totiusberyming Psalmboek

Skrifhantering in die brandpunt

Mededeling van kerkraad "Die Kandelaar", 30 November 2003

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Onderwys as instrument tot nasiebou

Die PU vir CHO se amalgasie met die UNW

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Lesse uit die onststaansgeskiedenis van die GKSA

'n Brief uit Ierland ....

PERSRUBRIEK: 
Ons enige troos

'n Besinning oor die doleansie van vroeër.... en nou

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van biblisisme.

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 1 Januarie 2004

SKRIFOORDENKING

GOD IS HEILIG  -  MOENIE SPOT MET HOM NIE

(2 Konings 2)

-  DS RE NOëTH  - WOLMARANSSTAD  -

En daarvandaan het hy (Elisa) opgegaan na Bet-el; en terwyl hy met die pad opgaan, kom daar klein seuntjies uit die stad uit wat met hom spot en vir hom sê: Gaan op, kaalkop! Gaan op kaalkop! Toe het hy agter hom omgekyk en hulle gesien en hulle gevloek in die Naam van die HERE; en twee berinne het uit die bos gekom en van hulle twee-en-veertig kinders verskeur. (2 Konings 2: 23 en 24)

 

Die gelese gedeelte uit die Skrif is een van daardie eienaardige tekste in die Bybel. ‘n Gedeelte wat sommer so terloops vermeld word. Dat wanneer ‘n mens dit lees dan wonder ‘n mens maar hoekom is dit hoegenaamd vermeld. Ons teksverse is maar twee,  en tog vertel dit ‘n hele geskiedenis. ‘n Mens sou ook kon dink dat die werk van Elisa nie armer sou gewees het sonder hierdie mededeling nie en tog is dit deel van die Godsopenbaring.

Hierdie twee verse sou ‘n mens van ‘n hele paar kante kon benader:

. ‘n mens sou kon sê dat Elisa was baie wreed en toe hulle hom spot, toe gebruik hy magte van God vir eie gewin. Hoe wreed sou Elisa dan nie gewees het nie? Hulle spot hom en hy vervloek hulle en daardie spottery kos 42 kinders hulle lewe. Twee-en- veertig kinders, omdat hulle hom geterg het;

. ‘n mens sou kon sê dat wat gebeur het nadat Elisa die kinders vervloek het, is maar net ‘n toevalligheid. Dat hulle hom gespot het, hy hulle toe vervloek het, en dan toevallig daarna kom daar twee bere uit die bos en verskeur hulle;

. of ons sou kon sê, geliefdes, volgens ons belydenis, dat die hele Skrif is deur God geïnspireer en probeer ons iets van God leer.

En dan is die vraag, maar wat openbaar God aan ons in hierdie gedeelte? Daaraan gee ons aandag in hierdie oordenking.

Ons lees van Elisa, die opvolger van Elia en dan lees ons in die Skrif heelwat van sy profetiese werk wat hy moet gaan doen. Maar sommer so, so half tussen-in, lees ons van die seuntjies wat hom spot. Hy vervloek hulle, twee bere kom uit die bos en byt hulle dood.

'n Wreedheid? ‘n Onregverdigheid? Wat sê God vir ons gelowiges vandag deur hierdie terloopse stukkie geskiedenis? ‘n Mens staan eintlik half verleë met hierdie verhaal, want net in die vorige verhaal lees ons hoe hy redding bring en nou bring hy dood.

Daardie seuntjies het met die man van God, en daarom met God self gespot, en God laat nie met Hom spot nie. Ons moet hierdie gedeelte sterk verstaan teen sy agtergrond. Ons lees dat hy na Bet-El gegaan het. In Bet-El was die gelowiges baie behep met afgode. Hulle het geen liefde vir die HERE gehad nie. Hulle het hom gelykgestel met ander gode.

Wat presies hulle met die spotwoorde bedoel het is nie duidelik nie. Verskeie verklaarders lewer verskillende teorieë. Wat wel vir ons duidelik is, is dat Elisa dit so opgeneem het dat dit God se heiligheid geskend het.

Met die woorde: Gaan (hoër) op, is die moontlikheid sterk dat hulle bedoel het: kom nog nader na ons, ons is nie bang nie. Toe, man van God, kom na ons ons wil sien wat jy kan doen!

En dan lees ons in vers 24 die antwoord op die gespot van die kinders. Nou kom Elisa en hy leer vir die mense: God laat nie met Hom en sy profete spot nie.

Twee-en-veertig kinders deur twee bere doodgebyt. Dit is ‘n gebeurtenis wat tot vandag toe nog groot opskudding sal veroorsaak. Daar is deur verskeie verklaarders gevra, maar hoe kan twee bere so baie kinders doodbyt en dan is ‘n moontlike antwoord dat van die kinders deur vrees oorval teen Bet-el se berge afgeval het.

En dit is al wat ons van die gedeelte lees. Onmiddelik lees ons weer verder dat Elisa verder getrek het. Asof die skrywer van 2 Konings iets probeer weergee van so gou God met sy spotters kan afreken. Hulle kom, spot hom en gaan ten gronde.

As ons die boodskap van hierdie oordenking moet saamtrek in een sin dan sou ons kon sê: God is heilig, Hy laat nie met Hom spot nie.

Dink maar hoeveel gebeurtenisse en geleentheid is daar vandag waar ons as mense met God spot. Hoe ons dit wat heilig het al verontheilig het. Hoe ons God se heiligheid misken. Nie direk nie, maar baie keer op ‘n indirekte wyse.

Om van God te weet is nie genoeg nie. Jy moet Hom in sy heilige Majesteit as lewende God ervaar. Ons moet waak daarteen om dit wat heilig is, te ontheilig. God is heilig en daarmee mag nooit gespot word nie.

Kom ons kyk maar sommer na ooglopende voorbeelde oor waar ons God in sy heiligheid spot of sy heiligheid misken:

. Kyk na die doop : doopsbeloftes afgelê voor God, maar ouers wat nie erns maak met hierdie doopsbeloftes nie.

. Kyk na die nagmaal : so ‘n heilige geleentheid, maar deur ons as mense so verontheilig omdat ons dit wil aanpas by mense en menslike voorkeure.

. Kyk na die huwelik as ‘n heilige instelling : hoe maklik word die huwelik nie verontheilig nie.

. Kyk na die bevestiging van ampsdraers : ‘n heilige roeping en dan is daar soveel laksheid.

. Kyk na die aflegging van be-lydenis : ‘n belydenis voor die heilige God en baie mense lewe asof daardie belofte nooit afgelê is nie.

. Kyk maar na die erediens : hoe ons heilige ontmoetings met God kom verontheilig het deur ons mense se manier van dinge te doen.

Dit is maar ooglopende voorbeelde van waar ons God se heiligheid nie meer raaksien nie. Konfronteer uself met die vraag: waar misken ek God se heiligheid in my lewe? Waar spot ek met die heilige God?

As u nie uit die verhaal van Elisa en die seuntjies wil leer nie, dan spot u met die heiligheid van God.

Jesus Christus leer vir die mense: wees heilig, want ek is heilig. En dan weet ons dat heilig wees beteken in die eerste plek om afgesonder te wees. Wees gereserveer vir God, afgesonder vir Hom en sy diens.

Christus het vir ons wat onheilig is, heiligheid by God verwerf terwyl ons dit nie verdien het nie. Ons het dit ontvang, sonder verdienste, uit genade. Ons is tot heilig wees uitverkore. Hoe kan ons dan onheilig lewe voor God?

Mag God ons deur sy Heilige Gees aanspoor tot ‘n heilige lewe voor Hom. Mag God u daagliks lei om heilig voor Hom en vir Hom te lewe.