|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 1 Januarie 2004
ONS ENIGE TROOS
In ROEPING EN RIGLYNE, Mondstuk van die VCHO, Desember 2003, lewer prof AWG Raath onder bovermelde opskrif die volgende "Boodskap van die Voorsitter":
Tydens Kerkraadsvergaderings word dikwels verneem dat lidmate behoefte het aan troos - die bedoeling is dan dat daar 'n groter mate van pastorale begeleiding in die prediking sal wees. Voorts word dan opgemerk dat prediking oor lering, die inhoud van die verbond en die beloftes van God goed is, maar dat die inhoud van die prediking sodanig sal wees dat die lidmate getroos kan wees, bedoelende empatie, meelwewing, ondersteuning van die kant van die kerk sal ervaar.
Dit is nie vreemd dat gelowiges hier-die benioefte uitspreek nie - elke dag maak die media ons bewus van die geweld in ons samelewing, moord op weerlose mense, dalende rentekoerse sodat bejaardes nie van die rente-inkomste van hul beleggings kan leef nie; jeugmisdaad en morele verval wat die sedelike gronde van ons samelewing ondermyn; huweliksverval wat met rasseskrede toeneem; gesinsgeweld wat 'n daaglikse verskynsel word.
Die oproep om troos is dus vir baie mense 'n versugting van die behoefte om ondersteuning en persoonlike meelewing van die kant van die kerk omdat hulle dit nie meer in die samelewing ervaar nie of vanweë die omstandighede van die tyd as 'n groor behoefte beleef. Dalk juis teen die einde van die jaar bring die helder liggies, kersbome en oproep van besig-hede om geskenke vir geliefdes te koop die behoeftes van mense in 'n sentimentele sin sterk na vore. Dit is hierdie klem op sentiment wat vir baie mense nie die behoefte aan troos bied wat blywend kan ondersteun en begelei nie.
Die geleentheid om die vraag na die ware (of enigste) troos te beantwoord is juis in tye wat ons tans in ons vaderland ervaar en in die "kerstyd" van die jaar die mees geleë omdat dit die fokus volledig op die troosryke koms van Christus na die wêreld plaas, maar dan nie eerstens met die oog op die sentimentele vertroosting waarop ons dikwels hoop nie, maar in 'n véél meer omvattende sin. Die Griekse woord wat vir vertroosting gebruik word, sluit ook in bemoediging, empatie, ondersteuning - maar dan ook vermaning en reghelp!
Reeds in die Ou Testament vind ons die boodskap van troos in 'n verskeidenheid van uitdrukkings: Moses roep die bevreesde volk toe dat hulle nie moet vrees nie (Eks 14:13; 20:20); Elia vertroos die weduwee van Sarfat tydens 'n erge hongersnood (1 Kon 17:13); Die profetiese prediking van die profete (Sef 3:16; Hag 2:5) - vertroosting en bemoediging word 'n werklikheid wanneer vrees oorkom is en op God se hulp en beloftes gesteun word.
Ook Martin Luther worstel met die troosvraag, naamlik hoe hy heilig en geregverdig kan lewe sodat hy 'n genadige God kan vind en word gekonfronteer met die Roomse antwoord op die vraag na troos , naamlik die afkoop van sondes en die doen van goeie werke. Vir Luther kon dit nie ware troos bied nie, sodat die soeke na troos vir Luther uiteindelik bring by die insig van die geloof alleen en nie goeie werke nie; slegs genade en nie verdienste nie; alleen die eer van God en nie menslike ampsdraers of seremonies nie.
Dit bring Luther by die insig van die wonder van die vertroosting van Christus en die uniekheid van die Christelike godsdiens.As ons vanuit die Joodse godsdiens gedink het, of ook enige van die ander godsdienste vandag, selfs indien ons ons in die kring van die intergeloofsgodsdiens bevind het, sou hulle tevrede gewees het met die antwoord dat ons aan God of 'n godheid behoort - juis omdat talle mense vandag verskillende gods-dienste bloot sien as verskillende maniere om by dieselfde godheid uit te kom. Volgens die Christelike godsdiens is dit 'n leuen !!!!!!
Daar is net één troos en één waarheid: die feit dat ek aan Christus Jesus behoort is die enigste en algenoegsame troos in lewe en in dood, 'n troos waarnaas daar geen ander troos nodig of selfs denkbaar is nie. Om aan Christus te behoort beteken dat daar vir my berusting gekom het omdat ek alle dinge in die lewe en die dood in die lig hiervan beoordeel.
Dit beteken nie dat die gelowige sy oë sluit vir die werklikhede van die lewe nie - ons besef ons ellende wat verbonde is aan liggaam en siel; ons weet dat ons lewe hier op aarde in die dood eindig; ons weet ook dat ons die prooi van die sonde is en doem waardig voor God staan.
By dié wete kan ons steeds bely: My enigste troos teenoor die vernietigende oordeel van God; in die aangesig van dood en ellende; in die huidige tydsgewrig van doodslag en moord is dat ek met liggaam en siel aan my getroue Saligmaker Jesus Christus toebehoort.
Geliefdes, laat ons dus weet: wanneer hunkering na troos in tye van benoudheid by ons opkom; wanneer die vonkelende liggies slegs uiterlike sentimentele troos aanbied, dat ons enigste troos véél dieper weggelê is - daar waar mot en roes nie kan bykom en waar diewe nie kan inbreek en steel nie.