|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 1 Januarie 2004
"TRANE STORT EK IN MY KLAGTE"
'n Besinning oor die doleansie van vroeër ... en nou
- DR JAE (KOOS) ADENDORFF - AP KERK GERMISTON -
"Trane stort ek in my klagte"
‘n Besinning oor die doleansie van vroeër … en nou
- DR JAE (KOOS) ADENDORFF - AP KERK GERMISTON -
Om te treur is aan die volk van God nie onbekend nie – ook nie die treur oor die toestand van die Godsvolk nie. Om een voorbeeld te noem: Nadat Nehemia verneem het van die groot ellende waarin die oorgeblewenes in Juda verkeer het en dat die muur van Jerusalem stukkend lê en die poorte verbrand is, lees ons sy reaksie: "En toe ek hierdie woorde hoor, het ek gesit en ween, en ek het dae lank getreur" (Neh 1:4).
Die latynse woord doleo is ‘n goeie keuse om hierdie treurtoestand van die Godsvolk uit te druk. Letterlik beteken dit om pyn te ervaar. In geestelike sin beteken dit om te treur of te kla. Hierdie woord het in die Nederlandse kerkgeskiedenis ‘n belangrike rol gespeel. Dit kan vrugbaar wees om hierdie geskiedenis weer ‘n slag van nader te bekyk met die vraag: Watter lesse is daar te leer met die oog op die huidige kerklike situasie in Suid-Afrika?
A DIE DOLEANSIE VAN GISTER
1. Dolerend voor Dordt
1.1 Oorsig oor die stryd
Die jare voor die vergadering van die belangrike Sinode van Dordrecht in 1618/19 is gekenmerk deur die stryd tussen die Remonstrante en Kontra-remonstrante. Hierdie stryd het ‘n voorgeskiedenis gehad. Die erasmiaanse humanisme het via Coornhert ‘n groot invloed in kerklike kringe gekry. Hy het ‘n soort praktiese Christendom bo alle kerklike verdeeldheid gepropageer. Alhoewel hy nie self tot ‘n kerk behoort het nie, het sy idees ingang onder gesagsdraers en ‘n predikant soos Coolhaes gekry. Hierdie gedagtes het gou tot ‘n teenstelling gelei tussen diegene wat leervryheid voorgestaan het en diegene wat hulle aan die belydenis van die kerk gebonde gevoel het.
In hierdie verdeelde situasie het die Leidse professor Jacobus Arminius gemoedere verder in beroering gebring met sy leerstelling aangaande die uitverkiesing. Hy het geleer dat God op grond van die vooruitgesiene geloof van die mens hom tot die ewige lewe uitverkies. Die uitverkiesing is dus afhanklik van die goeie keuse van die mens. Arminius is heftig bestry deur sy kollega aan die Leidse universiteit, Franciskus Gomarus. Volgens hom is die geloof nie die grond nie, maar die vrug van die verkiesing.
Na die dood van Arminius in 1609, het Wtenbogaert die leier van die Arminiane geword. Op ‘n geheime vergadering wat Wtenbogaert met ongeveer 40 geesgenote van Arminius gehou het, is ‘n akte opgestel – ook ‘n remonstransie genoem – waarin hulle standpunt uiteengesit is. In vyf artikels is hulle leer saamgevat. Die kern daarvan is: die verkiesing uit vooruitgesiende geloof, die algemene versoening en die vrye wil van die mens. In ‘n slotartikel het hulle ook die gesag van die staat oor die kerk bely. Hierdie remonstransie is later deur Wtenbogaert aan Oldenbarnevelt, leier van die Staten-Generaal, oorhandig.
Die Staten-Generaal het ‘n resolusie uitgevaardig dat by die proponentseksamen daar in die Belydenis nie verder gegaan mag word as die vyf artikels van die remonstransie nie. Teen hierdie aanmatigende optrede van die owerheid het die kerke heftig geprotesteer. Ses Gereformeerde predikante stel in 1611 ‘n kontra-remonstransie op. Daarin word die gereformeerde leer oor die uitverkiesing in sewe punte behandel en die Staten-Generaal versoek om die saak deur ‘n nasionale sinode te laat besleg. Die owerheid het egter sy standpunt gehandhaaf dat slegs die vyf artikels van die Remonstrante erken word.
Die situasie in die land het toe só ontwikkel: Waar plaaslike owerhede Remonstrantsgesind was, is predikante wat aan die belydenis getrou wou bly, vervolg. So word die gereformeerde predikant Hillenius in Alkmaar deur die magistraat ontslaan en vervang deur die ketterse predikant Venator. Hillenius en getroue lidmate het die eerste "Dolerende kerk van Koedijk" gevorm. Die situasie het verder versleg toe die Staten-Generaal in 1614 ‘n aantal besluite geneem het waarvolgens predikante verbied is om oor leergeskille te preek. Talle Gereformeerde predikante is afgesit en vervang met Remonstrante. Al meer het gemeentelede wat aan die belydenis getrou wou bly bande met die Remonstrante verbreek . Hulle het eredienste in naburige gemeentes bygewoon waar Gereformeerde predikante die Woord bedien het. In dié proses het hulle dikwels aansienlike afstande te voet in wind en weer en deur stof en slyk afgelê. As gevolg daarvan is hulle gou van Remonstrantse kant die skeldnaam "slijkgeusen" toegevoeg. Hulle het hulleself egter dolerende kerke genoem.
Hierdie onbehaaglike situasie het dramaties verander toe Prins Maurits, die stadhouer, hom aan die kant van die Kontra-remonstrante geskaar het. Om die onverkwiklike stryd tussen Remonstrante en Kontra-remonstrante, wat gedreig het om op ‘n burgeroorlog uit te loop, te besleg, het hy ‘n nasionale sinode gelas. Dié sinode het plaasgevind in Dordrecht in die jare 1618-1619. Die geskiedenis van die sinode is bekend: Die Remonstrante is in die ongelyk gestel en die "Vyf Artikels teen die Remonstrante" (die Dordtse Leerreëls) is aanvaar as standpunt van die sinode. Verder is die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus saam met die Dordtse Leerreëls as belydenisskrifte van die gereformeerde kerke vasgestel.
1.2 Kern van die stryd
Wat is die kernsake waaroor dit in hierdie eerste doleansie gegaan het? Om ‘n deeglike antwoord op die vraag te gee, sal ‘n mens eintlik al die ingewikkelde faktore wat ‘n rol in die stryd gespeel het, in aanmerking moet neem. Die interne politieke stryd tussen die republikeinsgesinde Oldenbarnevelt en prins Maurits, eksterne politieke invloede soos dié van koning Jacobus I van Engeland en dergelike meer sal aandag moet ontvang. Dit sou hierdie referaat egter te omvattend maak. Daarom moet ons ons tot enkele sake beperk.
1.2.1 Die binding aan die belydenisskrifte
Dit is bekend dat voorlopers van die Remonstrante soos Coornhert en Coolhaes gekant was teen die ondertekening van die belydenisskrifte en niks wou weet van leertug nie. Later sou die Remonstrante ook beswaar hê teen die binding aan die belydenisskrifte. Hierdie beswaar het natuurlik uit die probleme wat hulle met die inhoud van die belydenisskrifte gehad het, gespruit. Met sommige leerstukke kon hulle nie saamstem nie. Wat hierdie leerstukke was, word nogal duidelik wanneer ‘n leerboekie wat in Gouda verskyn het, bestudeer word. Dit is waarskynlik teen die Heidelbergse Kategismus opgestel. Daarin is belangrike leerstukke soos die erfsonde, die regverdiging deur die geloof, die versoening deur Christus en andere, weggelaat.
In die lig van bogenoemde is dit te verstane dat die Remonstrante aangedring het op ‘n sinode waarop die belydenisse hersien moet word. Belangrik is hulle standpunt dat die lede van die sinode vir die duur van die sinode losgemaak moet word van die band aan die belydenisskrifte.
Teenoor hulle siening het die Kontra-remonstrante die standpunt gehandhaaf dat die binding aan die belydenisskrifte nie losgelaat kan word nie, ook nie tydens ‘n sinode wat oor die Skriftuurlikheid van die belydenisskrifte moet oordeel nie.
1.2.2 Die betekenis van die kerkorde
Die stryd in die Nederlandse kerk in hierdie tyd is ook gekenmerk deur twee uiteenlopende standpunte oor die verhouding kerk-staat. Die owerheid het dit as hulle Goddelike roeping gesien om sowel die politieke as die kerklike mag uit te oefen. Daarom wou hulle staatskerkordes instel wat uitdrukking aan hulle ideaal sou gee. Kernsake wat die staat wou reël is die benoeming van predikante en die uitoefening van leertug. Met hierdie reëling ten opsigte van die staat-kerk verhouding het die Remonstante vrede gehad.
Hierteenoor was die Kontra-remonstrante se ideaal dat die kerk vry moet wees van staatsinmenging om self oor geestelike sake te kan beslis. Hulle het ’n noue samehang gesien tussen "een zuiver corpus doctrinae, belichaamd in de formulieren van enigheid, en een gereformeerd corpus disciplinae, belichaamd in een kerkorde, die aan de kerk de vrijheid van haar geestelijk regiment waarborgde" (Van’t Spijker 1994:26). ‘n Kerkorde moes aan hierdie ideaal uitdrukking gee.
Verskeie sinodes het dan ook probeer om hulle kerkordes deur die staat aanvaar te kry – sonder sukses. Die owerheid was bevrees dat die kerk deur middel van ‘n eie kerkorde ‘n staat binne die staat sou word. So was die kerk dan vir jare uitgelewer aan staatsoorheersing. Daardeur is die weg gebaan vir die valse leer om ‘n vastrapplek in die kerk te kry.
In die lig van bogenoemde kan die betekenis van die Dordtse Kerkorde, ook vir die Suid-Afrikaanse situasie, nie oorskat word nie.
1.2.3 Die hart van die saak
Van’t Spijker is reg as hy beweer dat die hart van die konflik in die Nederlandse kerke "de prediking van de genade van God voor schuldige, doodschuldige mensen" is (1994:26). In sy genade kies God sekere mense tot die ewige lewe uit en aan hulle skenk Hy die gawe van geloof en bekering. Die regverdiging deur die geloof en die genadige verkiesing kan dus nie van mekaar losgemaak word nie. Die leer van die uitverkiesing is dus bedoel tot troos van gelowiges. Dat dit ‘n twispunt geword het, is strydig met die bedoeling van die Skrif asook van kerkvaders soos Augustinus en Calvyn.
Die belyers wat aan die vrye genade van God soos geopenbaar in sy Woord wou vashou, is verdruk deur Arminiaanse kerkbesture en Libertynse magistrate (Rullmann 1917:223). Dit het hulle genoop om in doleansie te gaan.
2.Dolerend in die 1880’s
Wanneer oor doleansie gepraat word, word meesal (indien nie uitsluitlik nie) gedink aan die doleansie van die 1880’s. Wat dit was, word deur d’Assonville raak beskrywe: "Die Doleansie was die spontane verset van kerkrade en lidmate in die Hervormde Kerk in Nederland teen die kerkreglemente waardeur die Modernisme die oorhand gekry het" (1987:11).
2.1 Oorsig
Agtergrond
In die Doleansie van die 1880’s het die staatsoorheersing van die kerk wéér ‘n sentrale rol gespeel. In 1816 het koning Willem I die "Algemeen reglement voor het Bestuur der Hervormde Kerk van het Koninkrijk der Nederlanden" uitgevaardig. Hierdie reglement is hoofsaaklik deur Janssen, eens Napoleon se raadsman, opgestel. Daarvolgens het die Hervormde kerk ‘n hiërargiese bestuurstelsel gekry. Die hoogste gesag het in die sinode gesetel. Onder die sinode sou provinsiale en klassikale besture sake reël. Die plaaslike bestuur sou steeds as "kerkraad" bekend staan. Die "hoëre besture" is deur die staat benoem. Met die invoer van hierdie reglement is die Dordtse Kerkorde afgeskaf.
Ten opsigte van die leer van die kerk is bepaal dat elke proponent moes beloof om hom te hou aan "de leer, welke overeenkomstig Gods Heilig Woord in de aangenomen formulieren van enigheid der … kerk is vervat" (Berkhof en De Jong 1973:265). Die woord "overeenkomstig" is verstaan as "in zoverre zij overeenkomt met" (Kok en Van der Waal 1971:39). Met hierdie bepaling is die deur vir leervryheid geopen.
Met bogenoemde is die twee kernsake waaroor dit tydens die Doleansie sou gaan, aangedui, te wete ‘n hiërargiese kerkbestuur (sinodokrasie) en leervryheid.
‘n Toenemende vrysinnigheid het gou die kerklike lewe begin oorheers. d’Assonville (1992:194) noem die volgende aspekte van ‘n nuwe modernisme wat na vore gekom het (en van die dinge klink so bekend!):
"Darwin se Ewolusionisme kom in die plek van Bybelse waarhede.
Kinders word gedoop in die naam van Geloof, Hoop en Liefde.
God word slegs as ‘n Opperwese aanbid.
Die wonders van die Bybel word geloën.
Ook die geestelike wonder, die wedergeboorte, word verwerp.
Die skeppingsgeskiedenis word as dwaasheid beskou.
Die sondeval word as tradisiegeloof verwerp.
Die godheid van Christus word bevraagteken."
‘n Stroom van beswaarskrifte is ingedien, maar konsekwent deur kerkbesture afgewys. Veral twee persone kom na vore wat as kampvegters vir die Bybelse regsinnigheid groot invloed uitgeoefen het, te wete Groen van Prinsterer en Abraham Kuyper. Hulle het die valse hiërargie afgewys en die koningskap van Christus in sy kerk sterk beklemtoon. As redakteur van die weekblad "De Heraut" het Kuyper veel gedoen om lidmate na die Skrif en die belydenis terug te lei.
Doleansie in Amsterdam
In die kerklike stryd het die gemeente Amsterdam ‘n belangrike rol gespeel. Daarom val die fokus nou eers daar.
Op 10 Augustus 1870 lewer Kuyper sy intreepreek in die Nieuwe Kerk te Amsterdam. Daarmee het die vrymaking van die kerk in dié stad ‘n kragtige stimulus ontvang. Hy sou hom, deur woord en geskrif, eers as leraar en later as ouderling, steeds beywer vir die reformasie van die kerk. Reeds voor sy koms het ‘n aantal ouderlinge hulle teen die vrysinnige preke van sekere leraars verset. Bekend is die optrede van ouderling G Ruys wat na ‘n preek van ds FWB van Bell opgestaan en die gemeente toegeroep het: "Als ouderling der Hervormde gemeente verklaar ik aan de vergadering, dat de leer welke die man zoo even verkondigd heeft, is een leugenleer, niet uit God maar uit den duivel" (Rasker :175). Toe ds. PH Hugenholtz op 18 April 1870 in ‘n Paaspreek die liggaamlike opstanding ontken het, het die kerkraad daarna verklaar dat dit in stryd was met sy proponentsbelofte. Twee ouderlinge, J Magré en B Poesiat, het na die Paaspreek van ds. Hugenholtz op 9 April 1871 sy afsetting geëis. Die klassikale bestuur het dit egter afgewys. Hierna het sewentien ouderlinge besluit om ‘n skrywe aan die gemeente te rig waarin hulle ernstig beswaar gemaak het teen die leringe van die moderne predikante. Hulle het verklaar "dat wij – zooveel ons ambt dit toelaat – ons voortaan zullen onthouden van godsdienstige verrigtingen door moderne predikanten, - dat wij geene hunner kerkredenen meer zullen aanhoren en bij de bediening der sacramenten niet zullen tegenwoordig zijn" (Bouma 1986:14).
Die stryd teen die vrysinnige predikante in Amsterdam sou via die aannemingskwessie op die spits gedryf word. In 1878 is art. 38 van die kerkreglement sodanig gewysig dat verskil van geloofsoortuiging en van die gereformeerde belydenis nie langer rede was om ‘n katkisant vir aanneming af te wys nie. Waar ‘n kerkraad dit tog sou doen, kon die katkisant eenvoudig in ‘n buurgemeente met ‘n vrysinnige dominee aangeneem en bevestig word. Al wat sodanige katkisant nodig gehad het, was ‘n getuigskrif van sy eie kerkraad aangaande sy sedelike gedrag. In 1885 het die kerkraad van Amsterdam geweier om katkisante van moderne predikante aan te neem. Daarop het die katkisante getuigskrifte aangevra om elders belydenis af te lê. Die kerkraad het hulle hiertoe bereid verklaar indien die katkisante skriftelik sou aantoon of dit hulle bedoeling is om "den Heere Jezus Christus te belijden als den eenigen, algenoegzamen Zaligmaker, die overgeleverd is om onze zonden en opgewekt om onze rechtvaardigmaking" (Rasker 183). Die vrysinnige katkisante wou nie aan hierdie voorwaarde voldoen nie, waarop die kerkraad geweier het om die getuigskrifte af te gee. Die katkisante het hulle eers op die klassikale bestuur en later op die provinsiale bestuur beroep. Laasgenoemde het die kerkraad gelas om die getuigskrifte binne ses weke af te lewer. Die kerkraad het hom op sy beurt op die algemene sinodale kommissie beroep, wat dit as nie-ontvanklik verklaar het. Die ASK het die kerkraad egter ook gelas om die getuigskrifte binne ses weke te oorhandig. Daartoe was die kerkraad egter nie bereid nie.
Die kerkraad het konflik met die hoëre besture verwag. Daarom het hulle maatreëls geneem om die kerklike eiendomme veilig te stel. ‘n Wysiging in die reglement vir die kommissie van kerkmeesters, wat belas was met die beheer oor kerklike eiendomme, is op voorstel van dr FL Rutgers aangebring. Dit het bepaal dat, indien die kerkraad of ‘n deel daarvan ooit vanweë sy trou aan God se Woord en die belydenis geskors word, die kerkmeesters dié kerkraad as die enigste wettige sou beskou en die eiendomme net tot sý beskikking sou stel.
Op 4 Januarie 1886 is die kerkraad se vrese bewaarheid. Op 'n spoedvergadering van die klassikale bestuur is besluit om die 80 kerkraadslede wat vir die wysiging van die beheerreglement gestem het, te skors. Verder het die klassikale bestuur die gevraagde getuigskrifte oorhandig. Hierdie skorsing het simpatie met die geskorstes in die res van die land ontlok, en die doleansie ‘n groot stoot gegee. Op 1 Julie 1886 het die provinsiale kerkbestuur be-sluit om 75 van die 80 kerkraadslede van hulle ampte te onthef. Na ‘n reeks van apélle is die afsetting van die 75 kerkraadslede tydens ‘n sitting van die sinode op 1 Desember 1886 bevestig.
Op ‘n vergadering gehou 16 Desember 1886 het die afgesette kerkraadslede hulleself gekonstitueer as die "wederopgetreden wettige kerkeraad van Amsterdam" (Rasker :186) en daarvan kennis gegee in ‘n Bericht van Reformatie. Die afwerping van die juk van die sinodale hiërargie het hulle nie as ‘n daad van afskeiding beskou nie. Hulle was nog "diezelfde aloude Kerk van Amsterdam en de kerk in het aloude historische kerkverband." Hulle moes nou as dolerende kerk optree en uit eie mid-dele hulle koste bestry.
Doleansie in ander gemeentes
In ander gemeentes het die dwingelandy van die sinodale hiërargie ook tot die afwerping daarvan gelei. Trouens, die afgesette kerkraadslede van Amsterdam was nie die eerste wat dit gedoen het nie. Die gemeente Kootwijk was die eerste gemeente wat tot doleansie oorgegaan het. Dit het só gebeur:
In Maart 1885 het hulle, na ‘n vakature van 18 jaar, hulle voorneme bekend gemaak om ‘n beroep uit te bring op die eerste kandidaat wat aan die Vrije Universiteit afgestudeer het, te wete JH Houtzagers. Dit was in stryd met artikel 7 van die reglement vir die eksaminering met die oog op toelating tot die evangeliebediening in die Nederlandse Hervormde Kerk. Hierdie reglement het die provinsiale kerkbesture belas met die taak om kandidate wat tot die evangeliebediening wou toetree, te eksamineer. Artikel 7 het bepaal dat hierdie kandidate aan een van die Nederlandse universiteite hulle graad in godgeleerdheid moes verkry het. Kandidate van die Vrije Universiteit is egter nie deur die sinode erken nie.
Aangesien die provinsiale kerkbestuur Houtzagers nie sou eksamineer nie, het die kerkrade van Voorthuizen en Nijkerk hulle bereid verklaar om as "geestelike klassis" op te tree en die eksamen af te neem. Na die afneming van die eksamen het Houtzagers die beroep in Januarie 1886 aangeneem. Approbasie is nie by die klassikale bestuur aangevra nie, maar by die kerkrade van Voorthuizen en Nijkerk as "geestelike klassis". In reaksie hierop het die klassikale bestuur op Maandag 1 Februarie 1886 besluit om die kerkraad van Kootwijk te skors. Die volgende dag het die kerkraad besluit om met die kerkverband te breek en op Sondag 7 Februarie 1886 is Houtzagers deur ds. FPLC van Lingen bevestig.
Verskeie gemeentes het Kootwijk se voorbeeld gevolg. Op 9 Februarie 1886 het ook Voorthuizen die band met die kerkgenootskap verbreek. Daarna sou Reitsum volg. In Junie 1886 het hierdie drie kerke hulle eerste klassisvergadering gehou. Weldra sou 200 ander kerke volg.
Kerke in doleansie tree in verband
Die behoefte aan kerklike kontak tussen en organisasie van die dolerende kerke is gou gevoel. Op grond van die Drie Formuliere van Enigheid as akkoord van kerklike gemeenskap tree hulle gou met mekaar in verband. Op 16 Junie 1886 het afgevaardigdes van die gemeentes Voorthuizen, Kootwijk en Reitsum byeengekom as ‘n meerdere vergadering. In Augustus word Kollum deel van die "klassis" en word ‘n vergadering te Leeuwarden gehou. ‘n Interessante aspek van dié vergadering is dat dit bygewoon word deur talle kerkraads- en gemeentelede wat op dieselfde grondslag gestaan het, alhoewel hulle nog nie met die sinodale organisasie gebreek het nie. Dit is opgevolg met ‘n soortgelyke vergadering in November 1886.
Ná hulle afsetting het die "nieuw opgetreden kerkeraad" van Amsterdam die leiding geneem met die organisering van ‘n Gereformeerd Kerkelijk Congres, wat van 11 tot 14 Januarie 1887 plaasgevind het. Die doel van die kongres was die afwerping van die sinodale hiërargie deur elkeen wat die koningskap van Christus oor sy kerk geëer het.
Op 28 Junie 1887 is die dolerende kerke deur die kerk te Voorthuizen byeengeroep tot ‘n Sinodale Konvent. Dit het in Rotterdam plaasgevind. Die vergadering het besluit op die naam "’Nederduitsche Gereformeerde Kerken’ met de toevoeging: (‘doleerende’). ‘Doleerende hierbij opgevat in den zin, dat alle onze Kerken, doleerende zijn bij den Overheid, in zoverre deze een valsch kerkbestuur tegenover ons handhaaf, en zij toch, bij de gratie Gods regeerende, gehouden is aan Gods Kerken recht te doen" (Deddens 1986:87).
In Julie 1888 het die dolerende kerke in ‘n "Voorloopige Synode" byeengekom te Utrecht. Daar het hulle besluit om die toevoeging "doleerende" te laat wegval by hulle amptelike naam aangesien dit nie die wese van die kerk raak nie, maar slegs dui op haar tydelike toestand. "Onze naam is geen andere dan: ‘Nederduitsch Gereformeerde Kerken’" (Rullmann 1917:227).
Spoedig na die Doleansie het vereniging met die kerke van die Afskeiding ter sprake gekom. Dié bespreking het ‘n groot rol gespeel op die vier voorlopige sinodes van die NGK (Utrecht 1888, Leeuwarden 1890, ‘s-Gravenhage 1891 en Amsterdam 1892). Na vele onderhandelinge vind die vereniging in Junie 1892 plaas. Die naam van die kerkverband sou wees De Gereformeerde Kerken in Nederland. Aan die regering is geensins versoek om die GKN te erken nie, maar is bloot kennis gegee van die bestaan van die GKN op grond van die Dordtse Kerkorde. En daarmee het die doleansie van die 1880’s tot ‘n afsluiting gekom.
2.2 Kernsake
Net soos by die stryd voor Dordt moet ons hier ook tot die kernsake van die Doleansiestryd deurdring. En dan ontdek ‘n mens nogal merkwaardige ooreenkomste.
2.2.1 Binding aan die belydenis
Soos met die stryd teen die Remonstrante het die binding aan die belydenis ‘n groot rol gespeel in die Doleansie. ‘n Voorbeeld sal die waarheid van dié stelling bevestig. Op 24 Februarie 1883 het die ouderlinge van die Hervormde gemeente van Amsterdam tydens ‘n byeenkoms die drie formuliere van enigheid onderteken om daardeur hulle "onverdeelde en hartelijke instemming met de Belijdenisschriften onzer Kerke" te betuig (Bouma 1986:9).
Hierdie ondertekening was ‘n reaksie op die nuwe ondertekeningsformulier vir proponente wat op 15 Januarie van daardie jaar van krag geword het. In die proponentsformulier was geen sprake meer van ‘n binding aan die gereformeerde belydenis nie.
Net die volgende belofte ten opsigte van die evangeliebediening is van die proponente gevra: "dat wij daarin overeenkomstig onze roeping met ijver en trouw zullen werkzaam zijn, en de belangen van het Godsrijk en in overeenstemming hiermede, die van de Nederlandsche Hervormde Kerk, met opvolging harer verordeningen, naar vermogen zullen behartigen" (Bouma 1986:10). Nie net word die binding aan die belydenisskrifte verswyg nie, maar selfs die Naam van die Here Jesus Christus word weggelaat!
Die dolerende kerke wou hierdie saak regstel. Die Gereformeerde belydenis het immers vir hulle "de onmisbare en onopgeefbare grondslag van het plaatselijke kerkelijke leven én van het kerkverbandelijke samenleven van de Gereformeerde kerken in Nederland" gevorm (Deddens 1986:65). Toe hulle uiteindelik met mekaar in verband getree het, het hulle dit dan ook duidelik gestel dat die belydenisskrifte die grondslag van hulle kerklike samewerking vorm.
2.2.2 Verset teen ‘n onbybelse kerklike hiërargie
‘n Mens sou die stryd van die Doleansie ook kon noem die stryd om die heerskappy van Jesus Christus as die enigste Hoof van sy kerk. Die reglement vir die bestuur van die Hervormde Kerk wat in 1816 van krag geword het, het die kerk staatskerk met ‘n hiërargiese bestuurstelsel gemaak. Hierdie kerklike struktuur en organisasie is as kollegialisties gekenskets. "Zij heeft dan het karakter van een landelijke genootschap, met een hoofdbestuur en met lagere besturen over de afdelingen" (Deddens 1986:62). Daarmee is ‘n streep getrek deur die Bybelse beginsel (soos vergestalt in die Dordtse Kerkorde) dat die plaaslike kerk volledig kerk is en Christus die enigste Hoof daarvan.
Die sinodale hiërargie wat van staatsweë op die kerk afgedwing is, is tereg gesien as ‘n sinodokrasie wat teenoor die heerskappy van Christus staan. Daar was ‘n diepe versugting om terug te keer na die Dordtse Kerkorde (DKO) wat reg laat geskied aan Christus se heerskappy. Dit was veral die denke van Abraham Kuyper en FL Rutgers wat groot invloed uitgeoefen het op die kerkregtelike beskouings van die dolerende kerke. Hulle nadenke en insigte met betrekking tot die inrigting en regering van die kerk het hulle deur middel van geskrifte met hul strydgenote gedeel. In hierdie verband kan op Kuyper se bekende publikasie Tractaat van de Reformatie der Kerken gewys word. Hy het deurgaans betoog dat die breuk met die sinodale hiërargie beteken het dat die Dordtse Kerkorde weer van krag geword het. Toe Kootwijk en later Voorthuizen en Reitsum die sinodale juk afgewerp het, het hulle dan ook teruggekeer tot die DKO.
Teenoor die hiërargiese bestuurstelsel het die dolerende kerke die soewereiniteit van Christus, wat oor en in sy kerk alleenseggenskap het, gehandhaaf. Die kerkverband het vir hulle ‘n konfederatiewe karakter gehad. "Iedere plaatselijke kerk met haar door Christus gegeven ambtelijke institutie is een complete kerk, die geen macht bóven zich heeft dan die van Christus" (Deddens 1986:65). Elke plaaslike kerk het egter die roeping om met ander kerke wat dieselfde belydenis handhaaf, in verband te tree. Hulle kom dan saam in meerdere vergaderings. Hierdie meerdere vergaderings is egter nie hoëre vergaderings nie en het ook anders as die kerkrade nie amptelike take en bevoegdhede van Christus ontvang nie. Hulle take en bevoegdhede is beperk tot dit wat hulle vrywillig ooreengekom het. Die plaaslike kerke is wel gebind aan die kerkorde en moet daarom die besluite wat deur die meerdere vergaderings geneem is, nakom.
Word vervolg met: "B. DIE DOLEANSIE VANDAG"