Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die sosialistiese bedeling

AKTUEEL:
Moslems wêreldwyd in opstand

SKRIFOORDENKING:
Ek en my huis, ons sal die HERE dien
Josua 24 : 1 - 15

BOEKBESPREKING:
DIE BYBELLENNIUM
Skrifkritiese verklaring van teks in die boek Genesis

Lotery en dobbelspel geoorloof?

Is beroepsport 'n beroep waaraan Christene vrylik kan deelneem?

"Die aarde is slegs een land en die mensdom sy inwoners"

Die Pous en die 1983 vertaling

"Are you a 'Dopper' "?

Kan ons nog praat van 'n Gereformeerde identiteit?

Reformasie van die Volkskultuur - Nodig of Noodwendig?

Die Massamens

KERKLIKE JOERNAAL: 
Is dit reg, Prof Tjaart?

Die gevolge van (kerklike) tugloosheid

Bedenklike metodes vir die insameling van Kerkfondse

Besluit Nasionale Sinode GKSA 1955, Art 247

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Beteken "Staatsakkreditering" 'n totale oorgawe aan die "wense" van die staat? Is die betekenis van "Volkseie" noodwendig "Die verafgoding van Afrikanerskap" en daarom "uit die Bose"?

Volkseie onderwys en Christelikheid

Stigting van Hans Rooseboom-Studie leningstrust

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (6)

PERSRUBRIEK: 
Dr Yolanda Dreyer se moraal oor seksuele eksklusiwiteit


'n Tiperende openbaring  van 'n Nederlandse "susterkerk" se liturgie en amptelike dienste

KOMMENTAAR: 
Word polemisering tussen gelowiges afgewys?

Evolusionisme sonder voorbehoud!?

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Is die strafreg deel van die geneeskunde?

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 4  Julie 2000

Hoofartikel

DIE SOSIALISTIESE BEDELING

Elke staat word geregeer deur wette wat afdwingbaar is. Dié wette word voorgestel en gedebatteer in die Parlement wat dit uiteindelik met meerderheidsbeslissing goedkeur of verwerp. Dis nie al nie. Daar is onderliggende faktore wat 'n rol speel wat die aard en grondslag van die staat bepaal. Dit is die lewensbeskoulike, die ideologiese basis en doelstellings wat die aandrywende motiverings vir talle wette wat ter tafel geneem word, is. In daardie sin verskil die huidige politieke bedeling met dié wat daaraan voorafgaan het. Aanvanklik het die regerende Nasionale Party in die aanhef van die Grondwet (goedgekeur op 24 April 1961) die Almagtige God as die Beskikker oor die lotgevalle van nasies en die geskiedenis van die volkere erken. Die aanhef bevat in sy opset 'n Christelik gemotiveerde politieke belydenis, 'n bewussyn van ''die verantwoordelikheid voor God en die mensdom'', onder andere, om ''die geluk en die geestelike en stoflike welvaart van almal te bevorder''.

Die bogenoemde lewensbeskoulike grondslag het in die jare van die Afsonderlike Ontwikkelingsbedeling (aanvanklik in opregte sin en betekenis) die debattering van die wetgewing 'n prinsipiële rigting verskaf, wat in die huidige bedeling in sy totaliteit verwerp is. Die staat is nou grondwetlik onderwerp aan die ideologie en stelsel van die sosialisme. Die ANC is die regerende party wat die ideologie van die sosialisme huldig, wat hy deur middel van wetgewing stelselmatig bevorder. Dié ideologie is revolusionêr en humanisties. 'n Gesaghebbende definisie van die sosialisme beskryf dit as die strewe na 'n maatskappyvorm, waarin nie die besit nie, maar die arbeid sentraal staan en waarby deur herverdeling van die opbrengste van die produksieproses en seggenskap van die gemeenskap met betrekking tot die eiendom en die gebruik van die produksiemiddels, gelyke ontwikkelingskanse vir alle lede van die gemeenskap sal bestaan. Prof mr PA Diepenhorst, ('n bekende Nederlandse akademikus), noem dit ''een stelsel dat de productiemiddelen wil brengen aan de uit de maatschappij opgebouwde staat, die tewens met de regeling der productie belast is''. Die sosialisme is wêreldwyd 'n politieke rigting, waarin die revolusievirus anti-christelik is. Daarom is 'n kritiese beskouing in die lig van die Skrif en geskiedenis dringend noodsaaklik.

In Suid-Afrika is die ANC verbind aan die marxistiese ideologie van die kommunisme. Dit betref 'n klassestryd wat deur Marx kortweg beskryf word as die vervanging van die ''kapitalistiese'' maatskappy, wat op die privaat eiendomsbesit en produksiemiddele berus, met die sosialistiese orde waarin 'n bevryde en nuwe gemeenskapsmens geluk en bevrediging sal vind. Karl Marx se sosialisme kan as utopies beskou word. Dit beloof die hemel op die aarde en verag die Goddelike opdrag om, as beelddraer en medewerker van God, die aardbodem tot die eer van sy Naam te ontwikkel, te bou en te bewaar. Die Skrif lei duidelik in die rigting van ekonomiese ontwikkeling en eiendomsbesit in verantwoordelikheid (rentmeesterskap) teenoor God. Daarom is die Bybel uitgesproke teen die vervreemding en diefstal van eiendom. Die Bybel beskerm die privaatbesit en stel hoë premie daarop. Byvoorbeeld in die gelykenis van die talente (Matt 25 : 14 - 30; Luk 19 : 11 - 27), wat Christus uit die praktyk van die lewe gebruik om 'n hoër (geestelike) betekenis daaraan te verleen. Die agtste gebod verbied alle soorte van diefstal en gewelddadige vervreemding van privaatbesit (HK, Sondag 42, V/A 110).

Dit kan op 'n bepaalde wyse plaasvind in die kapitalistiese ekonomie, deur die tendens van monopolisering, die kartel- en trustvorming waarby mags- en winsmotief 'n oorheersende rol speel (vgl Jes 5 : 8).

In die sosialistiese maatskappy, waarby die staat die hoofrolspeler is, geskied dit onder andere deur middel van onteiening soos wat tans in Zimbabwe plaasvind en, wat die boere vrees, ook in ons land kan gebeur. Die maklikste middel om eiendom te vervreem, is deur middel van 'n onbillike verhoging van belastingdruk en 'n bangmaakproses. Dit is 'n manier wat tans 'n sluipende bedreiging vir plaas- en huiseienaars is, met die oog op 'n drastiese verhoging van eiendomsbelasting en die teenswoordige vlaag van tomelose geweld.

Die staat het fondse nodig wat deur middel van belastings verkry moet word. Ten aansien daarvan het Christus aan sy dissipels en toehoorders, ook Paulus in die brief aan die Romeine, beveel om aan die keiser te gee wat hom toekom (Matt 22 : 21; Rom 13 : 6,7). Maar dit maak die owerheid se hande nie los om maar te doen wat hom behaag nie. Die Vryheidsmanifes van die ANC, wat op 26 Junie 1955 aanvaar is, dreig onder andere dat die land tussen hulle wat dit bewerk ''herverdeel'' sal word: ''Beperkings op die besit van grond op basis van ras sal beëindig word, en al die grond sal herverdeel word tussen hulle wat dit bewerk ten einde hongersnood en die behoefte aan grond uit te wis''. Dit is 'n verklaarde doelwit van die sosialistiese ideaal wat, hierbo, as die marxistiese utopia getipeer is. Dié herverdeling vind gewelddadig plaas, soos dit nou in Zimbabwe gebeur. Dit kan ook op 'n geruislose wyse plaasvind, deur belasting op eiendomsbesit sodanig te verhoog dat van dié besitters nie die bykomende las kan dra nie. Sodanige belastingdruk is onbillik omdat dit mense betref wat van hulle inkomste maksimaal benut het om 'n eie plaas of huis en haard te kan besit. Dit raak ook dié wat familiebesit geërf het. Dit betref senior burgers wat geen bykomende inkomste het om 'n toenemende belastingdruk te kan bekostig nie. Dit raak dié jong mense wat graag alles wat hulle kán, inset om 'n huis te koop en 'n verband af te betaal en vaste eiendom te verfraai met die inset van hul tyd en spaargeld. Oormatige belasting behoort daarom nie op privaat eiendom, wat dien as die enigste tuiste en hawe van sy besitter, gehef te word nie. Dan word diegene wat baie ingesit het om dit wat hulle verwerf het, swaar daarop belas terwyl diegene wat hul inkomste nie nuttig bestee en beheer het nie, niks het om hieraan te verloor nie. Dit is die teenoorgestelde van waarna, hierbo, as die bybelse beginsel van die beloning van goeie beheer en rentmeesterskap verwys is.

Die heffing en besteding van belastinggelde is 'n owerheidsverantwoordelikheid wat normatief volgens bybelse riglyne tot Gods eer behoort te geskied. Daarenteen dien dit volgens die marxistiese sosialisme om die klassestryd te besleg deur privaatbesit te herverdeel sodat daar 'n kunsmatige gelykheid tussen die teenoormekaar staande klasse, ryk en arm, in die samelewing bewerkstellig word. In die geval van die sosialisme word herverdeling dwangmatig toegepas. Dit het niks gemeen met 'n vrywillige gemeenskap van goedere by die eerste Christene, soos dit in die Bybel in Handelinge 4 : 32 vv, opgeteken staan nie.

Die Bybel leer wél die rykes om mededeelsaam te wees en dat vir die armes gesorg moet word. Dit is deur die Christelike kerk dan ook volgens bybelse norme toegepas. Daartoe dien die diakonale sorg wat in die eerste Christen-gemeente in Jerusalem met die instelling van die amp van diakens begin is (Hand 6). In die Ou Testament het God reeds sy barmhartigheidsvoorskrifte in die boeke van Moses bekendgestel. Ook het Hy deur middel van digters en profete gewaarsku om op te pas om nie die reg van die armes te krenk nie.

Dit is 'n feit wat nie verbygegaan kan word nie, dat die ontroue kerk - dit betref ook die Gereformeerde Kerken in Nederland - skuldig staan aan die ondersteuning wat aan die opkomende sosialisme in die begin van die vorige eeu verleen is. Die kerk het in baie opsigte die armes en die sosiaal ''agtergeblewenes'' laat verkommer en sodoende 'n klimaat vir 'n ontvanklikheid van die sosialistiese doelstellings bewerkstellig. Daardeur isop pragmatiese wyse die resultate van die sosialisme die Christelike kerk ingedra.

Die ANC is besig om sy sosialistiese doelstellings stuksgewys te verwesenlik. Die sentrale humanistiese gedagte van die outonome mens wat oor die vermoë beskik om 'n beter wêreld tot stand te bring en die werklike of vermeende kwaad in die samelewing uit te wis, deurtrek sy bedeling waaraan ons nou onderwerp is.

Omdat die sosialiste die instelling en die taak van die Owerheid, die roeping van die onderdane, die eiendom, gesag en vryheid nie volgens die Bybelse norme sien en aanvaar nie, kom hulle in stryd met wat die kerk bely in artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis en val hulle onder die oordeel wat aan die slot daarvan geformuleer is: ''Hierin verfoei ons die Wederdopers en ander oproerige mense en in die algemeen almal wat die owerheidsgesag en regeerders wil verwerp en die regsorde omver wil stoot, terwyl hulle die gemeenskaplike besit van goedere invoer en die eerbaarheid wat God onder die mense ingestel het, versteur.''

Die sosialisme het begin as 'n marxistiese anti-christelike religie, waarin die rasionalisme en mistiek op 'n wonderlike wyse deureengemeng is. Dit het aangepas by die praktyk van die omstandighede en versaaklik tot die pragmatiese aanname en vertrekpunt van die nut van 'n bepaalde sisteem van staatsbeheer oor die produksie en 'n onweerstaanbare leiding van die staat in feitlik alle aangeleenthede van die samelewing.

Dit word gedoen deur die mens sentraal te stel en die norme van Gods Woord te vervang met die universele verklaring van menseregte en die strewe na die een-wêreld-(heil-)staat met 'n oproep aan '' proletariërs van alle lande'' om te verenig. ®