Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 4 Julie 2000
LOTERY EN DOBBELSPEL GEOORLOOF?GEREFORMEERDE ETIEK SOOS VERTOLK DEUR PROF DR W GEESINK, VU AMSTERDAM
BOUWE VAN DER EEMS - CALVYN POSLYS, JUNIE 2000
Geesink bespreek dobbelary onder die behandeling van die 3de gebod, naamlik, die ydele gebruik van die Naam van die Here. Hy benader die positiewe sowel as die negatiewe sy van hierdie gebod.
Onder die positiewe sy bespreek hy die goeie gebruik van die lot. Die lot is n buitengewone religieuse handeling waarby God aangeroep word om n beslissing te gee oor n saak waar ons menslike oordeel tekort skiet. So n siening is n logiese uitvloeiing van die ge-loof in n God wat alle dinge bestuur en dit word ook so gesê in Spreuke 16:33 - "In die skoot word die lot gewerp, maar elke beslissing daarvan kom van die Here". Omdat heidene ook glo dat alle dinge deur gode bestuur word, vind ons hierdie praktyk ook onder die heidene (Ester 3:7; 9:24; Jona 1:7; Ps 22:19; Eseg 21:22, Hos 4:12).
Geesink onderskei drie soorte gebruik van die lot:
Die gebruik van die lot om openbaringe oor die toekoms te verkry (Num 27:21).
Die gebruik van die lot om God te raadpleeg oor twyfelagtige sake (Jos 7: 1; Sam 41:42; Lev 16:8-10).
Die gebruik van die lot om dinge te verdeel tussen twee of meer partye. Hiervan is vele voorbeelde soos onder andere die verdeling van die land onder die stamme, die verdeling van priesterdienste, die lewering van hout ensovoorts. Ook word die lot gebruik om Matthias as apostel te verkies (Hand 1:26).
In lyn met sy gereformeerde voorgangers Amesius en Voetius, sê Geesink dat die eerste twee gebruike van die lot nie meer vir die Nuwe Testamentiese Christen geoorloof is nie, aangesien ons die volle openbaring van God ontvang het, en dit wat God nie aan ons geopenbaar het nie, mag ons nie deur middel van die lot probeer bepaal nie. Indien daar onsekerheid is oor sake, dan moet ons die middele van Skrifondersoek en gebed vir verheldering van ons verstand gebruik. Onder hier-die ongeoorloofde gebruik van die lot sorteer ook die gebruik van die blinde en lukrake oopslaan van die Bybel, om sodoende n teks te vind wat n spesifieke vraag moet beantwoord.
Die gebruik van die lot om dinge te verdeel, is egter nog steeds geoorloof aangesien dit in die Nuwe Testament gebruik word en aangesien dit volgens Spreuke 18:18 ("Die lot laat die geskille ophou en maak sterkes uitmekaar") n middel is om onheilige tweedrag te beëindig. As voorbeelde van hierdie goeie gebruik van die lot word die volgende voorbeelde genoem: die verdeling van erfenis, goedere, eerbewyse, laste, arbeid, gevare by epidemies, ensovoorts, en die gebruik by die staking van stemme.
Wanneer die lot gebruik word in bogenoemde ge-oorloofde gevalle, moet dit egter aan n aantal voorwaardes voldoen:
Dit moet nie onnodiglik gebruik word nie, maar slegs in gevalle waar dit nie moontlik is om deur ondersoek van die Skrif en deur gebruik van die gesonde verstand tot n uitsluitsel te kom nie.
Dit moet as n religieuse handeling gebruik word waar daar gevra word vir n besondere uiting van God se voorsienigheid, en daarom moet almal hulle ook berus in die uitslag.
Daar mag geen bygelowigheid by betrokke wees nie.
Dit mag slegs by ernstige en belangrike sake gebruik word.
Nadat die positiewe gebruik van die lot duidelik gemaak is, is dit maklik om af te lei watter gevalle neerkom op die misbruik van die lot. Op hierdie wyse kom Geesink en sy voorgangers tot die gevolgtrekking dat alle speletjies waar die kanselement by betrokke is, soos kaartspel, dobbelspel en lotery, verkeerd is, selfs al is geld nie betrokke nie. Selfs al word dit nie eksplisiet so gestel nie, verwag die spelers tog implisiet die uitslag van die spel van God. Aangesien die lot n heilige saak is, kom dit neer op die ydele aanroep van God se Naam wanneer die lot betrek word by speletjies.
Speletjies waarin die kanselement betrokke is, word afgekeur op vier gronde:
Wanneer die heilige lot betrek word by speletjies, spreek dit van n oneerbiedige gebruik van die lot. Iets wat heilig is, word verlaag tot spel.
Wanneer daar in ernstige sake gebruik gemaak word van die lot, kom mens baie naby aan God, en wan-neer ons so naby aan God is, is n houding van vrees en ontsag paslik (Jes 8:13; Jes 66:2). Dit is sekerlik nie die houding van mense wat n speletjie speel nie.
Daar is geen Skriftuurlike voorbeeld waar die lot gebruik word in speletjies nie. Wanneer die lot in die Skrif gebruik word, gaan dit altyd oor ernstige sake. (Hand 1:26).
Die gebruik van die lot in speletjies lei tot slegte gevolge. Mense wat hoop op n goeie uitslag, raak verontwaardig teenoor God as hulle dit nie kry nie. n Mooi illustrasie hiervan is die oënskynlik onskuldige speletjie genaamd "Mens erger je niet". Terwyl die Skrif die lot juis wil gebruik in gevalle waar dit vrede bring (Spr 18:18), illustreer hierdie speletjie juis dat die verkeerde gebruik van die lot maklik tot ergernis lei.