Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 4 Julie 2000
"DIE AARDE SLEGS EEN LAND EN DIE MENSDOM SY INWONERS"
| Gebou op die etiese raamwerk van die 1993 Parlement van Wêreldgodsdienste in Chicago, het dié Parlement in Desember 1999 'n welgeslaagde poging onderneem om die interreligieuse dialoog te laat oorgaan in 'n gesamentlike optrede van gemeenskappe wat hulle onderling daarby betrek het, aldus 'n nuusbrief van die Bahá 'u 'lláh (Newsletter of the Bahá'í International Community, October/December 1999, Volume II, Issue 3, pp 1, 8, 9, 15) |
In sy toespraak voor duisende verteenwoordigers van die wêreld se vernaamste geloofsgroepe, het die 81-jarige eertydse politieke gevangene gesê dat godsdienstige denominasies 'n belangrike bydrae gelewer het om aparheid in Suid-Afrika te beëindig. "Sonder die Kerk en religieuse instellings sou ek nooit vandag hier gewees het nie", aldus Mandela. Verder het hy vermeld dat Christen-, Moslem-, Hindoe- en Joodse geloofsgemeenskappe hom van middele voorsien het vir die opvoeding en onderwys van swart jeugdiges en dat hulle op later stadium ook na die politieke gevangenes en hulle gesinne omgesien het.
"Ek erken die belangrikheid van godsdiens", sê Mandela op 5 Desember 1999. "'n Mens moes onder apartheid in 'n Suid-Afrikaanse tronk gewees het om te sien hoe wreed mense teenoor mense werklik kan wees. Ek sê weer, godsdienstige instellings en hulle leiers het ons laat hoop om eendag terug te kan kom". Verder het hy gesê: "Godsdiens sal 'n beslissende rol moet speel in die leiding en besieling van die mensdom om die geweldige uitdagings van die volgende eeu tegemoet te gaan". Kortweg het hy een van die hooftemas van hierdie byeenkoms opgesom, naamlik, dat godsdienste veral in onderlinge samewerking 'n beslissende rol in die oplossing van die probleme waarvoor die mensdom te staan kom, kan en moet vervul.
Die Parlement van 1 tot 8 Desember, in Kaapstad, het uit meer as 7 000 deelnemers van 90 lande bestaan. Dit is ses jaar ná die vorige Parlementsbyeeenkoms wat in 1993 in Chicago, as die 100-jarige herdenking van die stigting van die Wêreldparlement van Godsdienste in 1893, byeen gekom het. Die Suid-Afrikaanse byeenkoms te Kaapstad het die aandag gevestig op sommige van die huidge rigtings in dié wêreldwye religieuse beweging - wat volgens alle aanduidings al meer groei en toeneem in krag en aanvaarding.
"Ons is oortuig dat die internasionale interreligieuse beweging een van die belangrikste glanspunte van die moderne wêreld is", sê Jim Kenney. Hy is die internasionale direkteur van die Raad van Wêreldgodsdienste. Hy was tesame met die Suid-Afrikaanse afdeling van die Parlement van Wêreldgodsdienste verantwoordelik vir die byeenroep en reëlings van hierdie byeenkoms.
Volgens Kenney word die motivering vir die hou van die Parlement "gevind in die feit dat die wêreld al hoe kleiner word en dat die verskeidenheid al meer sigbaar word. Twintig jaar gelede sou 'n Westerling dalk nooit 'n Boeddhis of 'n Bahá'í, Moslem of Hindoe leer ken het nie. Vandag leef op baie plekke die aanhangers van die onderskeie tradisies langs mekaar."
Voorts wys hy daarop dat die Parlement nie slegs die toename en verbetering van dialoog beoog nie, maar ook om hulle na die volgende vlak van betrokkenheid te lei, naamlik na 'n verenigde gemeenskaplike optrede. Met die oog daarop stel die Parlement twee nuwe pogings bekend.
(1) 'n Belangrike dokument van intergeloofskonsensus, genoem, "'n Oproep aan ons leidinggewende Instellings", en (2) 'n Program van interreligieuse projekte, wat bekendstaan as "Gawes van Diens aan die Wêreld".
Dié "Oproep" bied 'n bloudruk vir godsdienstige en sekulêre vennootskap in die aanvaarding van die uitdagings wat die eenwêreld in die nuwe millennium meebring. "Ons het die punt bereik dat mense oral sien en erken dat die wêreld 'n globale dorp of streek (global village) is", aldus dié "Oproep" wat 'n wye verskeidenheid sake aanraak, van ondersteunende ontwikkeling tot globale toesig, van die Derde Wêreld se skuldverligting tot media-etiek.
"Uniek aan hierdie tydsgewrig is die moontlikheid van 'n nuwe vlak van kreatiewe betrokkenheid tussen die religieuse instellings, die spiritualiteit en ander belangrike bewegings wat die aard en koers van die menslike samelewing beïnvloed. "Wat tans nodig is, is 'n oortuigende uitnodiging aan leidinggewende instellings om vars, betroubare en meer verbeeldingryke vennootskappe te bou om 'n beter wêreld te kan skep", aldus die "Oproep".
| Die Bahá'í Gemeenskap se Geloofsbeskouings
Die Bahá'í-geloof stoel op die openbaring van Mirza Hoessein Ali Noerie (1817 - 1892), wat deur sy volgelinge Bahá'u'lláh (Heerlikheid) genoem word. Die bahá'í's beskou hom as die beloofde, van wie die heilige geskrifte van alle religies gewag maak. Volgens die Bahá'í-geloof het God Homself telkens deur sy gesante aan die wêreld geopenbaar, soos vantevore deur Abraham, Moses, Krishna, Boeddha, Zoroaster, Christus en Mohammed. Hulle beskou hulself as die jongste wêreldreligie. Die Bahá'u'lláh leer dat die teenwoordige wêreldorde sal ondergaan. In die plek daarvan sal daar 'n wêreldomvattende en glansryke beskawing ontstaan, die voorspelde godsryk van vrede en geregtigheid. Om dit te bereik is dit, volgens die bahá'í-leer noodsaaklik dat 'n sintese bereik moet word tussen wetenskaplike kennis, tegniese middele, ekonomiese kragte, 'n etiek sonder vooroordele en 'n oorkoepelende geloof in die gesag van die hoëre gees in die skepping. Verdere uitgangspunte is, dat alle vorme van kompetisie tussen die bestaande godsdienste uitgewis moet word en dat elke mens in 'n sfeer van groot verdraagsaamheid ten opsigte van sy medemens en binne die perke van sy moontlikhede, vir sy woorde en dade volledig verantwoordelik jeens God is. Dié een ware God is die bron van alle religies, waardeur hul almal in wese één is. Die Bahá'í-geloof pleit vir een wêreldstatebond, met as hoogste gesag een wêreldparlement wat op die universele wêreldorde gebaseer is. Elke wêrelddeel het sy Huis van Gebed, 'n Bahá'í-tempel, wat vir almal toeganklik is. Dit bestaan uit 'n ronde vorm met nege ingange, wat die totaal van die belangrikste wêreldreligies simboliseer. Tydens die gebedsdienste word uit die onderskeie gebedeboeke van al hierdie wêreldreligies gelees. |
Die lys "Gawes van Diens" verteenwoordig die begin van so 'n "gesamentlike optrede" op die gebied van interreligieuse en godsdienstig/sekulêre samewerking. Die Parlement het 'n boekie beskikbaar gestel met die besonderhede van nagenoeg 250 projekte van interreligieuse samewerking. "Vir my is dit baie opwindend dat ons die begin sien van gesamentlike optrede en samewerkingsprojekte oor godsdienstige verdelingslyne heen. In die verlede is daaroor baie minder gehoor" sê Howard Sulkin, voorsitter van die Raad van die Parlement van Wêreldgodsdienste.
Die Parlement is geopen met 'n kleurvolle optog van godsdiensleiers en hulle volgelinge deur die strate van Kaapstad. Maar, terwyl etlike duisende Afrika-inheemse godsdienstiges, Bahá'í's, Boeddhiste, Christene, Hindoes, Jains, Jode, Moslems, Sikhs, Zoroastriste, en andere, hulle draaie deur hierdie bont stad geloop het, is hulle af en toe gehekel deur fundamentalistiese Moslems en groepies Christene wat die byeenkoms van die Parlement teengestaan het - 'n aanduiding van die uitdagings wat die interreligieuse dialoog ondervind.
Dié protesteerders is egter met 'n glimlag van verdraagsaamheid begroet. "Die tekens van protes was minimaal in vergelyking met die algemene besef van eenheid wat die agt dae geheers het", so sê Louise Todd Hope, die stigter van "Cloack the Earth" (Beklee die Aarde), 'n VSA-gebaseerde interreligieuse organisasie.
Die Parlement se daaglikse program het begin met gebede en meditasie, gevolg deur verskeie werkswinkels en praatjies en daarna, saans, volle sittings en artistieke optredes. Skoliere, aktiviste en godsdiensleiers het gepraat oor onderwerpe wat wissel van basiese onderrig in wêreldgodsdienste tot verkenning van geloofsgeïnspireerde oplossings vir wêreldprobleme.
"Baie tyd en energie is bestee aan bespreking van praktiese probleme, soos armoede en diskriminasie, sosiale ongeregtigheid en die onderdrukking van ou inheemse tradisies, omgewingsbesoedeling, globale etiek, ekonomiese uitbuiting en gesondheidsvraagstukke" aldus Varadaraja V Raman, emeritus professor in fisika en geesteswetenskappe by die Rochester Instituut vir Tegnologie in die VSA, ook verteenwoordiger van die Zygansentrum vir Wetenskap en Godsdiens. "Dus gee, byvoorbeeld, 'n spreker in die een sessie 'n uiteensetting van skending van menseregte van miljoene "onaantasbares" (hindoes) in Indië, terwyl 'n ander, 'n vooraanstaande geleerde, 'n onderhoud voer met leiers van die Amerikaanse Rooihuide oor hoe hulle godsdienste en kulture in die moderne Amerika gerelativeer is.
Op 'n afstand bekyk, was dit 'n veelkleurige skare deelnemers bestaande uit Hindoes wat in saffraanklede uitgedos was langs Christenpriesters in swart met wit krae. Moslempredikers in wit broeke en hemde wat saam met Boeddhiste, slegs in geel katoen geklee, gestap het. Vroue van alle kleure (rasse) geklee in helderkleurige sari's het saam met mans en vroue in kantoordrag verkeer. Afrikane, dikwels in tradisionele drag, was oral en altyd teenwoordig.
Die laaste drie dae het sowat 400 geestelikes byeengekom vir besprekings en om hulle verder te verbind tot gesamenlike en verenigde optrede. Hierdie vergadering is bygewoon deur sekulêre leiers uit die sakewêreld, landbou, akademies, die media en internasionale organisasies soos die Wêreldbank.
Tydens die afsluitingseremonie het die Dalai Lama, leier van die Tibetaanse Boeddhiste, 'n kort toespraak gehou. Hy is, sê hy, bemoedig dat so baie geloofsrigtings saamgekom en mekaar se godsdienste gerespekteer het. Hy het die hoop uitgespreek dat sulke byeenkomste deur konkrete sosiale geleenthede opgevolg sal word.
Historiese verlede
Die 1999 Parlementsbyeenkoms is gehou volgens die voorbeeld van die eerste Wêreldparlement van Godsdienste wat in Chicago, in 1893, gehou is. Dit was 'n byeenkoms van etlike honderde geleerdes, teoloë en godsdienstige leiers wat talle verteenwoordigers van Oosterse religies ingesluit het. Dit is wêreldwyd as die daeraad van intergeloofsdialoog beskou.
Na die hoogs suksesvolle 1993 Eeufeesviering van dié gebeurtenis is daar 'n Raad van die Parlement van Wêreldgodsdienste verkies. Dit het meer as 10 000 deelnemers na Chicago gelok. Onder die belangrikste sake van die 1993 Parlement was 'n dokument onder die titel: ''Towards a Global Ethic'', 'n verklaring van globale etiek soos wat dit deur die wêreld se belangrikste religies gemeenskaplik aanvaar is.
Volgens van die beamptes van dié Wêreldparlement het hulle ons land vir die 1999 Parlementsbyeenkoms aanbeveel, juis omdat godsdiens en spiritualiteit so 'n belangrike rol in die stryd (struggle) teen apartheid vervul het. "Ons glo dat godsdiens en spiritualiteit 'n unieke rol in sosiale transformasie vervul", aldus Dirk Ficca, die uitvoerende direkteur van die Raad. "Dit verskaf die middele aan mense om 'n duidelike visie van die rigting waarin beweeg moet word te verkry, asook 'n raamwerk van die vreedsame en regverdige wyse om dié doel te bereik."
Toe besluit is om die 1999 Parlement in Suid-Afrika te hou, is baie van die beplanning en uitvoering van die byeenkoms oorgelaat aan die SA afdeling van die Parlement van Wêreldgodsdienste (PWGSA). ''Dit is 'n outonome, interreligieuse gemeenskap, wat beskeie begin het om die geweldige taak aan te pak om gasheer te wees vir die groot byeenkoms'', sê Amy Seidel Marks, mede-voorsitter van die PWGSA. Hy is 'n lid van die Suid-Afrikaanse Baha'í-gemeenskap. ''Inderdaad kan gesê word dat die 1999 Parlement van Wêreldgodsdienste georganiseer is op die interreligieuse grondslae van dié wat 'n sleutelrol in die stryd teen apartheid gespeel het'', aldus Amy Seidel Marks.