Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 4 Julie 2000
DIE POUS EN DIE 1983 VERTALING| Die gebruik van die 1983 Bybelvertaling is 'n betwisbare saak wat deur ons
redaksie versigtig hanteer word. Ons verkies en hanteer die meer letterlike vertaling van
die Bybel (1933/53) bo die parafraserende van 1983. Ons bied ruimte vir die motivering van
die agtergrond(e) en besware teen die 1983 vertaling, sonder om noodwendig alles wat
aangevoer word vir ons rekening te neem. Die artikel onder die bogenoemde opskrif is
aangebied deur 'n intekenaar/leser van ons blad, ds PJ Retief van 'n Vrye Gereformeerde
Gemeente te Springs. Die verantwoordelikheid vir die inhoud hiervan berus geheel en al by
homself. Die eerste aflewering het in die vorige uitgawe verskyn. Ds Retief verskaf
verdere wetenswaardige agtergrondinligting.
Die gebruik van die 1983 Bybelvertaling is 'n betwisbare saak wat deur ons redaksie versigtig hanteer word. Ons verkies en hanteer die meer letterlike vertaling van die Bybel (1933/53) bo die parafraserende van 1983. Ons bied ruimte vir die motivering van die agtergrond(e) en besware teen die 1983 vertaling, sonder om noodwendig alles wat aangevoer word vir ons rekening te neem. Die artikel onder die bogenoemde opskrif is aangebied deur 'n intekenaar/leser van ons blad, ds PJ Retief van 'n Vrye Gereformeerde Gemeente te Springs. Die verantwoordelikheid vir die inhoud hiervan berus geheel en al by homself. Die eerste aflewering het in die vorige uitgawe verskyn. Ds Retief verskaf verdere wetenswaardige agtergrondinligting. |
Een van die invloedrykste en effektiefste instrumente om die breuk met Rome te herstel, was om 'n interkonfessionele Bybelvertaling daar te stel. Dit is deur Vaticanum II reeds in die vooruitsig gestel.
Dit het dan ook só gebeur. Johan Gouws verwys daarna: "It was publicly announced early in June 1968 that agreement had been reached on a document entitled 'Guiding Principles for Interconfessional Co-operation in Translating the Bible'. This document was issued jointly by the Executive Committee of the United Bible Societies and the Vatican Secretariat for promoting Christian Unity" (Gouws J 1989 Ter wille van die Waarheid van die Woord (bl 47, eie beklemtoning).
Die 1983-vertaling het vergestalting verleen aan hierdie Roomse drang tot so 'n "interkonfessionele Bybelvertaling". Die eeue ou begeerte van die antichristelike manifestasie van 'n een wêreldstaat, een wêreld ekonomie, een wêreld godsdiens (onder die hegenomie van die Roomse Pous) sou so ten einde laaste 'n werklikheid kan word. Dit betref ook die hereniging met alle "afgeskeie broeders", ja, selfs ook die Calvinistiese Afrikaners, om hulle weer terug in dieselfde kraal as Rome te probeer kry. Die 1983-vertaling sou 'n belangrike middel wees om ons volk en, by name die lidmate van die sogenaamde "susterkerke", in die geledere van die Rooms-Katolieke Kerk te laat tuisvoel.
By Johannes Calvyn het daar hoegenaamd geen twyfel bestaan oor wié en wát die werklike Antichris is nie. Hy stel dit onomwonde só: "Die profeet Daniël en die apostel Paulus het voorspel dat die Antichris in die tempel van God as God sou sit en voorgee dat hy God is. Ons glo dat dit die pousdom is" (Institusie, Deel 2, bl 314, 315. Vgl ook dr A Sizoo se "Institusie", boek IV, hfst VII, 25; IV. ix, 4; ensovoorts).
Dit skyn asof ons vandag al vergeet het dat ons gereformeerde vaders nie ligtelik en sonder ernstige Skrifbegronding tot so 'n uitspraak sou gekom het nie. Nee, die profesie van Daniël 7:25 kán op niemand anders as die pousdom betrekking hê nie, soos ook blyk uit Calvyn se verdere verklaring:
"Sommige mense reken dat ons te reguit praat en te krities is waar ons die Rooms-Katolieke Pous die Antichris noem. Maar diegene wat hierdie beskuldiging teen ons inbring, besef nie dat hulle die apostel Paulus self van dieselfde aanmatiging beskuldig nie. Want ons gebruik slegs sy taal en sê net wat hy lankal reeds verklaar het. Hierdie profesie kan op niemand anders betrekking hê nie" (Institusie, Deel 2, bl 4120, 411. Vgl aanhalings uit Sizoo hierbo).
Dat die Rooms-Katolisisme of, volgens Calvyn, die antichristelike pousdom tòg ten einde laaste by die Afrikaner se Bybel betrokke kon raak, blyk haas ongelooflik te wees! Want was dit nie ons volk se diepe eerbied vir die Woord van God en die gesag van die Bybel wat hom deur al sy ellendes tot vandag toe gedra het nie? Vir die nasate van die Geuse en die Hugenote kán en ís daar niks heiligers op aarde as die geopenbaarde en ewige Woord van die HERE wat aan die mens toevertrou is nie.
Die Antichris gebruik daarom hierdie medium om ons gereformeerde volksbestaan te ondermyn. Hieraan het die voormalige (blanke) regering lustig meegehelp. Pik Botha het as minister van buitelandse sake, in opdrag van die kabinet, 'n prageksemplaar van die eerste uitgawe van die 1983-Bybelvertaling aan Pous Johannes Paulus II in die Vatikaan te Rome oorhandig. Wat beteken dit anders as om gemene sake met die Pous (die Antichris) te maak? Want wat het die Rooms-Katolieke Kerk en sy pous met ons gereformeerde volk en sy Bybelvertaling te doen? Bedenklike planne is agter die skerms beraam om tot dié stap oor te gaan!
Dit is 'n ontstellende en versoberende besef dat die Rooms-Katolieke pousdom indirek met die 1983-Afrikaanse Bybel-vertaling betrokke was. Dit behoort elke gereformeerde, ja elke Christen-gelowige te alarmeer! Laat daar tog ernstig na gekyk word wat die werklike dryfveer agter die wêreldwyd toegepaste dinamies-ekwivalente metode van Bybelvertaling is. Uit die bogenoemde verwysing na die "Guiding principles for Interconfessional Co-operation in Translating the Bible" kan afgelei word om uiteindelik die suiwere leer van die Bybel te ondergrawe en 'n sintese tussen die Rooms-Katoliekes en Protestante en ander denominasies te bewerkstellig.
Helaas vind jy dat welmenende predikante en lidmate van gereformeerde oortuiging en belydenis na sewentien jaar nog oor die Bybelvertalings struikel.
Die 1983-vertaling is, soos hierbo aangetoon, 'n beplande en begeerde eindproduk van Vatikanum II.
Hierdie parafraserende"vertaling" bewerkstellig dat die leerstuk van die regverdigmaking deur die geloof alléén, gerelativeer word. Doen gerus maar 'n vergelykende studie van die geregtigheid deur die geloof oor die boek Romeine met begronding in die Ou Testament van die 1933/53 teenoor die 1983 vertalings. Dit is in die besonder dáárdie leerstuk van die ewige Waarheid wat 'n skerp verdelingslyn teweeg gebring het tussen die lig van die Reformasie teenoor die ingrypende dwalings van die Rooms-Katolieke Kerk van die laat-Middeleeue. Dié antitetiese verdelingslyn moet, so word daarna gestreef, deur die gebruik van hierdie sinkretistiese nuwe Bybelvertaling, vir sover dit moontlik is, versoen word.
Watter tragedie is dit dat ons, wat hierdie saak betref, in die kerke van die Reformasie 'n kompromie met die Rooms-Katoliekes aangegaan het. As aan die Waarheid van die geïnspireerde Woord van God, aan dit wat nodig is om in te glo aangaande die Goddelike weg van ons verlossing en saligheid afgedoen word, dan kom dit gevaarlik naby die profesie in Openbaring 22:19, dat God dan "sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad". Dit raak die erns van die geparafraseerde 1983 Bybelvertaling, dat dit die meer letterlike weergawe van die bybelse grondteks vervang met 'n geïnterpreteerde reproduksie daarvan. Een van die gevolge daarvan is die wegvertaling van die Messiaanse heilsverwagting in die Ou Testament.
Dit is tyd om ernstig te besin oor die oorheersende gebruik van die 1983-vertaling in die meeste van ons gereformeerde kerke. Sal ons ter wille van die suiwere verkondiging van die Goddelike waarheid en die binding aan die volle inhoud van die skriftuurlik begronde belydenisskrifte, die Drie Formuliere van Eenheid, nie maar liewers van nou-af volstaan met die gebruik van die 1933/53-vertaling en daarteenoor die 1983-vertaling, tesame met die uitgawes van Die Bybellennium en soortgelyke eksegetiese produkte, bêre in die hoek van betwyfelbare boeke en geskrifte nie?