Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 4 Julie 2000
REFORMASIE VAN DIE VOLKSKULTUUR - NODIG OF NOODWENDIG?- DR CHRIS L JORDAAN -
Akkommodasie of Konfrontasie?Ongelukkig verstaan vele eietydse Christene nie wat werklik met die Christelike volkskultuur van die Afrikaner aan die gebeur is nie. Vir sommige is dit die morele verval van die samelewing wat hinder. "Dit was nie in ons tyd so nie". Ander sien dit as n bevryding van die gees nou dat ons nie meer die "alleen verantwoordelikheid" vir al die inwoners van Suid-Afrika hoef te dra nie. Die meeste egter, in die lig van die afwysing van enige dogma of leerstelling, het akkommoderend met die "nuwe kultuurpatroon" begin omgaan. Die werklikheid is egter dat in al hierdie benaderinge vergeet word dat dit uit n keuse en standpunt kom en dat die impak van die keuse die ontwaking van die gees van sekularisme (ontkerstening) is.
Om te weet wat die regte stand in hierdie tyd moet wees, is die kernvraag na die wese van die Christelike kultuur en in soveel woorde die kultuur van die Godsvolk. Charles Colson verkaar dat om so n posisie in te neem vereis tegelyk onderskeiding en geloofsmoed - onderskeiding om nugter die sake te onderskei en om te onderskei wanneer om gehoorsaam en wanneer om ongehoorsaam te wees - geloofsmoed is om n standpunt in te neem.
Die onderskeiding van die impak van die kontra-kultuur - n weerstand, selfs aan die kant van n minderheid, teen waardes en norme van die Christelike kultuur en waar die waardes van die kultiese min-derheid die waardes van n aanvaarde of dominante Christelike kultuur weerspreek of vervang - in sy konfrontasie met die Christelike kultuur, raak die grondslag van die ganse Christelike beskaafdheid en sy ewigheidswaarde.
Dié konfrontasie gaan uiteindelik om die lewe en werk van Jesus Christus, die Koning van sy ryk. Dit is die standpuntinname tussen wat waar en wat vals is.
Herlewing, Reformasie en Vernuwing
Om die Christelike kultuur as volkskultuur tot n dinamiese geesteskrag, gebore uit die geloof, te herstel, stel n paar belangrike eise:
Die suiwering van die Godsbegrip van die volk in ooreenstemming met die Bybels-christelike waarheid en reformatoriese uitgangspunt.
Die vernuwing van die volk se denke en verstand om die Bybelse waarhede konsekwent op die volle aksie-radius van die volkskultuur toe te pas.
Die reformasie van die Bybels-christelike lewens- en węreldbeskouing en kultuur van die volk vir uitlewing in die sekulęre Suid-Afri-kaanse samelewing.
Die herlewing van die nederig Gereformeerd-protestantse lewenswyse en waardes in die families en kultuurgemeenskap.
Die aanstigting van kontroversie in die verdediging van die Evangelie en die bevestiging van die waarheid daarvan (Fil 1:7).
Albert Camus, 'n Franse eksistensialis, skryf oor die Christene: "Die węreld
verwag van Christene om hul stemme hard en duidelik te laat hoor om so hul protes te
formuleer ... Verder, verwag die węreld ... dat hulle alle nietige afleidings opsy sit en
hulself vierkantig plant voor die bloedige aangesig van die geskiedenis ... om te staan by
wat hulle gesę het". Dit is dan ook die uiteindelike van ons keuse: ňf Ceaser ňf
Christus!
Die onvermydelike Keuse
Die keuse vir die verbondsvolk is onvermydelik. Soos Afrika se kultiese kontra-kultuur op elke terrein van die lewe, deur die Grondwet beskerm, ingegrawe en n aanvaarde lewenswyse word, word die opponerende keuse en konfronterende standpunte vir die volk onvermydelik. Die meeste Afrikaner-christene probeer hierdie keuse te vermy of so lank moontlik uit te stel. Die werklikheid is dat dit nňg ontken nňg vermy kan word.
Met volkskultuur verstaan ons die Bybels-christelike wyse van lewens-indiensstelling van die Christen as lid(maat) van die verbondsvolk, soos deur n tradisioneel reformatories gefundeerde Godsbegrip gerig. Die bevestiging van ons standpunt vir n Christelike volkskultuur noodsaak hierdie onvermydelike keuse. Dit gaan ten diepste om Christus se plek in ons volkskultuur. Dit is die kern van ons keuse: Christus of die (nie)gode. Waarheid of valsheid.
Enkele Uitgangspunte
Die keuse vir die Afrikaner-christen as die draer van, soos ons glo, die Godgegewe kultuuropdrag, vereis n duidelike besef van wat die keuse behels. Die volgende paar kenmerke is van belang:
Kontroversieel
Ten eerste beteken dit dat ons kontroversieel moet wees. Kontroversie beteken om n dispuut te verklaar of debat te voer oor n standpunt. Prof Glen Tinder verklaar dat Christelike opvattings jou in n radikale - dit wil sę n kritiese, teengestelde - verhouding tot die gevestigde instellings plaas. Die kontroversiële standpunt vloei uit die botsing tussen waarheid en valsheid of die Gees van die Waarheid en die gees van die leuen of dwaling (2 Tess 2:11). Tinder skryf dat die Koninkryk van God in Jesus Christus n oordeel op die bestaande samelewing is en n simbool van die verganklikheid daarvan.
n Omvattende boodskap
Die Christelike beskouinge moet n allesomvattende boodskap wees, wat die ganse aksieradius van die Skrifgehoorsame Christen se lewe insluit. Die allesomvattende Waarheid, wat met ons ongehoorsaamheid afreken (2 Tess 2), moet herstel word in die alledaagse lewe van die Afrikaner-christen. Die kompartementalisering van ons godsdiens (kultuur) lei veral tot intellektuele verlamming en geestelike blindheid vir die gevolge van die kontra-kultuur. Die boodskap van die Christelike kultuur moet in alle vorme in die eietydse samelewing versprei word: skryf, praat, protesteer, verdediging, bevordering selfs deur betoging en, indien nodig, die sekulęre hof.
"Versigtige radikalisme
Christene sal soms in "versigtige radikalisme" betrokke raak en waar nodig in burgerlike ongehoorsaamheid. Dit is alleen moontlik indien ons seker is dat die wese van ons Christelike volkskultuur aangetas word. Dit is n ernstige en verskrikkende gedagte. Tog eis die Christelike geloof daardie konfrontasie wat nodig is om die Christelike kultuur se voortbestaan en krag in die sekulęre samelewing te bevestig. Die Christelike kultuur is die allesomvattende sambreel waaronder die "versigtige radikalisme" gevoer word.
Dit is hier waar die Wysheid te staan kom: So versigtig soos die slange en so opreg soos die duiwe. Afrikaner-christene wat met erns die Christelike kultuur in die verskeurde Suid-Afrika wil beoefen, selfs teen groot teenkanting in, sal in Gees en in alle Waarheid moet optree. Die Christene sal gehoorsaam optree wanneer God hulle roep om openbare standpunt in te neem in die bloedige aangesig van die geskiedenis. Dit is daarom nie net nodig nie, maar histories noodwendig, dat die volkskultuur sal reformeer tot n dinamiese volksbeweging vir die behoud van die Christelike beskaafdheid.