Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die sosialistiese bedeling

AKTUEEL:
Moslems wêreldwyd in opstand

SKRIFOORDENKING:
Ek en my huis, ons sal die HERE dien
Josua 24 : 1 - 15

BOEKBESPREKING:
DIE BYBELLENNIUM
Skrifkritiese verklaring van teks in die boek Genesis

Lotery en dobbelspel geoorloof?

Is beroepsport 'n beroep waaraan Christene vrylik kan deelneem?

"Die aarde is slegs een land en die mensdom sy inwoners"

Die Pous en die 1983 vertaling

"Are you a 'Dopper' "?

Kan ons nog praat van 'n Gereformeerde identiteit?

Reformasie van die Volkskultuur - Nodig of Noodwendig?

Die Massamens

KERKLIKE JOERNAAL: 
Is dit reg, Prof Tjaart?

Die gevolge van (kerklike) tugloosheid

Bedenklike metodes vir die insameling van Kerkfondse

Besluit Nasionale Sinode GKSA 1955, Art 247

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Beteken "Staatsakkreditering" 'n totale oorgawe aan die "wense" van die staat? Is die betekenis van "Volkseie" noodwendig "Die verafgoding van Afrikanerskap" en daarom "uit die Bose"?

Volkseie onderwys en Christelikheid

Stigting van Hans Rooseboom-Studie leningstrust

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (6)

PERSRUBRIEK: 
Dr Yolanda Dreyer se moraal oor seksuele eksklusiwiteit


'n Tiperende openbaring  van 'n Nederlandse "susterkerk" se liturgie en amptelike dienste

KOMMENTAAR: 
Word polemisering tussen gelowiges afgewys?

Evolusionisme sonder voorbehoud!?

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Is die strafreg deel van die geneeskunde?

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 4  Julie 2000

DIE MASSAMENS

-  DR AP TREURNICHT  -  IN:  "WAAR DIE SOEKLIG VAL"  -

1974. Kaapstad: NG Kerkuitgewers (bl 51 - 54)

Dit is verbasend hoeveel twyfel daar by mense oor die sin van ons menswees bestaan. Dit is asof 'n vlaag van onsekerheid oor groot groepe mense spoel.

By sommige kan dit die gevolg van die moderne eksistensiefilosofie wees, waar gepoog word om die mens vanuit homself te verklaar. Sy eie bestaan is nie net die onderwerp van sy ernstige nadenke nie, maar die sin daarvan word ook in homself gesoek. En terwyl ons weet dat die mens 'n gebroke wese is, die prooi van die sondeval, spreek dit vanself dat wie die mens bloot uit homself wil verklaar, moet twyfel aan die waarde van die menslikheid. Dan het hy geen uitsig boontoe nie, en eintlik ook nie vorentoe nie. Wie die mens nie sien as beelddraer van God nie, of ook nie wil weet van 'n roeping in die diens van God nie, kan sy waarde nie begroot nie. Vir hom is die mens maar net 'n redelike dier tussen ander redelike diere - en dan ook nie altyd so redelik nie!

Maar die twyfel oor die waarde van die mens en die sin van sy lewe, kom nie net van hierdie kant nie. Dit hang ook saam met 'n verskynsel van ons moderne tyd, naamlik die massamens. Hierdie verskynsel is deur verskeie skrywers ondersoek. SH Stoffel skryf oor: ''Die Massamens en sy Toekoms''. Ortega Y Gasset skryf oor: ''De Opstand der Horden''. En so is daar ander wat die moderne mens probeer teken teen die agtergrond van 'n veranderende maatskaplike, ekonomiese en nywerheidspatroon.

Brillenburg Wurth noem die massamens die ''trieste verskynsel van ons tyd''. Dit is, volgens hom, die mens wat glad geen innerlike lewensgehalte meer besit nie; die mens wat 'n nommer geword het; wat nie self meer lewe nie, maar nog net gelewe word. Waarvoor hy daar is en wat sy bestaansdoel op aarde is, die sin van sy doen en late, of sy genietinge en sy arbeid - dit weet hy nie. Hy dink nie eens daaroor nie.

Ons moet egter sê dat dit nie as 'n algemene beskrywing van alle moderne mense geld nie. Daar is mense wat beslis nie sal wil afgeskryf wees as ''uit die ou doos'', verstar, vertraag, - of as u wil - verkramp nie. Mense wat moderne lewensnorme aanvaar en 'n ander lewenstyl het as voorgeslagte van 'n honderd jaar gelede, maar wat tog nie onder die massamense te klassifiseer is nie. Hulle is nie sonder innerlike lewensgehalte nie; inteendeel. Hulle handhaaf ewige waardes en beginsels in 'n nuwe era op 'n sinvolle wyse.

Wanneer ons dus oor die massamens praat, is dit die mens wat losgeslaan is van ankers, waardes, norme, of van 'n geordende gemeenskap. Hy is eintlik in die wesenlike van sy menswees aangetas. Daar is iets, ja veel, abnormaals aan hom.

Ek wil dit waag om te sê dat die teologie wat in sekere kringe bedryf word, aandadig aan hierdie verskynsel is. Die rede waarom ek dit sê, is dit: Ons het 'n teologie gekry waarin God vermenslik is. Die feit dat God in Christus die menslike natuur aangeneem het, word só beklemtoon dat God se troon, met eerbied gesê, vakant geraak het. Die mens se bestaan, wat 'n gerigtheid op God bó hom en ook buite die aardse eindigheid gehad het, het dié gerigtheid en bestemming verloor. Sy wêreld het, omdat dit ontgoddelik het, gesekulariseer geword. En dit het ontgoddelik omdat God tot blote menslikheid neergehaal is. En so het mense se bestaan te lande gekom in 'n eindigheid wat nie in die hande van God rus nie, maar in homself. Uit die mens, deur die mens en tot die mens, in plaas van uit God, deur God, tot God. Geen wonder dat die volgende stelling gemaak is nie: Nadat die wêreld hier ontgoddelik is, is ook die mens hier ontmenslik!

As God nie meer gesien word as wetsteller vir die mens se persoon en samelewing nie, maar as 't ware verswelg word in medemenslikheid, is daar slegs 'n graf vir God in die aarde, maar in die hemel geen heerlikheid vir die mens nie. en het ons versink in die nihilisme, die ontkenning van waardes of van roeping en bestemming. Dis die verlies van die ware lewensgehalte. En dan is ons in die buurt van die massamens.

Een van die grootste faktore in die voortbrenging van die massamens van ons tyd, was egter die ekonomiese. Verre daarvandaan dat ons ekonomiese bloei sonder meer as gevaarlik sou beskou, is dit egter gevaarlik om vanuit die ekonomie en onder die dwang van 'n sekere persentasie groeikoers, die hele maatskappy te wil reguleer. Ons moet maar 'n oomblik let op die aandeel van ekonomiese faktore in die skepping van die massamens. Die miskenning van menswaardigheid, van geestelike, sedelike en kulturele belange, was 'n afskuwelike neweproduk van die ekonomiese ontwikkeling van die negentiende eeu. Dit was wel die eeu van die humanisme - die verheerliking van die mens, die vrye redelike, skeppende, mededingende, handeldrywende mens. Maar die produk was 'n verwringing van die egte menslikheid deur die toenemende industrialisasie, die uitbuiting van die werkers, die verwaarlosing van die werker as mens en medemens, die onsekerheid by werkers wat deur masjiene vervang word, die ontstaaan van trieste arbeiderswoonbuurte wat die gees van groue mistroostigheid geadem het.

Nou is dit wel so dat die sosiale vraagstuk, en daarmee die welsyn en inskakeling van die arbeider, vroeg reeds die aandag van sowel die kerk as die staat geniet het. Dit is onwaar dat die kerk altyd die kant van die groot geldbesitters en nyweraars téén die arbeiders gekies het.

In Suid-Afrika is dit beslis nie waar nie. Van die kant van die staat, die kerk, maatskaplike organisasies en politieke partye is groot aandag gegee aan die versorging en inskakeling van werkers in die godsdienstige, maatskaplike, politieke en kulturele lewe van die hele volk. Om daardie rede het ons nie dieselfde proses van massafikasie as Europa deurloop nie. Ons onderskeiding tussen die verskillende volksgroepe en die in die inbinding van die enkele mens - veral ook die werker en amptenaar - by sy eie kultuurgroep en kerkverband, het die skepping van die massamens teëgehou. Daar word gewaak, en daar moet gewaak word, teen dié soort ekonomiese dwang wat die lede van 'n volk, kultuurgemeenskap of kerk aftakel in hul besef van verbondenheid en 'n eie onderskeie karakter.

Ons moet waak teen wat Oldham noem: ''the socialised man'', waar die enkele mens 'n funksie in die maatskappy geword het en waar die maatskappy dan op sy beurt 'n klomp los enkelinge is wat hoofsaaklik ekonomiese wette gehoorsaam.

Ons word reeds in hoë mate deur ons masjiene, bedryfs-organisasies en die gees van die moderne tegniek gedikteer. So sê 'n sekere skrywer: Die tegniek mag nie as sodanig as 'n ongoddelike mag aangedui word nie. Op sigself is dit 'n skeppingsgawe van die hoogste betekenis, ook vir ons hele kulturele ontwikkeling. Maar dit het wel noodlottig geword dat ons mensheid en menslike samelewing - ten gevolge van sy vervreemding van God - nie in staat was om 'n mag soos die moderne tegniek, wat die lewe so uitnemend kon dien, te beheers nie, maar self innerlik vertegniseer is en tot 'n funksie van die tegniek gemaak is.

Met die verlies van ons geestelike beheer en van ons uitsig op God, en met die veronagsaming van die gebooie van God vir ons persoon en samelewing, word die klimaat vir die massamens geskep.

Maar wie sterk is in die geestelike en sedelike beheer-sing, in kennis van en gehoorsaamheid aan God se gebooie, in lojaliteit aan die beste van sy volk, en in meelewing met 'n gesonde kerkgemeenskap, kan nie tot massamens gemaak word nie.