Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 4 Julie 2000
KERKLIKE JOERNAAL IS DIT REG, PROF TJAART?Die Gereformeerde Vroueblad, Maart 2000, vermeld op bl 9 'n gesprek met prof Tjaart van der Walt oor die afgelope Nasionale Sinode met betrekking tot die vrou in die kerk. Daarin lewer hy as volg kommentaar:
"Wat vir my persoonlik positief is in die besluit om die posisie van die vrou nog 'n keer in die lig van die Skrif in studie te neem, is drie dinge:
"Dat buitelandse kerke uitdruklik hierby betrek word (ons het nie alle wysheid in pag nie!)
"Dat die ondersoek verbreed is tot die plek van die vrou in die kerk (en nie bloot 'in die amp' nie).
"Dat die deputate die vordering van hulle studie deur middel van die kerklike tydskrifte met ons almal sal deel, sodat lidmate daadwerklik saam kan studeer.
Komaan, hier is julle vroue se kans! Gebruik dit!"
As dit bedoel is as 'n wenk om opnuut druk op die aangestelde deputate uit te oefen om tog oorweging te skenk aan die advies om vroue in die leer- en regeerampte van die kerk te aanvaar, dan gaan hy ons insiens 'n stap te ver. Dan interpreteer hy die betrokke besluit soos hyself dit graag wil sien. Die versoek om te herbesin oor die skriftuurlike argumente van die plek vir die vrou in die ampsbediening is deur die laaste sinode onweerlegbaar duidelik verwerp. (Sien onder andere die verslag in Die Kerkpad, Maart 2000, bl 15)
Tydens dié sinode het 'n beskrywingspunt van die Partikuliere Sinode Wes-Transvaal gedien, wat 'n studie gevra het oor die wyse waarop die Here die vrou in sy Kerk gebruik het en nog steeds wil gebruik. Die Sinode het besluit om op die volgende wyse hieraan gevolg te gee.
Die Sinode wys studiedeputate aan om, met die besluite van vorige sinodes as vertrekpunt, 'n studie te maak oor wat in die Skrif geopenbaar word oor die wyse waarop die Here die vrou in die kerk gebruik het en steeds wil gebruik. Alle bestaande inligting en besluite in die Acta's van die Sinode oor die plek van die vrou in die kerk word duidelik saamgevat, gepubliseer en op bevattelike wyse aan die kerke beskikbaar gestel. Voorts is gestel dat kerke in dié studie saamgeneem moet word en dat insette op 'n ordelike wyse vanuit die kerke gelewer mag word. Die raakvlakke van die plek en rol van die vrou in samehang met die plek en rol van die man moet aangetoon word. Verder moet aangetoon word hoe die resultate van dié studie in die kerk geďmplementeer kan word. Daarbenewens moet ook bevindings en besluite van Gereformeerdes węreldwyd in die studie verreken word.
Om dit so te stel dat "die ondersoek verbreed is", skep die indruk dat prof van der Walt daarvan uitgaan dat dit opnuut 'n diskussie is oor die aanvaarding van die vrou in die leer- en regeerampte van die kerk. Vandaar sy wenk: "Komaan, hier is julle vroue se kans! Gebruik dit!"
Maar is dit - volgens dié besluitneming - reg, professor Tjaart? ®