Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 4 Julie 2000
KERKLIKE JOERNAAL DIE GEVOLGE VAN (KERKLIKE) TUGLOOSHEID"Gay-aktivis word ouderling in NG kerk"
BERIG IN BEELD, SATERDAG 10 JUNIE
"Ons almal het sonde, maar as iemand in sonde volhard en verkondig dat dit nie sonde is nie, het ek 'n groot probleem" |
Hoever reeds die bybelse norme binne die NG kerke verag word en verval het, bewys byvoorbeeld die berig wat in die bogenoemde uitgawe van Naweek-Beeld gepubliseer is.
Kaapstad - 'n Gay-aktivis is tot die ontsteltenis van verskeie lidmate bevestig as ouderling van die NG gemeente Tamboerskloof.
Een van die leraars, ds Terblanche Jordaan, het mnr Pieter Oberholzer onlangs in 'n erediens in die amp van ouderling voorgestel. Skriftelike besware deur ontevrede lidmate wat homoseksualiteit as sonde beskou, is ná Oberholzer se verkiesing by die kerkraad ingedien. Dit is aangehoor, maar die kerkraad het dit van die hand gewys en besluit Oberholzer, 'n oud-kweekskoolstudent aan die Universiteit van Stellenbosch, mag as ouderling bevestig word.
Oberholzer het enkele jare gelede in 'n radioprogram gesê die NG Kerk gaan nog in die toekoms ontdek dat hy, net soos met apartheid, al die tyd oor homoseksualiteit ook heeltemal verkeerd was.
Al wat Oberholzer oor die aangeleentheid wou sê, is: "Ek is ontsettend dankbaar oor die kerkraad se hantering van die besware en dat 'n ferm standpunt van inklusiwiteit ingeneem is."
Beswaarde lidmate het nou skriftelik by die ring van Kaapstad appèl aangeteken. "Ons almal het sonde, maar as iemand in sonde volhard en verkondig dat dit nie sonde is nie, het ek 'n groot probleem" het een beswaarde gesê.
Ds Hendrik Scott, Jordaan se medeleraar, wou nie die saak bespreek nie. "Ek dink 'n mens moet doen wat in die belang is van die Koninkryk."
Lidmate van die Tamboerskloofgemeente is ook ontevrede en sommige het hulle onttrek, onder meer omdat Jordaan as geskeide man einde verlede jaar beroep is - hy was getroud met die aktrise Brümilda van Rensburg. Sommige is ontevrede omdat hy kort gelede as 'n ongetroude man pa geword het. In sy boek Metronoom bedank hy "klein Thabo" wat "my oë oopgemaak het vir myself en my omstandighede".