Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 4 Julie 2000
KERKLIKE JOERNAAL BEDENKLIKE METODES VIR INSAMELING VAN KERKFONDSE"Kanniedood 'Josef ' weer in Pretoria te sien". Josef en
sy broers is wéér terug ... Andrew Lloyd Webber en Tim Rice se Joseph and the Amazing
Technicolor Dreamcoat keer aanstaande week terug na Pretoria, die stad waar daar jare
gelede, met die bekendstelling van die musiekspel aan Gautenggehore, betogings deur
omgekrapte godsdiensgroepe gehou is .
Berig in BEELD, Maandag 5 Junie 2000
'n Gereformeerde Kerk in 'n voorstedelike gebied van Pretoria is van voorneme om dié geleentheid te benut vir fondsinsameling ten bate van die gemeente se boufonds. Dit is soos volg bekendgestel:
"Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat"
Musiekblyspel
"Die Gereformeerde Kerk ... bied 'n fondsinsameling ten bate van die gemeente boufonds aan. Belangstellendes word genooi om die kleurvolle musiekblyspel "Joseph and the Amazing Tecnicolor Dreamcoat" by te woon. Die produksie word gedurende Junie en Julie in die Spoornet Staatsteater in Pretoria aangebied en is geskik vir die hele gesin."
Is dit geskik vir die hele gesin?
Dit is disputeerbaar of dié Musiekblyspel as geskik vir die lidmate van sy gemeente aanbeveel kan word. Ons redaksie beskik oor die volgende beswarende toelichting:
Die "opera" is geskryf deur Andrew Lloyd Webber (musiek) en Tim Rice (lirieke). (Albei is wêreldlinge wat geen verbintenis met die kerk en sy geloofsbeskouings het nie.) Dit is voorwaar uitstekende meevoerende musiek en vertel die verhaal van Josef. Die lirieke is egter, sê maar, nie altyd te getrou aan die gees van die Bybel nie.
Wanneer Josef byvoorbeeld Farao se drome uitlê, sê hy nie dat God dit aan hom geopenbaar het nie, maar "... I can't guarantee to get it right, it is just that I have not been wrong before ..." Wanneer Joseph deur Potifar se vrou uitgelok word, sê hy nie soos die Bybel sê dat hy nie mag/wil sondig nie, maar in antwoord op haar versoek: ''come and lie with me dear.'', ''... I don't believe in free love ...'' ensovoorts.
Iemand kritiseer dit as volg: ''Wat die Josefstorie betref, ..., naamlik of dit in beginsel verantwoord kan word dat die Woord van God vir die skep van vermaaklikheid aangewend word. ''Joseph'' word in die pers as '' Die vrolikste opvoering in die dorp'' aangebied - dus suiwer vermaak. Ongeag wat die inhoud is, stuit dit my teen die bors dat 'n sogenaamde bybelse stuk so betitel word. Uiteindelik is die Woord ook die benaming vir die vleesgeworde Woord. En dan kom die Derde Gebod baie sterk na vore."
Die bogenoemdes, Lloyd en Webber, het ook die blatant godslasterlike opera: "Jesus Christ Superstar" geskryf.
Kan lidmate van Gereformeerde kerke, kan die kinders van die Here in een juk saamtrek met hierdie op sensasie gerigte aanbiedings van bybelse geskiedenisse?
Oorskry 'n kerkraad nie die perke van die toelaatbare met die oog op kerklike fondsinsamelings nie?
Is dit amptelike leiding wat skriftuurlik/kerkordelik verantwoord is?
''Wat in elk geval sonder meer onaanvaarbaar is, is om enigsins enige deel van die heilsgeskiedenis te verlaag tot 'n stukkie vermaak. Die hele konsert is moderne dans/poptipe musiek waarvoor - ironies genoeg - baie van ons al bewustelik of onbewustelik geval het deur van die oulike deuntjies op JV- kampe te sing ...
''Wat die versapping betref: u sal my op my woord moet neem, ... daar was so 'n jaar of wat gelede 'n siek getintel in 'n koerantresensie oor hoe lekker wulps Potifar se vrou uitgebeeld is.
''Dis maar een deel van Josef se verhaal wat in hierdie stuk deur wêreldburgers vir ongelowiges uitgebeeld word op 'n wyse wat aanstootlik is vir die eerbiedige gelowige.
''Kerkmense behoort daar niks mee te doen te hê nie. Josef se geskiedenis is heilsgeskiedenis - goddelike beskikking wat mens stom laat staan. Daar hoort eerbied by, nie danspassies en blikmusiek nie'', aldus br Leonard van der Dussen. ®