Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 4 Julie 2000
KOMMENTAARWORD POLEMISERING TUSSEN GELOWIGES AFGEWYS?
- DS HLJ MOMBERG - PRETORIA-DIE KANDELAAR (GKSA) -
Daar is in DIE KERKBLAD diskussie gevoer oor die vraag na die beoefening van polemiek. Na aanleiding van bestrydende artikels in onder andere DIE KERKPAD, was dit aktueel om byvoorbeeld by n oordenking by die teologiese skool op 31 Augustus 1999 die praktyk van polemiek te bestry, en dat die betrokke bestryding in Die Kerkblad van Februarie 2000 gepubliseer is.Terwyl dr Vergeer met sy reaksie op die redakteur van Die Kerkpad se brief in die uitgawe van Die Kerkblad van 17 Mei 2000 die Griekse woordeboek uit die boekekas laat val het, is ek nou seker daarvan dat daar in die diskussie oor hierdie saak n spreekwoordelike Babelse verwarring is.
Ek neem die vrymoedigheid om enkele besware teen die anti-polemiese standpunt te maak.
1. Terwyl die Afrikaanse woord, polemiek, oorgeneem uit die Nederlands, in beide hierdie tale (volgens hulle amptelike taalhandboeke) n pennestryd beteken, wys dr Vergeer dit af op grond van die betekenis van die oorspronklike Griekse wortelbetekenis wat in die Bybel meestal met oorlogvoering en vegtery vertaal is.
Wat Prof Schilder betref, is dit sekerlik bekend watter ellelange polemieke hy gevoer het en baie keer op die geringste skewe trekkings van gesiene teoloë van sy tyd uitgevaar het. Soms tot so n uiterste mate dat daardie teoloë met verbasing vermeld het dat hulle hulleself nie meer herken in die wyse waarop Schilder hulle voorstel en bestry nie. Dit was by geleentheid onder besondere omstandighede dat Schilder die uitspraak gemaak het: "wie heden niet polemiseert, is niet bekeerd." Die vraag is of Schilder die Griekse betekenis van hierdie woord bedoel het of die erkende Nederlandse betekenis daarvan? Uit die praktyk van die saak is dit egter duidelik dat Schilder homself met pennestryd besig gehou het.
Sal ons dan ook onsself tot hierdie gebruiksbetekenis van polemiseer skik en sê dat dit mos nie waar is dat DIT die praktyk is wat deur Jakobus 4: 1 2 afgewys word nie? Dr Vergeer, in sy reaksie, meen tog wel so, bloot omdat die woord polemeo in Jakobus 4 voorkom en afgewys word. Die praktyk wat Jakobus polemeo noem, het ons in Afrikaans met vegterye en oorlogvoering vertaal, en dit word selfs deur Jakobus nog verder omskrywe in sy hoofstuk 4 as vegterye wat uit ons welluste voortkom, uit ons begeertes waarvoor ons nie bid nie maar voor veg, en as ons daarom bid, is dit om dit in ons welluste deur te bring. Vegterye wat in die konteks van egbrekers en egbreeksters staan wat deur die vriendskap met die wêreld, ons in vyandskap met God bring.
My eerste beswaar is dus dat polemiek n Afrikaans-Nederlandse term is wat pennestryd beteken en dat dit nie sonder meer op die woord polemeo in die Bybel bereken kan word nie.
2. Deurdat iemand afwysend teenoor die pennestryd staan, is so een dus ook afwysend teenoor die noodwendige praktyk, wat deur al die eeue van die kerkgeskiedenis toegepas is, om reformasie in die kerk te bewerkstellig.
Dit is by ons bekend hoedat die kerkvaders boeke geskrywe het teen die ketters van hul tyd. Dit is by ons bekend watter groot vrag van briewe-korrespondensie gevloei het. Watter openbare geskrifte alles in die stryd om die waarheid gepubliseer is. Ons moet maar net by wyse van een voorbeeld onsself afvra wat sou gebeur het as Luther nie sy boeke geskrywe het, wat die Pous in woede laat verbrand het nie. Wat sou ons as reformatoriese erfenis gehad het as Calvyn nie sy sterk antitetiese geskrifte die lig laat sien het nie. En as ons op advies van dr Vergeer se reaksie die weg van reformasie moet opgaan, hoe sou mens dit kon voorstel sonder die duidelike praktyke wat ons by die reformatore gesien het?
My tweede beswaar teen die afwysing van polemiek is dus dat dit noodwendig neerkom op n afwysing van die eeue bekende praktyk van reformasie.
3. Wanneer dit by die Bybelse begrip, polemeo kom, het ons met n geweldige ingrypende verskynsel te doen wat die kerk in haar wese reeds vanaf die moederbelofte in die paradys tot en met die laaste oomblikke van die aarde se bestaan raak. Die ware kerk op hierdie aarde word nie sonder rede die strydende kerk genoem nie, en sy word nie verniet opdrag gegee om die volle wapenrusting van God aan te trek om staande te bly teen die liste van die duiwel nie.
In Openbaring 12 word byvoorbeeld vertel hoedat Christus met sy hemelvaart n oorlog ontketen het waarin Migael en sy engele oorlog gevoer het (gepolemiseer het) teen die draak en die draak en sy engele het oorlog gevoer (gepolemiseer). Verder het die draak wat op die aarde neergewerp is, vertoornd op die vrou weggegaan om oorlog te voer (polemiseer) teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou. Die kerk moet haarself sien as die "ekklesia militans". Die vraag ten aansien van ons huidige debat is, of die oorlog dan ook mag plaasvind tussen medegelowiges, tussen mede-erfgename van die genade? Hieroor is Jakobus duidelik wanneer die oorlog sou plaasvind oor ons eie begeertes en welluste, dat dít nie mag nie.
Maar, dit is n heel ander saak wanneer mense binne die kerk voortgaan van kwaad tot erger (en dit reformasie noem), deur die genade van God te verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën, volgens hulle eie begeerlikhede wandel en trotse woorde spreek, terwyl hulle mense vlei ter wille van voordeel. Aan die Efesiërs het Paulus geskryf dat hulle hulself militêr moet aangord tot die stryd wat nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die bose geeste in die lug.
En in Openbaring 2 : 2-3 gee die Here Jesus n getuigskrif aangaande die Efesiërs hoedat die praktyk van hulle geestelike oorlogvoering lyk: "jou arbeid en jou volharding, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het, en dat jy verdra het en volharding besit, en ter wille van my Naam gearbei en nie moeg geword het nie." Hulle moes noodwendig ook met die swaard van die Gees en die skild van die geloof, ensovoorts, teen medebroeders daar onder hulle ingaan. Selfs die Here Jesus doen dit as Hy aan die gemeente Pergamus skryf dat Hy die Een met die skerp tweesnydende swaard is, en dat Hy teen hulle oorlog sal voer (polemeo) met die swaard van sy mond (Openb 2: 16).
Is dr Vergeer ernstig as hy sê dat polemeo nooit gebruik word om Jesus en sy dissipels se kommunikasie te beskryf nie? Die punt is egter dat dit gedoen moet word sodat die dwaling uitgewys word en die persoon tot bekering opgeroep word ter wille van sy behoud. So is die Woordverkondiging altyd, die lewende en kragtige Woord soos n tweesnydende swaard. Dit voer oorlog teen my vlees. Dit maak onderskeid tussen siel en gees en gewrigte en murg en is n beoordeelaar van die oorlegginge van die hart.
4. n Spesifieke paragraaf van dr Vergeer se reaksie verdien n antwoord: "Tog wil n mens versigtig vra: Wat was die vrug van hierdie vreeslike regsinnigheid? Hoe wys is dit om Gereformeerde skisofrenie (dan leeu, dan lam) [miskien word eerder hier psigopatie bedoel, HLJM] onder mekaar te handhaaf? Hoe rym sulke optrede met die Bybelse opdrag: Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig en verdra mekaar in liefde (Ef 4:2), of met Titus 3 : 2 se herinnering: om niemand te belaster nie, nie strydlustig te wees nie, vriendelik te wees en aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys? Geld hierdie opdragte ook as ons die pen opneem?"
Laat ons die antwoord maar gee met teenvrae: Wat was in die Bybelse geskiedenis asook in die kerkgeskiedenis telkens die vrug by gebrek aan hierdie vreeslike regsinnigheid? As dit nie vir die tragiese gebrek aan vreeslike regsinnigheid was nie, sou die Sinode van Dordtrecht van 1618 1619 met sy vrugte nie nodig gewees nie. As dit nie vanweë die afwesigheid van regsinnigheid was nie, sou die afskeiding van 1834 onder leiding van ds Hendrik de Kock van Ulrum nie nodig gewees het nie. En as daar n bietjie meer regsinnigheid by die kerke in Suid-Afrika was, sou die herstigting van die Gereformeerde kerke in 1859 onder die seringboom te Rustenburg ook nie nodig gewees het nie. Waarom moet vrae wat oor die absoluutheid van die Gereformeerde godsdiens gaan soos wat predikante dit vandag nog onderteken by bevestiging (vir wat dit werd is), deesdae so vreeslik versigtig gevra word?
5. Ek het n baie ernstige probleem met die selektiewe aanhalings oor liefde vir alle mense. Wat maak ons met n ander teks soos Psalm 139:19 en verder waar Dawid oor sy mede-erfgename van die verbond wat afvallig geraak het en wat hom vervolg bid: o God, as U tog maar die goddelose wou ombring! En julle, manne van bloed, gaan van my af weg! Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydelik verhef u teëstanders! HERE, sou ek die nie haat wat vir U haat, en n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met n volkome haat; vyande is hulle vir my! Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!
Ek sê alleen maar net soos dr Vergeer dat bybelse doelwitte met bybelse metodes bereik moet word. As iemand die verwaandheid het om sy ketterye in die openbaar uit te stal, moet hy ook die moed hê om n antwoord daarop in die openbaar te ontvang. Dit het iewers tyd geword dat ons as gelowiges in die Gereformeerde kerke vir mekaar moet sê dat die gesmeul tot hiertoe oor kamtige "middelmatige sake" tot n einde moet kom. Ons wil dit nie meer hoor nie. Ons sal dit ook nie ongesiens laat deurgaan nie. Die dwalings in die openbaar sal ook in die openbaar beveg word. Dis eg bybels. Dis in elk geval hoedat Paulus dit met Petrus gedoen het volgens sy beskrywing in Galasiërs 2 as dit onder ons as bybels genoeg beskou kan word.
Laastens: Dr Vergeer bepleit reformasie. Maar blykbaar net op die een slagspreuk van die reformasie dat ons deur die geloof alleen redding ontvang. Is dit hiermee klaar gesê? Is daar nie ook ten minste nog ander slagspreuke wat van die Skrif alleen, Christus alleen, en die eer van God alleen praat nie?
Laat ons dan getrou aan wat ons reeds met ons handtekening onderskryf het, weer bevestig: Die Gereformeerde godsdiens is eksklusief. Die Gereformeerde godsdiens is absoluut. Die Gereformeerde godsdiens is ononderhandelbaar. Dit het met die verskille waarvan Romeine 14 praat hoegenaamd niks te doen nie! En as reformasie dan die weg is, meen ek dat ons dus behoort saam te stem met die wyse waarop die reformatore van die vyftiende en sestiende eeue en daarna, ons in hierdie weg voorgegaan het.