Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 4 Julie 2000
KOMMENTAAR EVOLUSIONISME SONDER VOORBEHOUD!? - P VAN DER KOOI -EVOLUSIONISME IN DIE ONDERWYS
Dit is 'n bekende feit dat die leerboeke van skole en universiteite die ontstaan van die mens en teorieë oor die ouderdom van die aarde evolusionisties beskryf. Dit is nie net in hierdie onderwysbedeling nie, maar dit was reeds die geval in die tyd van die Suid-Afrikaanse Republiek van die vorige bedeling. Ds MJ Booyens beskryf dit in 'n saambundeling van 'n reeks artikels wat in DIE KERKBLAD, gedurende Januarie tot April 1970, verskyn het as volg:"Wetenskaplike handboeke, wat op ons skole en universiteite gebruik word, is gewoonlik hoofsaaklik op die beginsels van die evolusionisme gebaseer. 'n Mens kan jouself mettertyd moeilik loswring van die evolusionistiese gedagtes wat gedurig op elke moontlike wyse ingedra word. Die Afrikaanse Kinder-ensiklopedie en die Skatkisreeks, wat in baie Christenhuise aangetref word, verkondig albei die evolusie. Die vreemde dualisme by sodanige werke is dat hulle op 'n ander plek of onder 'n ander hoof weer ewe gemaklik die geloof in die skeppingsleer van die Bybel as die waarheid voorhou."
Met die huidige beleid van die "herskrywing" van die geskiedenis sal hierdie tendens selfs nog intensiveer.
In die vorige uitgawe van ons blad is die vraag bespreek of dit moontlik is om 'n Christen en (tegelykertyd) 'n evolusionis te wees. Dit was 'n artikel aangehaal uit DIE BOODSKAPPER (APK) van Maart 2000, bl 17. Die slotkonklusie is beklemtoon met dik letters: "'n Mens kan 'n Christen en 'n evolusionis wees, maar so 'n standpunt is wetenskaplik en bybels onhoudbaar. ... Die evolusie-teorie onteer God as Skepper en lei tot 'n rampspoedige sekularisering van die samelewing."
EVOLUSIONISME OP RADIO PRETORIA
Op die senders van RADIO PRETORIA word die wetenskap in die program "Ek wil weet", op Sondagaande en herhaal op Donderdagaande, helaas ook in 'n evolusionistiese trant aangebied. Veral deur die origens interessante deelname van dr Francois Durand, onder die leiding van Frik Pieterse. Gedurende Maart / April was daar 'n reeks voordragte wat hy gelewer het, waarin hy na die Bybel-gelowiges as fundamentaliste verwys het en hulle verweer teen evolusionisme nadruklik negatief en minagtend benader het.
"Ek het al verskeie kere by 'n fundamentalistiese byeenkoms gewees waar hulle dan teen evolusie praat en dan probeer hulle paleontoloë en geoloë belaglik te maak. Dan bou dié orator die spanning op. Dan sê hy met so 'n histeriese klimaks: 'En toe was dit bewys dat die voorgestelde voorouer van die perd niks anders as 'n dassie is nie!' En dan rol die gehoor al in die gange van die lag. Ek was verskeie kere daar en het gesien hoe dit daar gebeur het", aldus dr Durand.
Ons gee toe dat die voorbeeld en die beweerde wyse van weerlegging wat hy aanvoer, wetenskaplik swak gehanteer was. Tog is die wyse waarop die verwerping van evolusionisme deur hom bejeën word, 'n skandvlek in dié program wat andersins van hoë gehalte is. Dit hoort beslis nie tuis in die aanbieding van programme op Radio Pretoria, wat die Christelike geloofswaardes en tradisie van die Afrikanervolk wil handhaaf nie.
Daar is genoegsaam gesaghebbende lektuur oor die skriftuurlike verwerping van die evolusieteorieë beskikbaar waaruit dr Durand kon geput het om sy saak te motiveer.
"Maar nou kom die skrikwekkende hartseer van die hele storie. Wat die fundamentaliste doen, is die volgende. Hulle sê: omdat evolusie nie bestaan nie, bestaan God; òf as God bestaan kán evolusie nie bestaan nie. ... As jy jou godsdiens bou op so 'n stelling dan is dit nie rêrig 'n godsdiens nie, dan is dit 'n verskriklike ding wat gebeur. Want wat nou gebeur, is die volgende: Hierdie ouens trek 'n streep op die grond vir die wetenskaplikes, wat baie ateïste bevat. Ek weet, baie van my kollegas is ateïste, en hulle sien dit as 'n uitdaging om daardie gelowige mense, alhoewel mislei, aan te vat. En dan wat hulle doen is dit, hulle gaan nou bewys dat hierdie mense verkeerd is en dus dat God nie bestaan nie. Want onthou nou dat die fundamentaliste sê: òf die evolusie, òf God. En as die wetenskaplikes dan kan bewys dat die evolusie waar is, dan is, volgens die fundamentaliste, God nie waar nie. Hoekom kan mense nie ontspan en sê dat evolusie 'n natuurverskynsel is, dat evolusie die wyse is waardeur God geskep het. God is in beheer daarvan. Dit is soos embriologie. Waar kom mense vandaan, waar kom plante en diere vandaan? Hulle ontstaan deur 'n proses van embriologie . ... As die sperm en 'n eiersel saamsmelt dan het jy een sel, en van daardie een sel kom baie meer selle tot jy uiteindelik 'n mens het of 'n bakterie of 'n walvis of wat dit ook al mag wees. Maar dit maak nie God minder die Skepper nie. Net omdat ons nie die proses verstaan, maak dit God nie minder die Skepper nie", tot sover dr Durand in die program: "Ek wil weet", op Radio Pretoria.
'n Bekende Nederlandse natuurkundige, drs JA van Delden, het op 15 April 1972 oor die objektiwiteit van die wetenskap die volgende geskryf: Is ons dan wel wetenskaplik, dan wel objektief as ons uitgaan van die Bybel? As 'n bybelgetroue geoloog sy werk goed doen, dan is hy wel wetenskaplik besig, maar nie objektief nie. Ten minste, as objektief veronderstel: sonder geloof, sonder vooroordele. In daardie sin is egter niemand objektief, ook nie die onge-lowige nie. Gelowige en ongelowige geoloë verskil nie van mekaar op die punt van objektiwiteit nie, maar op die saak van hulle geloof. Die gelowige is bevooroordeeld deur sy geloof, die ongelowige deur sy ongeloof. Die bestudering van geologiese en biologiese gegewens en die vraag na hulle ontstaanstyd en geskiedenis mag dus nie sodanig gedoseer word, dat die betroubaarheid van die Bybel in die gedrang kom nie, juis as die Goddelike openbaring van die geskiedenis van die hemel en aarde.