Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 4 Julie 2000
MEDIESE ETIEK IS DIE STRAFREG DEEL VAN DIE GENEESKUNDE? - DR MC DURAND - Die afgelope tyd het die gevangenisdienste se naam verander na korrektiewe dienste. Baie mense het dit miskien nie agtergekom nie. Sommige het dit wel raakgesien, maar hulle nie veel daaraan gesteur nie. Deur hierdie naamsverandering het daar meer verander as wat met die eerste oogopslag verwag word. Hierdeur het die strafreg 'n hoofstuk van die Geneeskunde geword.Die strafreg behels verskeie veronderstellings. Voordat iemand gestraf kan word moet eers bewys word dat dié persoon skuldig aan 'n misdaad is. Die grond van die straf is die bewese skuld van 'n misdadiger. Dié skuld is gegrond op die feit dat hy/sy wederregtelik gehandel het, of die veronderstelling daarvan.
Sonde of Siekte?
Die bestaan van God word vir die burgerlike lewe nie as belangrik beskou nie. Derhalwe is dit te verwagte dat misdaad in die algemeen nie as 'n aantasting van God se regte beskou word nie. In die sekulêre wêreld word misdaad nie as sonde teen die Here se gebooie gesien nie. Dit word eerder getoets aan die aantasting van menseregte en die skade wat dit aanrig in die maatskappy. Misdaad word veelal as 'n sosiaal-patalogiese verskynsel beskou. Misdaad veroorsaak leed ten opsigte van die samelewing. So gesien is misdaad 'n antisosiale siekte van lyding in en teenoor die maatskappy. Met dit voor oë is dit maklik om 'n misdaad te diagnoseer, naamlik om dit te verklaar as 'n handeling wat materiële of fisiese skade veroorsaak aan bepaalde persone of instellings in die samelewing. Daarom is byvoor-beeld Sabbatsontheiliging nie 'n misdaad nie. Die maatskappy lei mos geen skade as openbare sport op Sondag bedryf word en dat die supermarkte en ander besighede op dié dag handel dryf nie? Misdaad is in die teenswoordige sekulêre staat geen sonde teen God meer nie, maar veeleer 'n geval van siekte wat 'n terapie van rehabilitasie benodig.
Bekering of probleemoplossing?
Wanneer lyding in die samelewing sodanig toegeneem het, of as individuele (mense-)regte geskend word, moet na die oplossing van dié probleem gesoek word. Dit behels (sekulêr) nie die verlossing van die sonde nie. Die oplossing word dán eers bereik as die grootste deel van die gemeenskap se geluk vermeerder kan word. Dit kan bereik word deur aksies vir die voorkoming van misdaad (oftewel die antisosiale siekte) en programme vir die rehabilitering van misdadigers (oftewel "sosiopate"). Wat gesoek word is nie in die eerste plek die versoening met God en die medemens nie, maar eerder die geluk en welvaart van die gemeenskap en die sosiale welsyn en regte van die mens.
Moreel aanspreekbaar of slagoffer van omstandighede?
Die prediking van die Woord van die Here ten aansien van die morele toestand van die bevolking word nie meer nodig geag nie. Die burgerlike owerhede en wetenskaplikes sal wel self kan voorsien vir die hele welsyn (medies sowel as sosiaal), insluitende die morele opheffing van die samelewing. Hulle poog om, los van God, 'n oplossing vir die sosiale patologie te vind. Dit betref, met ander woorde, die soewereiniteit van die rede. Dus hoef nie die bekering van die hart van die volk nagestrewe te word nie. Die oplossing word gesoek in die aanleidende oorsake van misdaad. En dan bevind hulle dat 'n misdadiger eintlik nie aan-spreeklik vir sy dade is nie, dat hy 'n waarskynlike slagoffer is van genetiese afwykings of die omstandighede waaronder hy opgegroei het. Homoseksualisme is vir dieselfde redes van die wetboek vir strafvervolging verwyder. Die oorsaak van hierdie "siekte" word in die samestelling van die chromosome asook die opvoeding en huislike omstandighede van sulke persone gesoek. Misdadigers is relatief nie skuldig aan kriminaliteit nie maar eerder beklagenswaardige slagoffers van hul aangebore en gebroke omstandighede.
Straf of rehabilitasie?
Indien daar geen werklike skuld by die misdadiger betrokke is nie, kan einlik geen vonnis, in die sin van straf, daaroor uitgespreek word nie. Dit wat die Here beveel vir die orde in die samelewing, dat misdadigers in ooreenstemming met die aard en maat van die oortreding gestraf moet word, is uit. Daar word rasioneel verwys na die sosiale reaksie in relasie tot die oortreding wat begaan is. Dié reaksie word hoofsaaklik daarop gerig om die sosiopaat te verbeter, om sy/haar afwykende gedrag deur middel van rehabilitasie te genees. Die einddoel daarvan is om die "pasiënt" in staat te stel om na sy "behandeling" nuttig in die samelewing te kan funksioneer. Daarom moet die staat en samelewing geduldig die laste van die korrektiewe dienste in sy pogings tot rehabilitasie dra. Die gemeenskap behoort hieroor nie te kla nie omdat die maatskappy en die omstandighede as die eintlike oorsaak en sondebok van die sosiale patalogie beskou word. Dit is die samelewing met die regering wat nie op tyd en voldoende gesorg het vir onderwys, behuising, voorsiening van water en elektrisiteit, riolering, mediese sorg en geteerde paaie nie. Dus is die maatskappy die eint-like skuldige. As die bevolkingsdeel wat nie misdaad pleeg nie, dus nou moet woon in huise wat soos tronke beveilig moet word en dat hulle genoop is om wapenarsenale op te bou, dan is dit hulle verdiende loon ... want hulle het die demoraliserende omstandighede vir die ontwikkeling van misdaad bevorder!
Rehabilitasiefonds of Siekefonds?
Met die bogenoemde toestande in ons land se gevangenisse, is dit duidelik dat die staat onmoontlik meer alle beweerde misdadigers kan rehabiliteer nie, net so min as wat hy alle mediese siektegevalle volledig kan behandel nie. Daarom moet dit dalk aanbeveel word om as gesin(ne) nie net aan te sluit by 'n mediese fonds nie, maar ook by 'n sosiaal-rehabilitasiefonds. Want sê maar daar gebeur dalk iets?!