Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 4 Julie 2000
OPVOEDING EN ONDERWYS BETEKEN "STAATSAKKREDITERING" 'N TOTALE OORGAWE AAN DIE "WENSE" VAN DIE STAAT? IS DIE BETEKENIS VAN "VOLKSEIE" NOODWENDIG "DIE VERAFGODING VAN AFRIKANERSKAP" EN DAAROM "UIT DIE BOSE"?DR PE VAN DER DUSSEN, REGISTRATEUR VAN DIE AKADEMIE VIR CHRISTELIK-VOLKSEIE ONDERWYS (ACVHO) LEWER HIEROOP DIE VOLGENDE KOMMENTAAR.
Ek pleit: Laat ons tog versigtig wees om ons oor sake uit te laat sonder om die presiese betekenis en inslag van sekere terminologie te begryp. En laat ons tog maar wegbly van ondeurdagte "beginselstellings" sonder om die werklikheid daarvan te deurdink.Een verwronge begrip is "staatsakkreditering" wat baie duidelik deur sommige mense vertolk word as totale oorgawe en onderwerping aan die wense van "die staat" of eintlik van die regering- van-die-dag (wat ek nogal as iets anders as "die staat" beskou). "Akkrediteer" kom van die Latyn ad - tot en credere - om te glo. Met ander woorde, om deur enige instelling of persoon "geakkrediteer" te word, beteken niks meer as om deur hom as geloofwaardig (= werd om geglo te word, kredietwaardig) erken te word nie. Oorganklik beteken "akkrediteer" volgens HAT bloot "volmag en bevoegdheid verleen deur geloofsbriewe". Nou, die staat het in die suiwer Skriftuurlike siening (Art 36, NGB) die roeping om goeie orde daar te stel en te bewaar. Val dit dan buite sy bevoegdheid om te sê ten einde gemoedsrus aan alle landsburgers te verskaf, moet ek sekere maatreëls instel wat sake reël en reguleer - dus aan regulasies onderwerp. Byvoorbeeld: Ry op die linkerkant van die pad. Stop by die stopstraat. Onderskei tussen wettige en onwettige handelaars. Onderskei tussen wettige en onwettige onderwysinstellings ... Wettig in die sin dat sulke onderwysinstellings aan bepaalde minimum gehaltevereistes voldoen sodat bedrog en uitbuiting voorkom kan word.
Soos wat SAFSERT die taak het om toe te sien dat alle eksamenrade aan minimum vereistes voldoen, maar buite sy boekie gaan as hy vir die BCVO-Eksamenraad wil sê jou standaard is te hoog of jou Christelike wetenskapsingesteldheid is verkeerd. Dan oortree "die staat" teen sy eie geroepenheid omdat hy dan self wanorde skep. Om dus nou te roep "dié en daardie is by die staat geakkrediteer en is daarom noodwendig onderhorig aan die staat" is nie net verkeerd nie - dit is oortreding van die Negende Gebod.
"Akkreditering" in die huidige opset ten opsigte van onderwys (deur byvoorbeeld die registrasie van skole en van die Akademie) mag bykomende doelwitte hê, maar dit beteken nie noodwendig dat vereiste op sigself verkeerd is en dat almal wat in die proses betrokke is, hulle onderdaniglik onder daardie doelwitte stel nie.
Nou dink ek maar net: Die BCVO-Eksa-menraad het akkreditasie (= volmag) by SAFSERT gevra en gekry en daardeur die wetlike reg verwerf om matrikulante van CVO-skole n eie eksamen te laat skryf. Hy kon natuurlik die eksamen in elk geval laat skryf het, maar hoe sou mense dan geweet het wat dit beteken, watter krediet daaraan toe te ken? Het die BCVO iets - ook maar iets - prysgegee? NEE! Sy leerplanne het dieselfde gebly, hy leer steeds dat ewolusie verkeerd is, hy plaas steeds sy onderrig in letterkunde op Skrifgrondslag, hy leer steeds Geskiedenis binne heils- en openbaringsverband. En tog is hy "geakkrediteer"! Hy het immers nie vir "die staat" gevra wàt hy moet leer om aan "die staat" se norme te voldoen nie. Hy het vir "die staat" gesê: "Hier is ek. Erken my soos ek is."
Wil al die beswaardes nou maar die BCVO-Eksamenraad wegdink? En die BCVO-kinders verplig om die eksamens van een van die inderdaad humanistiese Gode-vyandige eksamenrade te skryf? En dus ook hulle leerplanne te volg? Tog verstommend hoedat mense soms kan vassteek voor n meestal vermeende "verkeerdheid" in n saak en dan liewers maar op die totaal verkeerde saak terugval as om toe te gee.
Vergun my die volgende voorbeeld: Daar bestaan onder sekere "gereformeerdes" die standpunt dat "volkseie" noodwendig die verafgoding van Afrikanerskap is en daarom uit die Bose. Hulle stuur dus liewers hulle kinders na die staatskole toe wat deur en deur a-Christelik is (om maar aan die sagte kant te bly). Nou vra ek maar net: Wat is nou skadeliker vir die kind - om Christelik-volkseie onderwys te ontvang, of om a- Christelike a-volkseie onderwys te ontvang? Ongelukkig figureer hierdie standpunt by meer as een kerkverband nogal sterk, selfs so sterk dat een "stoere gereformeerde" my by geleentheid meegedeel (eintlik toegesnou) het dat Christelik-volkseie eintlik anti-Christelik is ... Is dit dan waaragtig sonde om te wees wat jy is en wie jy is - of is dit nie Godgegewe dinge nie?
Die Akademie vir CVHO lê DV in die komende dae sy stukke aan "die staat" voor om "akkreditering" te verkry. Vra hy goedkeuring vir sy standpunte? Vir sy leergange? Vir sy leerplanne? Vir sy wese? Nee. Al wat hy vra, is die erkenning van sy bevoegdheid om n universiteit te kan wees of minstens te kan word. Verder: Nie om n universiteit te wees wat aan die grille van outcomes-based education en oorlede Curriculum2005 voldoen nie, maar om aan die behoefte van sy eie Christelik-volkseie omgewing te voldoen. Prakties gestel: Om onderwysers vir CVO-skole en skole met n soortgelyke inslag op te lei. Om ekonome en bestuurders op te lei wat binne ons volk leiding kan neem. Maar dan op so n vlak dat hulle ook daarbuite erken sal word en in aanvraag gaan wees. Maar die opset en inhoud van wat hy leer, en sy standpunte - dit stel hy onomwonde en vra hy nie goedkeuring voor nie.
Nou word die vraag gevra: Hoekom moet n mens n universiteitsgraad hê aan n staatsgeakkrediteerde instelling wat humanisties is om jou kinders self skool te gee? In alle billikheid beskou ek dit as n uiters ingewikkelde stelling en as gevolg van sy ingewikkeldheid eintlik betekenisloos. Kyk bietjie self hoeveel begrippe en gedagtes daarin opgesluit lê! Verwag die vraer regtig n antwoord? Of probeer hy homself en sy vooringenome standpunt regverdig?
En dan die volgende stelling: Ons is vandag in n baie beter situasie as die ouers van die reformasietyd. In daardie tyd was die meeste mense ongeletterd. Die hervormers het egter so kwaai druk daarop gelê dat die mense op die grondvlak self die Bybel in hul eie taal moet kan lees dat n hele veldtog begin het om die gepeupel (sic!) op te lei om te kan lees en skryf. Nou is my vraag in alle beskeidenheid en miskien selfs dommigheid: Wie het die mense leer lees en skryf as hulle self ongeletterd was? Ons hoef egter nie sò ver terug te gaan nie. Eerder het ek gesê as ons voorouers die houding van sommiges ingeneem het, was ons vandag steeds ongeletterd. Drie geslagte terug in Suid-Afrika en vier geslagte terug in Europa was n groot deel van die bevolking ongeletterd - maar hulle het toegesien dat hulle kinders leer lees en skryf en hulle dit in die skole laat leer waar toegewyde opgeleide onderwysers hulle onderrig het.
Laat ons tog versigtig wees om ons oor sake uit te laat sonder om die presiese betekenis en inslag van sekere terminologie te begryp. En laat ons tog maar wegbly van ondeurdagte "beginselstellings" sonder om die werklikheid daarvan te deurdink.