Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 4 Julie 2000
OPVOEDING EN ONDERWYS MEDIAVERKLARING, VRYDAG 16 JUNIE 2000 Stigting van Hans Rooseboom-Studie leningstrust Die Raad van die Akademie vir Christelik-volkseie Hoër Onderwys maak met genoeë die stigting van die Hans Roosenboom-Studieleningstrust vir studente aan die Akademie bekend. Dié aankondiging is op die Algemene Jaarvergadering van die Beweging vir Christelik-volkseie Onderwys op Warmbad gedoen.Die Hans Roosenboomtrust is enkele jare gelede, ná die dood van mnr Hans Roosenboom en sy eggenote, in die lewe geroep. As vooroorlogse immigrante uit Nederland en as stoere gereformeerdes het hulle hulle gewig ten volle by die Afrikanervolk ingegooi in sy stryd om vryheid in sy eie land. Mnr Roosenboom is gedurende die Tweede Wêreldoorlog onder die Smutsbewind selfs ter dood veroordeel. Na die bewindsverandering van 1948 is hy egter vrygelaat en het hy in die Hansard-afdeling van die Parlement tot 'n senior posisie gevorder. As lidmaat van die Gereformeerde Kerk Kaapstad was hy bekend vir sy harde werk in diens van die Here.
Die egpaar was kinderloos en het besluit om die netto opbrengs van hulle boedel ná albei se oorlyde in 'n trust te laat plaas waarvan die rente ten bate van die bevordering van die Afrikanervolk aangewend moes word. Die Trustees het tot die gevolgtrekking gekom dat die werk van die Akademie vir CVHO in die huidige tydsgewrig en omstandighede by uitstek aan die doelstellinge van die Trust voldoen en het daarom besluit om die opgehoopte rente in 'n Trustfonds te stort wat uitsluitlik vir die verskaffing van studielenings aan studente van die Akademie aangewend moet word.
Die Raad van die Akademie betuig graag sy openbare dank aan die Trustees vir hierdie besluit wat in 'n uiters belangrike behoefte voorsien.
Voornemende studente wat in studielenings belangstel, kan vanaf Augustus 2000 aansoekvorms van die Akademiekantoor bekom, asook die voorwaardes waaronder lenings toegestaan sal word. Navraag kan by telefoon (012) 361 0168 (mnr Lourens Badenhorst) of 082 820 5298 (Dr Pieter van der Dussen) gedoen word.