Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 4 Julie 2000
PERSRUBRIEK DR YOLANDA DREYER SE MORAAL OOR SEKSUELE EKSKLUSIWITEIT - DS P NEL - BETHAL (VGKSA) - Met instemming oorgeneem uit KOMPAS (VGKSA) Junie 2000, bl 17 In BEELD van jongslede 3 April wil dr Yolanda Dreyer die druk op seksuele vryheid help verlig. Vir haar is die moderne Christene wat verder wil gaan as wat die Bybel gebied, ver-niet verleë oor hulle nuwe neiging in moraliteit. Sy sê onder andere:Saamblyers sluit gelowiges in - kerkmense, ouderlinge, diakens, skribas, orreliste en allerlei 'amptenare' van kerke. Sommige van die mense meen dat hulle saambly-situasie nie hul verhouding met God op enige manier kompromiteer nie. Ander ervaar 'n verleentheid, meer teenoor mense as voor God.
'n Soortgelyke praktyk bestaan ten opsigte van seks buite die huwelik. Jongmense, gelowiges of andersins, doen dit gewoonlik. Sommige ouer teologiese studente doen dit ook, verneem ek so verlangs. Ek hoor van dominee-ouers wat dit vermoed, maar hulle bly doodstil. Dis 'n dilemma. Hulle kyk liewer anderpad.
Ek het 'n vermoede dat die probleem nie by God en die Bybel gesoek hoef te word nie, maar dalk eerder by mensgemaakte sisteme, reëls en regulasies wat verouderd geraak het. Natuurlik is dit alles gebaseer op die Bybel: dit is hoe 'n mens die Bybel in 'n spesifieke tyd en omstandighede vir hulle lewenspraktyk verstaan het.
Maar tye, omstandighede en lewenspraktyke verander. Dit vra dat daar nuut gekyk en geluister moet word na die Bybel. Is seksuele eksklusiwiteit slegs binne 'n huwelikstruktuur vir die Bybel en vir God so 'n belangrike morele saak as wat dit gemaak is? In die bybelse tyd was seksuele eksklusiwiteit binne die huwelik nie 'n morele saak nie, maar 'n kwessie van besitreg. Dis net van vroue verwag. 'n Oortreding is gesien as: iets wat aan 'n ander man behoort (die vrou[e] se eksklusiewe seksualiteit), is van hom ''gesteel'' en daardeur is sy eer in die samelewing aangetas. Dit was dus 'n oortreding teen die man. Selfs verkragting is in die eerste plek gesien as 'n oortreding teen die man (eggenoot of vader) aan wie die vrou ''behoort''.
Dit net om te illustreer hoe groot die kloof tussen die Bybel en ons tyd soms kan wees. En so is daar ook 'n kloof tussen nou en vroeër toe die reëls en regulasies oor seks ontstaan het. Pleks van rigiede vashou aan ou standpunte sou seksualiteit in die lig van die bybelse getuienis oor God en medemens herwaardeer kon word.
Seks sou miskien gesien kon word as 'n geskenk van God bedoel om vreugde te gee en wat ook die hoogste verantwoordelikheid vra. Dit verg 'n duidelike bewussyn van die eie en die medemens se plek voor God. Wie van so 'n basis af optree, sal nie seermaak en skade berokken nie. Sonder so 'n basis kan mense mekaar binne-in wettige, kerklik-aanvaarde huwelike onmeetlike skade aandoen. Miskien kan daar in ons tyd eerder gefokus word op die inhoud en etiese effek van verhoudings as op uiterlike vorme en strukture, reëls en regulasies . Met 'n vars kyk na die Bybel ten opsigte van hierdie en ander morele kwessies, kan daar dalk selfs in die hedendaagse lewe iets waar word van ''jou naaste liefhê soos jouself''.
'n Mens het nie veel hulp nodig om te sien dat die motief vir Dreyer se nuwe hermeneutiek nie geleë is in haar respek vir God se Woord nie, maar eerder 'n strewe na populêre eksegese. Haar uitleg pas die ongelowige wêreld soos 'n handskoen. Die Skrif is baie duidelik. Al dek die inhoud daarvan 'n veel langer tyd as die ''gaping'' tussen ons en die Nuwe Testament, is dit konsekwent afwysend teen vrye liefde. Die seksuele behoort tot die huwelik, waar bruid en bruidegom die unieke en heilige liefde tussen Christus en sy bruid, sy kerk uitstraal. Enige iets anders is hoerery! In Openbaring 2 : 20 - 23 lees ons:
Maar Ek het enkele dinge teen jou, dat jy die vrou Isebel, wat haarself 'n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet. En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer, en sy het haar nie bekeer nie. Kyk Ek werp haar neer op 'n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in 'n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie.. En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.