Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 4 Julie 2001
DIE MITE VAN GELYKHEID
- DR AP TREURNICHT - 1974 - IN: ''WAAR DIE SOEKLIG VAL'', bl 94 - 97 -
Daar word tereg gesê dat ons ons jong manne sowel geestelik as militêr weerbaar moet maak, want daarsonder kan hulle nie militêr weerbaar wees nie. Dié waarheid is van die uiterste belang.As ons aanneem dat daar 'n uur kan kom wanneer 'n volk hom met die wapen teen oorrompeling moet verweer en sy lewe moet waag ter verdediging van alles wat vir hom kosbaar is, moet ons ook besef dat die hantering van wapens ter wille van die stryd of oorlog as sodanig sinloos is. Die vraag is: waarvoor stry mense? Wat beskerm hulle? Wat is vir hulle kosbaar?
Indien hulle in die koue oorlog, of met betrekking tot die stryd van die geeste, vooral op subtiele wyse verlam kan word, of so geïndoktrineer kan word dat hulle die teenoorgestelde glo van wat hulle voorheen met hulle lewe sou verdedig het, is dit werklik Ikabod. En dit wil vir ons voorkom of ons Westerse wêreld wat gedurende die afgelope eeue verbasende baanbrekerswerk verrig het en die verdediger van die hoogste geestelike en sedelike waardes was, nou geestelik so verdwaas en verwar is, dat dit geen wonder is dat sy weerstand teen ontaarding en die godlose Kommunisme so power is nie. In wye kring is ons besig om die stryd van die geeste te verloor omdat ons ons eie kenmerkende gees verloën. Ons kan kwalik met oortuiging teen onchristelike ideologieë veg indien ons self geen oortuiging of lewensbeskouing huldig wat in God se waarheid gefundeer is nie. In die stryd van die geeste en die worsteling van idees is halwe waarhede swak wapenrusting.
Elders het ek gewys op die vervalsing van die vryheidsidee. Dit is in die koue oorlog so uitgehol dat dit in sekere kringe presies die teenoorgestelde beteken van wat ware, geestelike, sedelike en nasionale vryheid is. Hier wil ek wys op 'n ander idee wat vervals en misbruik word om ons weerbaarheid te ondermyn. Dit is die ideaal van gelykheid. Eintlik moet ek praat van die mite van gelykheid.
Die propagering van die gelykheidsidee - soos dit met groot klem teenswoordig geskied - is in groot mate 'n reaksie op die uitbuiting en ellende wat met die ongelykheid van mense gepaard gegaan het. Dis ook 'n reaksie op die sondige hooghar-tigheid en aanmatiging wat uitgeloop het op onbeskryflike wreedheid teenoor diegene wat eintlik nie as menswaardig beskou is nie. Feit is dat daar in 'n wêreld van sterkes en swakkes, kapitaalsterkes en armes, eintlik maar altyd 'n ongelyke stryd aan die gang was en nog is.
Dit was die ongelykheid in stoflike welvaaart en die uitbuiting van die swakkes deur die sterkes wat in die vorige eeu deels verantwoordelik was vir die opkoms van die sosialisme en die Kommunisme. Die vryhandelsliberalisme of gelykop kompetisie as slagspreuk van die negentiende eeu het daartoe bygedra dat die besitlose werkers uitgebuit is deur dié wat die kapitaal en die produksiemiddele besit het. Die resultaat van die gelykheid in die kompetisie, het die skreiende ongelykheid op rampspoedige wyse bewys. As jy ongelykes as gelykes behandel in 'n wêreld van skerpe mededinging, laat jy die swakkes genadeloos deur die sterkes vertrap.
Nou is dit juis uit die geskiedenis baie duidelik dat die euwels wat uit die ongelykheid gebore is, nie bekamp kan word bloot deur alle mense verstandelik, ekonomies, kultureel en polities gelyk te verklaar nie. Iemand het eenmaal snedig opgemerk: ''Free men are not equal and equal men are not free!''
Wat die posisie soms nog moeiliker in plaas van deursigtiger maak, is die feit dat die voorstanders van die gelykheidsmite nie slegs van 'n beweerde natuurlike gelykheid van mense uitgaan nie, maar veral 'n godsdienstige motivering vir die natuurlike gelykheid gee. Een van die geliefkoosde Skrifgedeeltes waarop dan gebou word, is die woord van die apostel Paulus aan die Galasiërs (3: 28): ''Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man of vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus''. Die belangrike waarheid hier is dat iemand se volksverband of sosiale status of geslag hom nie 'n voorsprong of 'n eerste aanspraak op die saligheid bo ander gee nie. Voor God is almal doemwaardige sondaars en niemand word op eie verdienste geregverdig nie.
Dit is dan ook 'n waarheid wat inderdaad almal tot verootmoediging moet stem en ware nederigheid by ons moet aanwakker, sodat ons ons heil, buite onsself, in Christus moet soek.
Dit gaan egter om die gevolgtrekking wat hieruit gemaak word. Sommige sê: Daar het jy die ideale Christelike posisie wat nie net in die kerk nie, maar ook in die maatskappy en volks-lewe en in persoonlike verhoudings moet geld. In ons konkrete situasie sou dit dan beteken dat daar nie meer Engelssprekende, Afrikaner, Zoeloe, Kleurling of Boesman sou wees nie; almal is een en gelyk in Christus en daarom is alle onderskeidings en diskriminasie in die kerk en die maatskappy uit die bose.
Dié betoog wil te veel bewys. Dit ly skipbreuk op wat die apostel self sê: ''daar is nie meer man en vrou nie''. As die feit dat man en vrou op gelyke voet begenadig word, hulle nou ook liggaamlik en sielkundig gelyk maak, verg dit geen verbeel-ding om te besef watter ontaarding dit veronderstel nie. Die gelykslagtelykheid wat in sekere kringe gepropageer en beoefen word, is juis een van die afskuwelikste dinge, ook in ons tyd.
Dit is insiggewend om te lees hoe veldmaarskalk Smuts sy indrukke van die Algemene Vergadering van die Verenigde Volke in 1946 weergegee het. Hy het verklaar: ''By die VV het ek niks behalwe die woord gelykheid gehoor nie. Ek het die letterkunde, die politiek en die beskawing oor 'n leeftyd bestudeer en daardie woord is nie nuut nie. Volgens ons rooster is gelykheid 'n nuwe woord. (Maar) daar is geen gelykheid in hierdie land of op hierdie aarde nie. Dit is die tradisionele houding van die mens en jy sal dit nie verander nie.'' Hy het voortgegaan:''As jy menseslagting en interne botsings wil vermy, hou mense apart. Maak jou nie moeg oor gelykheid nie. Dit klop hoegenaamd nie met die werklikheid nie. Die mense by Lake Succes was dronk van slagkrete: gelykheid, geen diskriminasie. As daar geen leiers in die wêreld was nie, waar sou ons wees? Die een mens is beter as die ander. Dit is die les van die geskiedenis. Daar moet diskriminasie wees.'' Tot sover ons segsman.
Ons sê weer: die verkeerde beklemtoning van die ongelykheid tussen mense kan lei tot dwinglandy en wreedheid, liefdelose minagting en naywer, verontregting en opstand. Dit kan lei tot die miskenning van die medemens as 'n beelddraer van God. Teen sulke dinge is ons almal.
Dit sou 'n veel beter en mooier wêreld gewees het as daar meer wedersydse agting, begrip, welwillendheid en bereidheid tot onderlinge diens was. Daar is groot ruimte vir meer verdraagsaamheid. Maar nou besef ons maar alte goed uit dure ondervinding hoe dwaas dit is om uit naam van verdraagsaamheid, Christelike liefde en gelykheid, ongelyksoortiges saam te dwing of as gelyksoortiges te behandel. Ons voel aan ons lyf die gevolge van die na-oorlogse gelykmakingsug. Daar is nie plek vir 'n afsonderlike volksbestaan naas ander en, allermins, desnoods teenoor ander nie. Nasionalisme het die groot struikelblok op weg na die één wêreld en één ras geword.
Maar as ons die ideë-oorlog op hierdie punt verloor, moet ons maar ons geskiedenis vergeet, ons volksbewussyn verloën, wêreldburgerskap aanvaar, ons landsgrense oopgooi en ons land op 'n skinkbord aan ons vyande oorhandig ... En dit sou die snoodste ontrou wees.