Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 4 Julie 2001
Hoofartikel
DIE KONINKRYK VAN GOD
''Twee ryke, die een van die boses, die ander van die heiliges, strek hul bestaan af van die begin van die menslike geslag tot aan die einde van die węreld, wat tans na die liggaam vermeng maar na die gesindheid geskei is, maar wat op die oordeelsdag ook na die liggaam geskei sal word. ... Daar lę Jerusalem, die roemrugte stad van God wat dien as teken van die vrye stad, wat die hemelse Jerusalem genoem word. Die burgers van dié stad is almal geheiligde mense wat daar gewees het en is en nog sal wees, en alle geheiligde geeste, ook almal, wat in die hoogverhewe dele van die hemele God dien in vrome toewyding en die weerstaan van die goddelose verwaandheid van die duiwel en sy engele.''Die bogenoemde woorde verskyn in die kerkvader Augustinus se Civitate Dei, ''Die Godsryk'' of ''Die Staat Gods''. Op 'n min of meer Platoniese wyse beskryf hy die teenstelling tussen die verhewe, op God gerigte strewe as deel van die menslike bestaan, en andersyds die sekulęre samelewing wat hy tipeer as Babylon, die ryk en die gemeenskap van die goddeloses, want sę hy, die woord Babylon beteken verwarring. Augustinus se lewe dateer vanaf die jaar 354 tot 430 van ons jaartelling. Dit is dus byna 20 eeue gelede dat hy die antitese tussen die Godsryk en die ryk van die goddelose węreld beskryf het. Die aardse staat, wat nie uit die geloof lewe nie, streef na aardse vrede en vestig dit in die ooreenstemming van die burgers insake bevele en die gehoorsaamheid daaraan, sodat aangaande die sake van die aardse bestaan daar 'n ordelike wyse van samelewing kan wees, tot sover Augustinus.
In die vorige uitgawe is in die artikel oor "Kerk en Koninkryk" gestel dat dit die Christelike kerk se taak is om die Woord van die Here onvervals te bewaar en te profeteer in en teenoor die węreld. Ook dat dit nie die taak van die Kerk is om 'n kerk- of Christelike staat, afgeskei van die sekulęre samelewing, tot stand te bring nie. Daarby is ook gestel dat die gelowige kinders van die Here in die węreld lewe wat deur die Satan beheers word maar dat hulle hul nie daarmee kan vereenselwig nie. Dit is feitlik in ooreenstemming met die gedagtegang van Augustinus. Die węreld en sy beleid en al sy verleidinge kan nie weggewens en weggedenk word nie. Ons raak elke dag en orals waar ons gaan, daarmee gekonfronteerd.
As ons as ware Christen-gelowiges die dinge van die węreld in die lig van die Skrif ervaar en daaroor nadink en dit aan die heilige Woord van God toets, dan ontdek ons die antitese, die teenstelling tussen die węreldse (noodsaaklike) vereistes en 'n wetgewing waaraan ons, volgens die Skrif (Rom 13: 1-7) en ons geloofsbelydenis, (NGB, art 36) onderworpe is. Daar is soveel regeringsbesluite en handelinge wat nie met ons Christelike geloof rym nie. Daar is soveel goddeloosheid wat daagliks in die openbare media ten toon gestel word. Daar is soveel misdaad wat gepleeg word wat nie volgens die eis van God se Woord bestraf word nie. Daar is van owerheidsweë soveel ongeregtigheid wat in die wetgewing aanvaar en uitgevaardig word. Suid-Afrika word tans as die Mekka van die misdadigers getipeer. Wat staan ons te doen as wet en orde gaandeweg in duie stort en die waarde van die Rand devalueer en (veral op die platteland) vaste eiendom die gevaar loop om onteien te word?
Op watter wyse kan die kinders van die Here bydra om hulleself van die bogenoemde kwade simptome te vrywaar? Is daar 'n oplossing, 'n plan om aan dit alles te ontkom? Prediker 8: 11 en 12 verskaf 'n antwoord. ''Omdat die oordeel oor 'n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen; aangesien 'n sondaar honderd maal kwaad doen en hy lank lewe - alhoewel ek weet dat dit goed sal gaan met die wat God vrees, omdat hulle voor sy aangesig vrees, ...". Hierdie teks beskryf die oorsaak en die gevolge van ongeregtigheid teenoor die geregtigheid van die kinders van die Here. Solank die ongeregtigheid ongestraf voortgaan, bly daar vir die gelowiges die troos van die ewige lewe in die stad en die heerlikheid van God.
Om onder hierdie omstandighede te kan voortbestaan: fisies, kerklik, ekonomies en maatskaplik, is dit nodig om ons geestelik te verryk met die kennis wat beskikbaar is, in die eerste plaas met wat die Here se Woord ons leer hoedat ons onder die huidige omstandighede behoort te lewe en ons te gedra. Maar dan moet ook gekyk word na goeie Bybelkommentare en geluister word na kerklike en politieke leiding met die oog op vandag se moeite en stryd. Ons moet moeite doen om agtergrondkennis te bekom oor die prinsipiële en praktiese verskilpunte in vandag se bestaan. Waar lę die grense van toleransie, van aanvaarding en dié van geleidelike of aktiewe verset?
Die allerbelangrikste eis wat God aan ons stel is om te sorg vir sy huis, sy Woord en Kerk, dat dit onvervals bewaar en in stand gehou word. Valse leer en valse profete moet weerstaan en geweer word. ''Wanneer iemand as 'n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig. Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie ongehoorsaam is?" (1 Pet 4: 16, 17). Ons kan ons beywer vir die dinge van die staat en samelewing, vir ons fisiese beveiliging en ekonomiese voortbestaan, maar solank as ons ons nie bekommer oor die wel en weë van God se koninkryk nie, solank as ons persoonlike en die węreldlike sake sy Kerk en koninkryk oorheers, dan verloor ons die perspektief op die ware vryheid en geluksaligheid wat deel is van God se kinders tot in ewigheid.
Die stryd vir die bybelse geregtigheid begin met die reformasie van Christus se kerk, wat vandag kompartementeel en oor geloofsake verdeeld is en al hoe meer verdeeld raak. Ons moet orde op sake stel en onsself afvra of al dié verdeeldheid in die lig van God se Woord mag voortbestaan. Word dit nie tyd om oor die aanleidende oorsake daarvan te herbesin? Maar dit strek ook verder. Dit raak ook die węreldlike samelewing. Waarin kan ons as gelowiges mekaar vind om met mekaar saam te werk? Is daar dalk 'n moontlikheid om as Christen-gelowiges 'n basis te vind en 'n politieke eenheid te vorm om ons teen die wanstaltige multi-religieuse en multi-kulturele bedeling van die huidige eenheidstaat, beginselmatig en prakties te verweer?
Lę ons heil in die aanvaarding van die teenswoordige situasie, om ons maar stilswyend daaraan te onderwerp? Moet ons die omstandighede aanvaar as die toorn van die Here wat hierin tot uitdrukking kom? Ja, dit ook! Maar daarvoor skenk God tog ook vergifnis as ons ons in gehoorsaamheid tot Hom wend? Te meer geld die oproep tot reformasie op alle terreine van die lewe. Ons vereenselwig ons nie met die doelstellings, strewes en magte van die Satan nie. Ons durf dit nie doen nie. Daarom profeteer ons daarteen. Daarom bid ons vir uitkoms. Daarom werk ons ook met die krag en middele wat God aan ons verskaf om ons fisiese en ekonomiese bestaan te verdedig.
Bestaan daar 'n moontlikheid om 'n volkseie regering met vryheid en geregtigheid, soos ons daaraan glo, te herwin? Dit lyk onder vandag se omstandighede vrywel onmoontlik. Maar ons bely God as die Beskikker van ons lotgevalle. Dit is Hy wat staan bo die gewoel van die volkere. Daarom mag ons nie onverskillig staan teenoor sy werk wat Hy in sy koninkryk onder ons verrig nie. Hy heers oor die węreld. Dit is nie die Satan wat die eindstryd wen nie, maar Christus het dit reeds oorwin. Daarom moet ons as gewillige medewerkers aan sy koninkryk diensbaar wees. Dit geld op alle terreine; in die kerk, in die onderwys, in die politiek, die staat en samelewing .