Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 4 Julie 2001
KERK, STAAT EN MAATSKAPPYVerset is 'n woord wat sommiges laat skrik - andere na wapens laat gryp. Hierdie reaksies na beide kante toe getuig van onkunde.DIE VERHOUDING TUSSEN DIE KERK EN DIE STAAT VOLGENS DIE SKRIF
Slotaflewering
- PROF ROELOF MARè -
5. Roeping van die kerk
(Voorwaardes vir gehoorsaamheid aan die staat - Vervolg)
As Calvyn die vraag of Christene oorlog mag verklaar, beantwoord, sê hy tereg dat ons nie in die Nuwe Testament na 'n uitdruklike uitspraak daaroor moet soek nie, aangesien die apostels se doel nie was om 'n burgerlike regering te vorm nie. Net so stel ek dat die Bybel ook nie 'n uitgewerkte etiek ten opsigte van burgerlike gehooraamheid wat alle omstandighede dek, bied nie.
In hierdie verband is dit ook belangrik om te let op enkele grepe uit die sinodebesluit en beredenering van die GKSA in 1916 oor die Rebellie:
sommige lidmate het gesê dat daar baie misverstande en misdrywe was - ander het geglo dat dit om die behoud van die wortel van hul volksbestaan gegaan het;
dit is belangrik om te weet of die persone wat die leiding geneem het, in hul eie hoedanigheid opgetree het, en of hulle as volkshoofde (of mindere magistrate) gehandel het;
omdat lidmate so verdeeld oor die saak was, en nie ongetwyfeld gestel kon word wie daarin reg was nie, is besluit dat die Sinode "alle verschil van mening ter laatste instantie ... met alle vrijmoedigheid overlaat aan ieders geweten, voor ieders verantwoordelikheid.
Wat wel vasstaan, is dat alhoewel die Sinode die Rebellie nie goedgepraat het nie, hy dit ook nie kategories afgewys het nie. Sy besluit kom feitlik daarop neer: Dit hang af ... .
Dit kan nooit binne die bevoegdheid van die kerk val om te besluit dat die volk nou tot hierdie of daardie vorm van verset moet oorgaan nie. Al wat die kerk mag en moet doen, is om aan sy lidmate skriftuurlike leiding te gee oor burgerlike ongehoorsaamheid en verset. Indien 'n besluit tot verset geneem word, sal dit dié van die volk onder leiding van sy volksleiers wees.
As die Bybel dan nie gehoorsaamheid in alle omstandighede voorskryf nie, is die vraag watter vorme van verset teen die eie owerheid geoorloof is. Die antwoord is dat ons bereid moet wees om veel te ly, maar dat ook daaraan 'n grens is, naamlik sodra iets van ons geëis word wat in stryd met God se wil is. En hierin sal elke burger nie op eie houtjie kan optree nie (dit sou neerkom op losbandigheid en anargie), maar onder leiding van 'n ''volksmagistraat'' mag handel. Dit mag ook wees dat die Here 'n besondere leier tot dien effekte beskik. Sou geweld oorweeg word, is daar belangrike oorwegings wat in ag geneem moet word, aangesien geweld in 'n gegewe situasie net op selfvernietiging kan uitloop. Op hierdie aspek word nie ingegaan nie, omdat slegs op die beginselvraag of geweld toelaatbaar is, gefokus word. Miskien is dit die wil van die Here dat ons nog veel moet ly. Dit is egter nie aan ons geopenbaar nie, maar wél dat sy wil sal geskied.
Intussen moet ons met groot verantwoordelikheid en biddende afhanklikheid doen wat ons hand vind om te doen.
6. Die unieke posisie in Suid-Afrika vandag
Dis nie so maklik om uit te maak wat die etniese Afrikaner vandag te doen staan nie. Ons posisie is veral moeilik omdat die merendeel Afrikaners nie gelyk en soos ons dink nie, asook omdat ons 'n minderheid is.Verder kan ons enersyds sê dat ons onder die kategorie van punt 5.4.5 (sien vorige aflewering) val ('n vreemde heerser sit in ons land op die owerheidstoel; ons is nie weggevoer na 'n vreemde land nie, maar ons is onderwerp en gevangenes in ons eie land omdat van ons eie mense ons vaderland weggegee en wegge-stem het), en andersyds kan sommige onder ons dalk sê dat punt 5.4.6 ons posisie beskryf (dat ons verkeer onder die dwingelandy van ons eie regering).
Hoe en of ons weer volksvryheid sal verkry, weet net die alwyse God. Ons vertrou op Hom dat Hy dit op sy tyd en wyse sal beskik.
7. Samevatting
Die Skrif skryf in die algemeen aan ons gehoorsaamheid aan die owerheid voor. Die kerk moet die owerheid erken en eerbiedig asook vir hom bid. Verder moet die kerk aan sy lidmate skriftuurlike leiding ten opsigte van hulle gedrag teenoor die owerheid verskaf. Dit is hierdie beginsels waaraan elke Christenpolitikus gebonde is en moet bly. Al sou Christen-politici weens hulle getalleminderheid oënskynlik geen impak op die politiek van die dag hê nie, bly dit nogtans hulle roeping om God se heerskappy oor die politiek en die regering van ons land te verkondig. Deur dit te doen lewer hulle ten minste hulle skriftuurlike getuienis. Die staat moet weer van sy kant die kerk beskerm en so daaraan meewerk om die ryk van die antichris ten gronde te rig en valse godsdiens en afgodery uit te roei (vergelyk NGB, artikel 36).
DIE PAD NA HERSTEL - PROF H VAN DER WATEREN -
Dit is die eerste aflewering van 'n reeks radiopraatjies, in hierdie rubriek, wat die skrywer op die senders van Radio Pretoria gelewer het. Dit is gedoen onder die opskrif: ''Die Pad na Herstel''. Ons publiseer slegs die laaste vier uit die geheel van vyftien voordragte. Die geheel is in 'n brosjure beskikbaar en kan bestel word by die skrywer asook by die Woord en Klankwinkel van Radio Pretoria, Magalieskruin, Pretoria. Die aflewerings wat ons publiseer handel oor die saak van prinsipiële, politieke en en daadwerklike verset.(1) VERSET: DIE KLEIN WOORDJIE VAN GROOT DADE
Te vore is gewys op volksdruk. Volksdruk moet tot iets lei want anders is dit betekenisloos. Die "iets" waartoe dit moet lei is verset. En verset moet lei tot volksvryheid. Dan is daar sin en betekenis in die opwekking van volksdruk.
Betreffende die woordjie verset moet ons fyn onderskei. Want diegene wat verset roep sonder om die beginselwaardes daarvan uit te stippel is gewoon onverantwoordelik.
In die omlyning van verset moet veral gelet word op gesag, orde, doel, optrede en resultaat. Sonder deeglike onderskeidings ontaard verset tot rewolusie. En die verloop van 'n wanordelike rewolusie het ons al gesien; trouens ons beleef dit nog dag vir dag.
Hier, en in die komende drie aflewerings, sal op hierdie kwessies ingegaan word. Dit moet as fasette van verset beskou word.
Die eerste, en stellig belangrikste, is gesag en orde.
Die woord gesag is afgelei van sê. En dit plaas ons onmiddellik in die Woord, naamlik in Genesis. Daar lees ons, in die skeppingsverhaal telkens ... en God het gesê ... en dit was so. Deur te sê, skep God die ganse skepping. Hy oefen dus gesag uit deur te sê ... en dit kom tot stand. Maar daar is ook 'n tweede dimensie.
Aan die skepping in die betekenis van daarstel, word slegs in Ge-nesis 1:1 uitspraak gegee. Die res van die skeppingsverhaal gaan wesenlik oor ordeskepping, naamlik hoe die aardryk, die planteryk, die diereryk en uiteindelik die mens in 'n bepaalde orde en verhouding geskape word. Ons kan sê dat God al skeppende orden en al ordenende skep.
In wese is dit 'n misterie wat nie verstandelik deur ons bevat kan word nie. Vir die mens is gesag en orde twee onderdele. In God se skeppingswerk word dit saamgevoeg. So lê Hy die volmaakte verband tussen gesag en orde in die skepping neer.
Wat ons moet begryp is dat God in die skeiding van lig en duister-nis, water en droë grond, die onderskeiding van soorte plante en diere 'n bepaalde orde daarstel wat ons die natuurorde kan noem. En die mens word aangestel om hierdie orde te bewerk en te bewaak.
Met gesag het God geskape. Gesagvol onderhou Hy dit en deur sy gesag beklee Hy die mens met die opdrag om daaroor te heers, dit wil sê gesag te voer. En dit nie los van God nie, maar in dienende heerskappy. Hierin wortel alle gesag op aarde.
Wanneer die mens sondig, verwerp hy in wese die gesag van God. Dan wil hy hom nie meer laat gesê nie, maar hy wil self besluit. Die resultaat is dat God se bewarende Woord, die verhouding tussen gesag en orde, uitmekaar geskeur word. Daarmee tree wanorde in.
Wanorde in die aarde wat sigbaar word in verwoestende erosie.
Wanorde in die planteryk wat sigbaar word in die wanverhouding van bruikbare plante en onkruid.
Wanorde in die diereryk wat sigbaar word in die uitwissing van spesies.
Wanorde in die menseryk wat sigbaar word in verwoestende oorloë, pestilensies, armoede, ellende, moord, roof, magsdwang en oorheersing.
Omdat so 'n wanorde net tot totale verwoesting kan lei, gryp God in sy genade in.
Hy orden die mensdom in volke en stel hulle grense en woonplekke vas (Genesis 10 - 11 en Handelinge 17:26).
Hy stel owerhede vir die volke in om orde onder hulle te handhaaf (NGB, art 36; 1 Kor 14:33).
Hy gee aan die owerhede die nodige gesag om die ordeningstaak uit te voer (Rom 13:1-7).
Hy gryp selfs in om die oorheersingsdrang van die mens onder bedwang te bring (Gen 11).
Daarmee neem die geskiedenis van die mensdom sy loop. 'n Ge-skiedenis wat deurgaans die merk dra van die wanverhouding tussen gesag en orde; die worsteling tussen gesag en orde; tussen heers in roeping en oorheers oor ander; tussen sweetvolle arbeid om jou eie brood te verdien en die drang om in selfsug jou brood te verkry uit die sweet van 'n ander se aangesig.
So word die mensdom, die volke se geskiedenis eintlik 'n worsteling teen God. Want die mens wil gesag voer maar sonder om ook die ver-antwoordelikheid van sy ordeningsroeping te dra. Hy misbruik selfs sy gesag om wanorde te vestig. Daarom gryp God herhaaldelik in ten einde sy gesag, sy gesagvolle Woord oor die mens te hervestig sodat die mens nie in sy eie wanorde versink nie.
Daaruit ontstaan die spanning tussen mag en gesag. Die mens se magswellus botvier ordeloos sodat ordelike gesagsverhoudinge vernietig word. Hierdie wanverhouding tussen gesag en orde is deur Jesus Christus herstel.
Klokhelder klink sy antwoord aan Pilatus: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie (Joh 19:11).
En as Hy die magsryk van die Satan oorwin het, proklameer Hy met gesag: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde (Matt 28:18).
Dit beteken nie dat die magsworsteling op aarde ophou nie. Dit gaan kragtens die openbaring voort onder die mense (Openb 12:17).
Met die volstrekte magsproklamasie van die opgestane Jesus Christus kry ons perspektief op die owerheidsgesag wat nou oor ons gestel is. Die owerhede het slegs afgedeelde gesag en moet die mag van Christus erken.
Daarin is hulle 'n dienaar van God, jou ten goede.
Daarin moet die owerheid die Here in gehoorsaamheid dien.
In daardie diens moet hulle dan tot orde heers oor die stuk aarde wat aan hulle sorg toevertrou is.
Vir hierdie groot maar ryk taak is die owerheid alleen nie opgewasse nie. Daarom moet die onderdane die owerheid in hulle gebede dra sodat hulle 'n stil en rustige lewe kan lei. Hierin lê die wese van gehoorsaamheid aan of verset teen die owerheid. Hierby sal in die volgende aflewerings verder stilgestaan word.