Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 4 Julie 2001
MEDIESE ETIEK GEE ONS VANDAG ONS DAAGLIKSE BROOD- DR MC DURAND -
Die gebed tydens die siekte en sterfbed
Wanneer ons met al die nuusberigte oor gebedsgenesers en gebedsgenesings gekonfronteer word, klink dit asof die sieke slegs om n wondergenesing mag bid. Ons Here Jesus Christus leer ons egter die teendeel in die vierde bede van die Onse Vader. Wanneer die gelowige bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood - dan gaan dit duidelik nie eerstens oor die wonderbaarlike genesing nie, maar gaan dit om die genade van God vir n enkele dag. Dit gaan oor n enkele dag wat ook op die siekbed of sterfbed deurgebring mag word.
Eers die eer van Vader dán ons daaglikse behoeftes.
Ons moet op die volgorde van die bedes van die Onse Vader noukeurig let. Die Here toon ons dat die eerste bedes handel oor Hom: Laat u Naam geheilig word; Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied. Eers daarna kom ons behoeftes aan die beurt. Ons word geleer dat die eer van God voor enige van ons behoeftes kom. Selfs die grootste benoudhede van lewe en sterwe kan nie voor die eer van God gestel word nie (Christus plaas die eer van Vader immers voor Syne - Joh 8:49,50). Die vraag is: Hoe kan die gelowige in lyding of met die naderende afsterwing, God se eer eerstens oorweeg tydens sy gebed om daaglikse behoeftes? Naamlik: Hoe kan die gelowige in lyding God se heerskappy en genade in die voorsiening van die daaglikse behoeftes, met dankbaarheid erken?
Daarom bid ons vir ons daaglikse behoeftes slegs van ons Vader
Die gelowige word herinner dat beide siekte en gesondheid uit die hand van God hom toekom (Sondag 10, HK). Die genesing sal nie eerstens aan die operasies of artseny toegeskryf word nie, net so min sal die siekte eerstens aan die infeksie of kanker toegeskryf word. Ons word geroep om nie aan die skepping die eer te gee nie, maar wel aan die Skepper (Rom 1:25). Die gebed om die bewaring van ons lewe, al is dit net vir n enkele dag sal slegs aan Vader gerig word. Al die middele wat hiervoor aangewend mag word sal as Vader se skepping gesien word en enige uitwerking daarvan sal as die voorsienige werking van Vader gesien word.
Daarom bid ons vir ons daaglikse behoeftes in soverre dit Vader se wil is
Wanneer ons tydens die vierde bede eerstens aan die wysheid en die goedheid van God dink en die swakheid en boosheid van die mens, sal ons nie anders kan as om in nederigheid te bid nie. Wanneer ons dan bid dat Vader ons sal versorg met alles wat ons liggame daardie dag mag nodig, dan sal ons vra in soverre God dit vir ons goed dink. Ons weet dat God met meer as ons liggame besig is. Ons weet dat God ook met daardie aardse dinge besig is wat ons harte van Hom weghou. Daarom sal ons tydens die vierde bede ons eerstens onderwerp aan die wil van Vader.
Tydens die siekbed word ons dikwels beperk tot die daaglikse
Die ernstige sieke sal soms slegs van dag tot dag aan sy liggaamlike behoeftes voorsien word. Die siekte mag alle vooruitsigte na die volgende dag geheel en al uitwis. Die siekte mag sodanig wees dat die pasiënt selfs nie meer uitsien na die dag van môre nie. Dan sal die gelowiges uit die vierde bede leer dat aan die einde van daardie dag, al is daar geen vooruitsigte vir die volgende dag nie, Vader sy gebed om die daaglikse brood volkome verhoor het.
Die gelowige word deur die vierde bede herinner om met dankbaarheid volkome te berus by God se wil. Die gelowige weet dat die genade van God genoeg is - die genoegsaamheid van genade word nie gemeet aan die lengte van lewe of die graad van gesondheid nie, maar aan die bron daarvan, naamlik God. Vir die gelowige beteken dit veel en daarom sal hy nie angstig oor die volgende dag wees nie.
Wanneer ons vir een dag na liggaam ontvang het, het ons reeds genoeg ontvang. (Matt 6:34, vergelyk ook Deut 8:16). Deur die vierde bede word ons geleer om te leef asof dit ons laaste dag is.
Die gawe van n dag, al is dit net een dag is nie sonder opdrag nie. Selfs n dag op die sterfbed is nie onthef van rentmeesterskap nie. Selfs al sou dit die laaste dag wees moet ons die krag wat God tot ons beskikking gestel het verantwoordelik as konings, priesters en profete aanwend.
In hierdie bede leer die Here verder van die gemeenskaplike aspek van die gebed vir die daaglikse instandhouding. Ons bid nie: Gee my vandag my daaglikse brood nie, ons bid immers: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Deur die vierde bede word ons geleer om nie net met onsself besig te wees nie. Die gelowige op sy siekbed sal ook vir ander bid wat minder as hy het.
Die gelowige pasiënt sal egter nie een dag van God wil aanneem sonder die seëning van God nie. Want ons weet dat God ook in toorn kan gee (vergelyk Pred 5:13; Num 11:24). Daarom sal ons geen dag hetsy met siekte of met gesondheid sonder die gebed tot die Here om seëning wil neem nie (vergelyk Ps 132:15; 106:15; Matt 4:4).
Tydens die siekbed ontvang die gelowige soms minder as die daaglikse
Die siekbed behels dikwels agteruitgang. Die pasiënt se kragte kwyn en sy dood nader. Tog sal die vierde gebed nie sy krag verloor nie. Want ons het meer as brood nodig, en God gee ons ook meer as die onderhouding van die liggaam. God gee net die beste aan Sy gelowige kinders. Dit beteken dat Hy ons nie eerstens na ons liggame voed nie, maar dat Hy ons gee wat nodig is om ons tot die hemel te onderhou en te bewaar. God kan ook met die geringe gawe seën.
Wanneer God die gelowige minder as die dag se onderhouding gee sal die gelowige herinner word dat geen gebed of enige ander gehoorsaamheid van die mens, God ooit in die skuld kan plaas en Hom kan dwing tot nakoming van die menslike aanvraag nie. Wanneer die gelowige minder ontvang as die dag se instandhouding word hy eerder aan sy eie skuld voor God herinner. Die gelowige sal weet dat God soveel gee as waarvoor hy verantwoordelikheid moet neem. God gee aan die een meer en aan die ander minder, God gee nie meer as wat Sy kinders kan gebruik of verantwoordelikheid voor kan neem nie. God sal ook nie aan Sy geliefdes minder gee as wat hulle nodig het nie. (vergelyk Luk 16:2). Nie elke gelowige kan dieselfde verantwoordelikheid dra nie. Die mens wat minder besit hoef ook minder rekenskap te gee (Luk 16:2).
Tydens die siekbed of sterfbed van die gelowige leer die vierde bede dat God Sy kinders uit genade elke dag onderhou - nie eerstens vir die brood van n enkele dag nie, maar wel tot die ewige feesmaal.