Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die Koninkryk van God

SKRIFOORDENKING:
Die groeikrag van die Koninkryk

AKTUEEL
"Homoseksueel" Moet uit Afrikaanse Bybelvertaling verwyder word.

Die Psalmbundel van Petrus Datheen

Sabat (=rusdag) en Sondag as opstandingsdag in die lig van God se ewige genadeverbond

Heilshistorie of "Oergeskiedenis"

Deputate of Deputaatskappe? 'n Nuwe aktualiteit in die GKSA

Kleredrag in die Kerk

Die mitte van gelykheid

KERKLIKE JOERNAAL: 
Nuwe rektor vir die PU vir CHO

Sal NG Kerk luister na van sy jong mense?

Wat doen die SA owerheid?

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Toespraak: Begrotingspos onderwys

Ewolusieteorieë onbetwisbaar en wetenskaplik?

Onderwys in Kaapland 1910

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die verhuiding tussen die Kerk en die  Staat volgens die Skrif

PERSRUBRIEK: 
'n Groeiende verlange na 'n vrye NG Kerk


Bitter gevolge van loteryverslawing

Onverkwiklike debat oor homoseksueles

Gedagtes oor die passiespel in Oberammergau

Uitleef van Godsdienstige en kulturele oortuigings ondergeskik aan die handves van menseregte

Handves kom oor seksuele regte

Werkswinkel te Potchefstroom 2 - 4 Mei 2001

Ds Hennie Momberg : Besluit van voordrag tydens die werkswinkel te Potchefstroom

Dienaars te perd en lasgevers te voet?

MEDIESE ETIEK: 
Gee ons vandag ons daaglikse brood

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 5  No 4 Julie 2001

SKRIFOORDENKING

DIE GROEIKRAG VAN DIE KONINKRYK

Skriflesing: Matt 13:31-35; Hand 1: 1-11; Openb 19:1-10   -  Teks: Matt 13:31-33

-  DS SA CILLIERS - WATERBERG  -

'n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninnkryk van die hemele is soos 'n mosterdsaad wat 'n man neem en in sy land saai; wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as die groentesoorte en 'n boom word, sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke. 'n Ander gelykenis het Hy hulle vertel: Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat 'n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is.                            Matt 13: 31-33

 

Met hemelvaart is Jesus Christus voor die oë van sy dissipels van die aarde af na die hemel opgeneem. Daar betoon Hy Hom as die Hoof van sy koninkryk, deur wie die Vader alle dinge regeer. Die hemelvaart was dus Christus se troonsbestyging in die hemel. Vandaar uit regeer Hy ons, deur sy Woord en Gees, as Koning, hier op aarde

WAT IS U VERWAGTING VAN DIE KONINKRYK VAN DIE HEMELE, HIER OP AARDE?

By die Jode was daar ‘n baie sterk verwagting rondom die koms van die Messias. Volgens hulle sou Hy hulle aardse ryk weer in ere herstel deur dit van die Roomse Ryk te bevry. Hierdie hoë verwagtings het na die koms van Jesus by baie Jode begin vervaag, want Jesus is aanvanklik gesien as die groot Gelukbringer en nou moet hulle opmerk dat sy optrede volstrek anders is as wat hulle verwag het. Sommiges het dit selfs oorweeg om Jesus te verlaat en mense moes voortdurend bemoedig word om te volhard in hulle navolging van Jesus Christus.

Is al die onsekerheid en twyfel wat daar vandag rondom die kerk en God se koninkryk in hierdie wêreld bestaan, nie ook vanweë valse verwagtinge nie?

Ons is vandag so daarop ingestel om net dinge te sien gebeur.

Ons is so ingestel op aksie en produksie, selfs die kerk word al hoe meer met hierdie maatstawe gemeet.

En sou die kerk wat ons tereg erken as die sigbare gestalte van die koninkryk van die hemele, nie hier-aan voldoen nie, is ons erg teleurgesteld. Sommige oorweeg dan om die kerk te verlaat en ander wil die kerk summier afskryf.

Ons het nie altyd begrip vir die wonderlike groeikrag van die koninkryk van die hemele nie. Daarom moet ons weer met aandag luister na hierdie twee gelykenisse wat Jesus, die Koning van die koninkryk, vir ons laat opgeteken het.

GOD SE KLEIN BEGIN VERSEKER REEDS AAN ONS ‘N GROOT EN WONDERLIKE EINDE.

Die belangrikste punt van ooreenkoms tussen hierdie twee gelykenisse (Matt 13:31-33] is juis die kleinheid van die begin gestel teenoor die grootheid van die eindresultaat.

Die mosterd waarvan hier sprake is, het in verhouding met ander sade, die kleinste saadjies, nogtans die groeikrag om uit te groei tot ‘n kragtige struik wat selfs ‘n boom genoem kan word. Voëls kan selfs in die takke hulle neste bou. Die duidelik sigbare groei van die mosterdplant staan hier sterk op die voorgrond. Die suurdeeg se stille deurwerkende krag is daarteenoor minder sigbaar.

In die geval van die suurdeeg word ‘n buitengewoon groot hoeveelheid meel genoem. Die klein hoeveel-heid suurdeeg bewerk iets wat aan ‘n wonder grens deurdat dit hierdie massa meel deursuur en laat rys. Hierin is dit vir ons duidelik dat die voortgaande groei in die koninkryk van die hemel geweldig en onweerstaanbaar is.

Selfs uit die onaansienlikste en kleinste begin, trouens met die geboorte van ‘n babatjie wat met doeke toegedraai in ‘n krip in Betlehem lê, volg die wonder van die wêreldomspannende Godsryk voor wie alle ander ryke sal verkrummel. Met sy troonbestyging het net elf ooggetuies dit aanskou, maar by die voleinding sal ‘n wêreldkoor dit uitroep: "Halleluja, want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar. Laat ons bly wees en ons verheug… (Openb 19: 6b)

Iets van hierdie onweerstaanbare en kragtige groei kan ons reeds raaksien in tweeduisend jaar se kerkgeskiedenis. Dit alles het begin by twaalf eenvoudige dissipels, maar dit het in hierdie wêreld tot openbaring gekom sonder die mag van geld, of die krag van die swaard. Die wêreld was ontsaglik vyandig, maar ongeag ‘n intense stryd en martelaarskap het hierdie saad gegroei en het dit reeds ‘n omvang bereik wat vir daardie dissipels na ‘n onmoontlikheid gelyk het. Trouens wie ‘n mosterdsaadjie nie ken nie, sal dit ook onmoontlik ag dat daar so ‘n groot struik daaruit kan groei.

Die oorwinning van Jesus Christus deur sy lyde, dood, opstanding en hemelvaart, asook die kragtige werk van die Heilige Gees, is die innerlike krag wat in die koninkryk van die hemele skuil. En hoewel dit vandag soms lyk asof die koninkryk van die hemele ‘n verlore stryd stry, verseker hierdie gelykenisse ons dat Jesus Christus wel sy volkome heerskappy oor ons en oor die wêreld eendag duidelik sal toon. Geen ander heerser of koning sal dit van Hom kan weerhou nie. Die poorte van die doderyk sal sy Koninkryk nie oorweldig nie.

Reeds by die kleinste begin en die kleinste ontplooiing van die koninkryk van die hemele op aarde kan ons verseker wees van die volle oorwinning daarvan. Jesus is inderdaad nou reeds ons Koning wat ons deur sy Woord en Gees regeer. Niks sal ons uit sy hand ruk nie. Ons is nie êrens in die toekoms eers burgers van sy koninkryk nie. Ons is dit nou reeds!

GELOWIGES IS AKTIEWE MEDE-WERKERS IN HIERDIE KONINKRYK.

Jesus maak melding van ‘n man wat die mosterdsaad in sy land geplant het asook van ‘n vrou wat die suurdeeg in ‘n groot skottel meel ingewerk het. Dit is hoe die koninkryk bevorder word deur die medewerking van mense as God se instrumente. Dit is treffend hoe hier van doodgewone mense in hulle alledaagse werk melding gemaak word. ‘n Saaier en ‘n knieër. Onder God se seënende hand het selfs hulle nietige werkies ‘n verbysterende uitwerking in die koninkryk van die hemele.

Die werk wat u verrig is nie te klein en dus glad nie onbelangrik in God se koninkryk nie. Die werk in God se koninkryk is nie net vir spesialiste nie (vir predikante, ouderlinge, diakens en wyksusters). Die werk in God se koninkryk daarbuite is ook nie net vir voorsitters en bestuurslede en ander sogenaamde belangrike mense nie. Dit kan ook eenvoudige timmermanne, vissers en selfs tollenaars wees. Die werk is ook nie net vir spesiale begenadigde begaafdes nie. (Petrus kon wel goed sy woord doen, maar Moses kon nie.)

Al wat God hier van ons almal vra is dat ons ons kleingelowigheid moet laat vaar en dat ons in die geloof moet groei, dan kom die werke vanself. Dit help nie om in besit te wees van ‘n mosterdsaadjie, maar dit op die rak te vergeet nie; ook nie om genoeg suurdeeg te hê om dit in die meel in te knie nie; dan sal ons geen van die wonderlike eindresultate kan meemaak nie. Nee, jy moet uitgaan en die mosterdsaad gaan plant en natmaak. Jy moet jou moue oprol, jou hande was en die suurdeeg in die meel inknie.

Ons moet oppas dat ons nie leunstoelgelowiges word nie. Ons moet elke dag vanuit die geloof werk. In ons land, te midde van al sy donker omstandighede, sal daar weer gelowig gesaai en geknie moet word. Die Woord van God moet elke dag in ons eie lewe, in die lewe van ons gesinne asook in ons werksituasies ingeknie word. Ons sal dit opnuut moet inknie in die onderwys, in die eko-nomie, in ons arbeidsverhoudinge en personeelsaangeleenthede. Ja in ons hele volkshuishouding sal die koningswoord van Hom wat sit op sy hemeltroon ingeknie en oral ingesaai moet word.

Om saad te plant of om te knie mag ‘n eenvoudige werkie wees, maar dit vra soms moeite en inspanning. By tye mag hierdie werk selfs tevergeefs lyk. Dit was reeds so in die dae van Sagaria, maar toe het God hulle al gewaarsku om nie die dag van klein dingetjies gering te ag nie (Sag 4:10). Jou getuienis aan ‘n vriend, ‘n buurman of kollega, kan so gering lyk soos ‘n mosterdsaadjie. Dit kan selfs lyk asof hulle nie daaraan aandag gee nie, maar die suiwere getuienis van die koninkryk van die hemele dra die vermoë van Christus se oorwinning en die krag van die Heilige Gees.

Jy worstel dalk vandag met ernstige krisisse.

Jy wonder of die geharde sondaar by die werk of in jou familie ooit weer vir Christus sal lewe?

Miskien twyfel jy ook daaraan of ons Afrikanervolk ooit weer onder sy eie Christelike regering sal kan staan.

Miskien twyfel jy aan die bestaansreg van ‘n klein Christelike privaatskooltjie.

Dalk het jy reeds alle hoop laat vaar dat die huwelik van iemand wat jy ken, wat in liefdelose flarde lê, weer in liefde tot eer van God sal opvlam?

Miskien is jou worstelinge so groot omdat jou verwagtings van die koninkryk van die hemele so klein is. Jy het dalk ook moeg geword om nog te saai en te knie. Omdat alles so hopeloos lyk het dit die geweldige groeikrag van die mosterdsaadjie asook die onweerstaanbare werking van die suurdeeg so dringend nodig.

Moet dan tog nooit ophou om te saai nie, God sal op sy tyd die wonderlike wasdom gee.

Hou nie op om die suurdeeg van God se koninkryk in hierdie wêreld in te knie nie.

Vir hierdie belangrike saai en kniewerk moes sy dissipels tien dae biddend wag en is hulle toegerus met krag uit die hemel. God self het deur sy Gees by hulle kom woning maak.

Christus se byna ongesiene hemelvaart dra die kiem van die mosterdsaadjie. Johannes was op Patmos begenadigd om die kragtige uitwerking daarvan in ‘n gesig te kon sien. Maar ook jy en ek is begenadig om die getuies te kan hoor. Ons kan selfs die kragtige werking van die Heilige Gees in ons harte ervaar. Ook ons ontvang die krag om te kan saai en te kan knie. Weldra kom die voleinding en die finale triomf van Hom aan Wie alle mag in die hemel en op die aarde behoort. Hy is die groot Oorwinnaar. Hy sal alles weer nuut maak. Aan Hom kom toe die danksegging, die eer en die aanbidding van ons harte, nou tot in ewigheid.

Eendag sal ons ook deel wees van die magtige koor wat dit sal bevestig. Halleluja, want die Here God, die Almagtige het die koningskap aanvaar.