Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 4 Julie 2001
PersrubriekMET INSTEMMING EN ERKENNING AAN DIE REDAKSIE,DIENAARS TE PERD EN LASGEVERS TE VOET?
Die eerste week in Meimaand. 'n Groep teoloë kom byeen. Hulle hou 'n werkwinkel in Potchefstroom. Die onderwerp? Die posisie van die vrou in die kerk en samelewing. Die pers word toegelaat. Die Potchefstroomse werkwinkel mag aan die breë publiek bekendgestel word. Van 3-5 Mei verskyn daar elke dag 'n kort berig oor die werkwinkel in die dagblad Beeld. ...OORGENEEM UIT WAARHEID EN DWALING - JAARGANG 7, NO 5, MEI 2001
Die samestelling van die werkwinkel? Beeld
vermeld die name van slegs drie gereformeerde teoloë, naamlik professore Koos Vorster en Fika van Rensburg, asook dr Wim Vergeer. Verder lees ons die name van drie teoloë van Unisa, te wete Frances Klopper, Pieter Botha en Gerrie Snyman. Die drie gereformeerdes verbind hulle aan die leer van die Skrif en die belydenis van die kerke deur die ondertekening van die Drie Formuliere van Eenheid. Die drie Unisa-teoloë? Klopper en Botha stel voor om die naam van ons hemelse Vader te verander. Lastering van die Naam word bepleit, 'omdat te veel vroue ly as gevolg van die manlike oorheersing wat' deur die gebruik van die Vadernaam 'versterk word'. Gerrie Snyman? Sy 'hermeneutiek' is (reeds) skriftuurlik beoordeel. Hierdie drie Unisa-teoloë verwerp die goddelikheid van die Heilige Skrif, Die Woord het vir hulle geen goddelike gesag nie.Dit behoort tot die dienspligte van ons professore om 'die suiwere leer teen die kettery en dwalinge te verdedig' (Kerkorde, art 18). Dit moet hulle ook doen in 'n werkwinkel waar hulle eie opinies lug. Het hulle die leer van die kerk daar voorgestaan?
My eerste reaksie gaan oor wat prof Van Rensburg en dr Vergeer in die werkwinkel opgemerk het. Van Rensburg het gesê dat vroue tot die besondere ampte in die kerk toegelaat moet word. Vergeer het volgens die kort verslag in Beeld 'in sy lesing skerp kritiek uitgespreek en verskeie foute aangetoon in 'n verslag wat in 1988 voor die sinode gedien het'. Hy het verder 1 Timoteus 2: 8-15 'so verklaar dat dit nie beteken dat vroue vandag steeds nie predikante mag word nie.'
Twee gereformeerde teoloë praat in 'n werkwinkel openlik teen sinodebesluite oor die posisie van die vrou in die kerk sonder om die kerklike weg te gaan. Dienaars van die kerke distansieer hulle openlik van besluite van die kerke. Die struktuur van die kerklike gesag word op sy kop gesit. Wat onder is, stel hulle bo en wat bo is, onder. Dienaars van kerke volg nie die kerke nie. Hulle druk die kerke om hulle te volg. Dienaars te perd. Hulle here (die kerke) te voet? Dis nog hulle verbeelding. Kerke het nie hulle gesag aan die dienaars oorgedra nie. Goddank.
Die tweede reaksie gaan oor die vraag: Wie verleen aan ons teoloë die bevoegdheid om aan hierdie werkwinkel deel te neem? Hierdie vraag moet gestel word na die besluit van ons laaste sinode oor die posisie van die vrou in die kerk. Dié sinode stel deputate aan met die opdrag om oor die posisie van die vrou te studeer en aan die volgende sinode te rapporteer. Hierdie deputate vra die kerke om insette te lewer. In hierdie situasie kan ons professore vrymoedig studeer en die resultate aan die kerklike deputate voorlê.
Dienaars van die kerke is egter - nou afgesien van hulle onder-myning van sinodebesluite - eties nie geregtig om sonder kerklike toestemming langs of teenoor die deputate en voordat deputate hulle werk afgerond het, openlik te dekreteer waarop die studie van deputate moet uitloop nie. Hier klim die dienaars (professore) nogmaals op die perd van die kerke (deputate).
Die kerke (lasgewers van ons professore) het die reg om te verneem of prof Van Rensburg en moontlik ander professore van ons Teologiese Skool wat aan die studieprojek oor die vrou in die kerk en samelewing deelneem, kerklik gemagtig is om ten aanhore van die pers bogenoemde uitsprake oor die posisie van die vrou te lewer. Met ander woorde: Het die kuratore hulle dié bevoegdheid verleen?
Die optrede van prof Van Rensburg en dr Vergeer in die werkwinkel is 'n kerklike variant op 'n 'verkeerdheid' wat die Prediker 'onder die son gesien het'. Die omgekeerde wêreld, rewolusie. Hy sê: 'Ek het slawe te perd gesien en vorste wat soos slawe op die grond loop' (Pred 10: 5-7). Dienaars van die kerke te perd, en hulle opdraggewers (kuratore?, sinodebesluite, kerklike deputate) te voet? Kuratore en kerke sal dienaars wat hulle lasgewers minag, tog sekerlik gou-gou op hulle plek sit?