|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 4 Julie 2002
Kondome nou ook op die kampus van die PU vir CHO beskikbaar
Die gebruik van kondome word aangemoedig om sogenaamd veilige seks te beoefen. Dit het ontstaan onder omstandighede dat die Vigs-pandemie hand uitruk en om verspreiding daarvan soveel as moontlik te voorkom. Hierdie siektetoestand vind sy oorsprong by en ontwikkel onder mense wat in Bybelse sin ongeoorloofde geslagsgemeenskap met in die reël meer as een persoon van die teenoorgestelde of, selfs homogeen, van dieselfde geslag beoefen. Dit is van hùlle wat kondooms nodig het om op dié wyse te sondig, om ontug te pleeg en uit te leef. Die behoefte aan kondome, blykbaar nou ook by die PUK, is onder aandag van sy administratiewe kantoor gebring.Lieze du Preez berig in BEELD van Woensdag 5 Junie 2002 soos volg:
"Pukke kry 'gekontroleerd' kondome op kampus"
Potchefstroom. - Kondome sal voortaan op aanvraag op kampusse van die Potchefstroomse Universiteit beskikbaar gestel word. Dié besluit is vervat in die universiteit se MIV/vigs-beleid wat gister (4 Junie) bekend gemaak is.
Die Puk het benadruk dat hy as 'n universiteit met 'n verklaarde Christelike grondslag en waardestelsel die standpunt handhaaf dat seks "binne die monogame huwelik" beoefen moet word. Wat betref personeellede en studente wat nie hierdie standpunt deel nie, het die universiteit 'n beroep op hulle gedoen om binne 'n vaste verhouding getrou te wees aan een getroue maat en om veilige seks te beoefen.
"Vir dié groep sal daar kondome op gekontroleerde wyse beskikbaar gestel moet word. By sulke verspreidingspunte sal die universiteit se standpunt deur middel van kennisgewings aangebring word", het mnr Frikkie Kotze, mediawoordvoerder, gesê.
Volgens hom is die universiteit bewus van die impak wat MIV/vigs op die jeug van Suid-Afrika het en wil hulle 'n ondersteunende en pro-aktiewe bydrae lewer om te help. 'n Inligtings- en bewusmakingsveldtog sal begin word oor die gevare van onbeskermde seks.