Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
PUK se grondslag ingedrang

AKTUEEL: 1902 en 2002 - Waar staan ons?

SKRIFOORDENKING:
Die gesuis van 'n sagte koelte

Messianisme in die Psalms...

Toe dr Malan (NP) die PU vir CHO in 1928 wou sluit

CNO - Die wat en hoe

Individualisme en Menseregte

Onrus en Origenes

Kommunisme en sedelikheid

Geloof en Wetenskap

"Pukke kry 'gekontroleerd' kondome op kampus"

KERKLIKE JOERNAAL: 
Landswye gereformeerde konferensie 11 tot 13 September

Verklaring van Vrystaatse teologiedosente

Ring van kerk se getuienis

VGK se verhoudinge met die GKSA

Sinode VGK en gesange vir eredienste

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Afgrond (Totius)

Homoseksualisme

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die vrede van Vereeniging, 31 Mei 1902

PERSRUBRIEK: 
Jesus - seminaar

Aanval op kerk 'niks nuuts'

Die kookpot Israel

Posisie van die vrou in die kerk

Evolusionisme versoenbaar...?

KOMMENTAAR: 
Kommunistiese strategie

GESPREK MET LESERS:

MEDIESE ETIEK: 
Kan selfmoord iets anders as moord wees?

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 6  No 4 Julie 2002

Hoofartikel

PUK SE GRONDSLAG IN GEDRANG

Die Potchefstroomse Universiteit staan by behoudende Gereformeerdes tans in die brandpunt van belangstelling oor die betwisting van sy grondslag. Dit kulmineer in die naam wat hy dra, wat die Christelike etos van sy opleiding behoort te weerspieël: "PU vir Christelike Hoër Onderwys". Die PU ontvang 'n belangrike deel van sy fondse uit die kasse van die staat. Dit maak dat hy onderwerp is aan wetgewing en vereistes van die minister van Onderwys, Kader Asmal, wat deur hom opgedwing word. Volgens die staat bestaan daar, wat die onderwys betref, geen onderskeid tussen die onderskeie segmente van die bevolking nie. Daarom is dit voorskriftelik om slegs rasioneel en prakties die onderwys, dit sluit die tersiêre inrigtings in, te reorgani-seer en te affilieer volgens sekulêre doelstellings om horisontale verdraagsaamheid, versoening en eenvormigheid te bewerkstellig.

In hierdie artikel kyk ons na wat die Christelike karakter van die PU behels. Is dit slegs van betekenis met die oog op die menslike eienskappe van vroom-heid en onderlinge verdraagsaamheid of ook andersins op 'n sogenaamd Chris-telik gedrewe waardestelsel? Afgesien van die feit dat die PU tans ressorteer onder vereistes wat sy tradisioneel prinsipiële grondslag ondermyn, is die teologiese fakulteit daaraan verbind. Alhoewel daar nog die vryheid bestaan om die kerklike verbintenis met slegs die GKSA te handhaaf, skep dit 'n meer as maar slegs denkbeeldige gevaar vir die handhawing van die eksklusief Gereformeerde lewensoortuiging soos dit in die belydenisskrifte op skrif gestel is. Daarom die vraag: Is die PU vir CHO 'n universiteit met 'n spesifiek Christelike karakter wat op al die terreine van die wetenskappe die Bybelse geloof as grondslag bely en doseer? Indien die antwoord bevestigend is dan behoort die teologiese fakulteit 'n leidinggewende rol te speel. Dan bestaan daar nie die gevaar dat hy betrek word in die beoefening van rasionele (sekulêre) studieprojekte, soos byvoorbeeld die saak van menseregte nie.

Met wat tans bekend is van die PU, dat kwantiteit en toeganklikheid, die aanvaarding van studente uit alle segmente van die samelewing al die beleid geword het, tesame met die aanvaarding van dosente wat nie noodwendig Christene is wat die binding aan die gereformeerde belydenisskrifte onderskryf nie, is die skrif reeds aan die muur.

In 1916 is op sinodale vlak van die GKSA oor die aanvanklike probleem, wat toe reeds kop uitgesteek het, besin en as volg besluit: "Hierdie vergadering spreek dit as sy oortuiging uit en besluit dat geen stap gedoen moet word om die medewerking te verseker van die Teologiese Skool en die Kollegedepartement van die Gereformeerde Kerk met ander liggame met die oog op universitêre onderwys waardeur die medeseggenskap van ons Kerk, veral tot handhawing van ons beginsels, nie bewaar bly nie. In sodanige geval besluit hy om liewer poginge aan te wend en middele te beraam waardeur hy in staat gestel word om te ontwikkel tot 'n eie vrye universiteit op Gereformeerde grondslag, met of sonder samewerking van ander liggame, met of sonder staatsubsidie." Dit het veral gegaan om die medeseggenskap van die Gereformeerde Kerk "veral met betrekking tot die handhawing van ons beginsel". As dit nie verkry kon word nie, moes vir die huidige (1916) van samewerking liefs afgesien word. Verlies van seggenskap oor die Literariese Departement of verlies van die beginsel waaruit die departement gebore is, was ... eenvoudig onmoontlik (1958. JP Jooste. Die Geskiedenis van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. 1859 - 1959 - bl 276 /7).

Die outonomie om prinsipiële vryheid en seggenskap in eie kring te behou het swaarder geweeg as die bloot kwantitatiewe behoefte gepaard met die beskikbaarheid aan stoflike middele om die verwesenliking van die voorgestelde en gewenste universiteit te kon realiseer.

Dit is reeds algemene kennis dat in die hoër kringe van die PUK, om los te kom van die C in CHO, gedink word oor die aanname van dié Universiteit se byvoegsel "op Christelike grondslag". Hierdie onderskeiding is baie vaag en laat die deur oop vir 'n subjektiewe vertolking daarvan as dit nie tegelykertyd gepaard gaan met die definiëring van daardie grondslag nie.

Grondslag en beginsel(s) is wankel as dit nie aan 'n onbetwyfelde geloofsverklaring verbind is nie. Die Christelike geloof geld nie slegs met die oog op die uitsig op die hemelse heerlikheid van God nie. Dit het ook betrekking op die aardse bestaan in alle fasette. "Vir elkeen wat salig wil word, is dit in die eerste plek nodig dat hy die algemene geloof moet vashou. ... en as iemand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig kan word nie", aldus die (algemene) Geloofsbelydenis van Athanasius, artt 1 en 44.

Grondslag, beginsel(s), dit moet nader aangedui en gedefinieer word. Wat en wie is Christelik? Wat is die norm, die maatstaf waaraan dit gemeet sal word? Lê die norm in die subjektiewe opvattings en oordeelsvermoë van die mens of is dit 'n vaste gegewe, 'n objektiewe waarheid wat deur die Heilige Gees gedrewe op skrif gestel is? Prof H Bouwman het dit, met die oog op die opleiding van die Vrije Universiteit in Amsterdam, helder uiteengesit in 'n rede oor Die Betekenis van die gereformeerde Belydenis vir die Wetenskap (1901). Sal hierdie grondbeginsels nie slegs alleen bind nie, maar ook nie iemand se vryheid aantas nie, dan moet hulle geformuleer wees in 'n akte waardeur elkeen sigself in die gewete gebind weet en waarmee hy/sy in die geloof verenig is. So 'n akte is uitsluitend die Belydenis. In die Belydenis word die grondbeginsels vir die wetenskap, ja, vir alle wetenskappe gevind."De Belijdenis bevat de waarheden, welke uit de Schrift, onder de leiding des Geestes, in de kerk tot algemene erkenning zijn gebracht ... De beginselen voor alle faculteiten zijn in de Belijdenis gegeven", aldus Bouwman.

Konkreet beteken dit dat dosente aan die belydenisskrifte van die kerk gebind moet word en dat hulle vakaanbieding daarmee in lyn moet wees. Dit beteken ook dat samewerking, affiliasie en akkreditering op breër vlakke daarmee moet ooreenstem. Dit geld ook die dissipline vir die openbare gedrag en optrede van studente in die klaskamers en op die kampus. As die definiëring van die PU se grondslag oorgelaat word aan die individuele subjektiewe gevoelens van 'n rektor en raadslede met boonop betwisbare standpunte wat openlik uitgespreek en op skrif gestel is, dan beteken die byvoeging van die "Christelike grondslag" aan die naam van die PU net mooi niks. Dit is ver verwyderd van die standpunt wat in 1916 (hierbo vermeld) deur die Sinode van Die Gereformeerde Kerk gestel is aangaande die alternatiewe "ontwikkeling tot 'n eie vrye universiteit op Gereformeerde grondslag, met of sonder samewerking van ander liggame, met of sonder staatsubsidie". Dit was "veral met betrekking tot die handhawing van ons beginsel".

Is die Potchefstroomse Universiteit nog Christelik? Is hy nog 'n universiteit vir die opleiding van verbondskinders in ooreenstemming met die doopsbelofte om hulle in die leer van die kerk, die leer van die Ou en Nuwe Testament, wat in die artikels van die Christelike geloof saamgevat is, te laat onderrig?

In hoeverre het sekularisasie reeds posgevat en het dit 'n bedreiging vir Gereformeerde studente geword? Die aanslag van die satan bestaan daaruit om die geeste te verwar en afval te bewerkstellig. Hoever het hy reeds daarmee gevorder? Is met die oog daarop dit aanvaarbaar dat die onderwys van die PUK geliberaliseer word, dat vir die druk van buite en van binne geswig word, om gelykvormig aan ander tersiêre inrigtings in ons land te kan wees?