|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 4 Julie 2002
KERK, STAAT EN MAATSKAPPYDIE VREDE VAN VEREENIGING, 31 MEI 1902 - DR A.E. BREYTENBACH - PRETORIA - VOORDRAG GELEWER OP RADIO PRETORIA, VRYDAG 31 MEI 2002 Op 15 Mei 1902 om 11:00 het daar in n groot markeetent in n klein tentdorpie by Vereeniging, die gewigtigste ver-gadering in die geskiedenis van die Afrikanerdom n aanvang geneem: die sitting van wat gerus maar beskou kan word as die laaste Volksraad van die Boererepublieke. Want ofskoon nie volgens grondwet saamgestel nie, het dit bestaan uit verteenwoordigers dertig van elke Republiek wat deur die Boerekommandos te velde gekies is om oor die lot van die Republieke te beslis; en nog nooit het daar in Suid-Afrika n volksraad gesit waarvan die verrigtinge indrukwekkender was en waar daar dieper erns geheers het as juis tydens hierdie een nie.
Die vraagstuk waaroor hulle moes beslis, was of daar nog langer met die wapenstryd voortgegaan, en of dit gestaak en die onafhanklikheid van die Republieke prysgegee sou word, want dit was die enigste basis waarop Brittanje bereid was om vrede te sluit die Republieke sou Britse kolonies moes word.
Gedurende die middag en aand het die verteenwoordigers verslag gedoen oor die toestande in die verskillende distrikte. Die Vrystaters oor die algemeen en ook sommige afgevaardigdes uit Wes- en Noord-Transvaal het min of meer bemoedigende verslae ingedien, maar die ander veral die uit Oos- en Suidoos Transvaal het toestande verhaal wat dit eenvoudig onmoontlik gemaak het om met die stryd voort te gaan. Weens die Britse verskroeide aarde-beleid was daar geen kos meer nie, nie vir die burgers nie en nog minder vir die aansienlike getal vrouens en kinders wat onder die blote hemel oor die vlaktes geswerf het en selfs by die swartes moes gaan kos bedel om nie van honger om te kom nie.
Terselfdertyd was hulle uitgelewer aan die ongenade en barbaarsheid van vyandige swartes wat deur die kakies aangehits en bewapen is. Baie van die vrouens en jongmeisies is deur hulle onsedelik aangerand, en kort tevore het hulle n groep van 56 burgers by Holkrans op gruwelike wyse vermoor.
Van die burgers te velde het slegs sowat tweederdes nog perde gehad en dié was so afgewerk dat hulle nie meer lang togte kon onderneem om uit die Britse blokhuiskampe te breek na distrikte waar dit beter gesteld was nie. Gevolglik is groot getalle burgers gedurende die voorafgaande tien maande deur die vyand gevang en landuit gestuur.
Uit Kaapland, waarvandaan genl Smuts pas teruggekeer het, moes nie meer hulp verwag word nie en van Europa was daar net dadelose simpatie.
Meeste van die afgevaardigdes het van hul kommandos opdrag gehad om geen vrede te aanvaar waardeur die Republieke hul onafhanklikheid sou verloor nie. By die lees van die toesprake wat hul daar gelewer het, word mens aangegryp deur die sieleworsteling waardeur daardie Boere-offisiere gegaan het.
So het kmdt.-genl. Louis Botha diep bewoë verklaar: "Ons staan hier voor die vraag of ons volk n nasionale dood sal sterf en of ons volk sal lewe". Daar is gesê dat ons moet veg tot die bitter einde, maar niemand het gesê waar die bitter einde is nie. Is dit daar, waar elkeen in sy graf lê of verban is? Ons moenie die tydstip wanneer elkeen in sy graf lê, as die bitter einde beskou nie. As ons dit doen en daarvolgens handel, dan word ons die oorsaak van die dood van ons volk. Is die bitter einde nie daar waar die volk gestry het totdat hy nie meer kan nie?"
Aan die ander kant was daar diégene wat wou voortveg, ongeag die omstandighede. Die voorste onder hulle was genl. Christiaan de Wet. "Ek glo dat ons met hierdie bittere stryd moet aanhou", het hy uitgeroep. "Deur manmoedig te staan sal ons ons goeie reg verkry Laat ons hierdie bittere stryd volhou en soos een man sê: Ons hou vol dit kom nie daarop aan hoe lank nie; maar totdat ons ons onafhanklikheid bevestig kry." Vir hom was die oorlog n geloofsaak. "As ek dit nie in die geloof kon gedoen het nie, sou ek nooit die wapens opgeneem het nie " Hy kon nie die feite wat die voortsetting van die stryd onmoontlik gemaak het, wegredeneer nie, "maar" het hy gesê, "ek het met feite niks te doen nie... ek het met n feit net te doen as ek hom uit die weg moet ruim."
Maar geleidelik het die besef posgevat dat hulle aan die einde van die pad gekom het. Genl. De la Rey, die onoorwonne leeu van Wes-Transvaal, het dit ingesien: "As daar redding vir die Afrikaanse volk is, dan gaan ek saam en as daar n graf vir die volk gegrawe moet word, dan gaan ek ook saam met die volk daarin... maar ek sê vir u dat hierdie byeenkoms die einde van die oorlog is...". "Mens praat van geloof. Wat is geloof?" het hy gevra. "Geloof is: Heer, U wil geskied, nie my wil geskied om oorwinnaar te wees nie. Ek moet my wil dood en ek moet handel en dink soos Hy my stuur en lei."
Uit die vergadering is n kommissie benoem om vredesbepalings wat vir beide kante aanneemlik sou wees, te formuleer. Die kommissie is toe Pretoria toe waar hulle vir dae lank met die Engelse onderhandelaars in Pretoria geworstel het om hulle tog net n afskaduwing van die Republikeinse onafhanklikheid te laat behou, maar Kitchener en Milner was onverbiddelik. Die Republieke se onafhanklikheid, die alles waarvoor die Boer reeds vanaf die Groot Trek gestry het en waarvoor hulle die afgelope twee en n half jaar alles wat op aarde vir hul dierbaar was, op die altaar gelê het, moes prysgegee word. Dit was nie n maklike keuse nie.
Hulle moes hul onafhanklikheid, wat die dryfkrag van hul hele geskiedenis was, prysgee, hul wapens aan die veroweraar oorhandig en onderdane word van dié moontheid wat hulle vir meer as 100 jaar reeds vervolg, verneder, belaster en gesmaad het, en nou ook in die oorlog hul vrouens en kinders op die gemeenste maniere denkbaar vermoor en verinneweer het.
Hulle taal sou nie meer die amptelike landstaal wees nie, maar sou deur die taal van die veroweraar vervang word, en hul dierbare vlae, die Transvaalse en Vrystaatse Vierkleure, sou neergehaal word en in die plek daarvan sou die spinnekoprak van die veroweraar waai. In die plek van hulle vry verkose volksrade en presidente, sou hulle regeer word deur amptenare wat deur die Britse koning aangewys sou word. Asof dit nie genoeg was nie, sou sekere burgers deur die Britse owerhede as oorlogsmisdadigers aangekla en gestraf word deur die Britte wat self op die mees mis-dadige wyse menseregte geskend, private eiendom ver-woes, die land in n woesteny omskep en internasionale verdrae geskend het!
Tussen die lede van die kommissie was daar by tye skerp verdeeldheid en spanning, sodat Hertzog n paar keer in sy dagboek gedurende hierdie tyd melding maak van broederswakheid, verwysende na die Transvalers wat alle hoop opgegee het om verder te stry.
Die deurslag is waarskynlik gegee toe Kitchener vir Smuts buitentoe geroep en vir hom in n private gesprek gesê het: "Look here Smuts, there is something on my mind that I want to tell you. I can only give it to you as my opinion, but my opinion is that in two years time a Liberal government will be in power; and if a Liberal government comes into power, it will grant you a constitution for South Africa". Vir Smuts was dit n baie belangrike mededeling, want die Liberale Party was in die Britse Parlement bitterlik teen die oorlog gekant.
Die oggend van die 29ste was hulle in Vereeniging terug met die finale vredesvoorstelle soos dit deur die Britse Regering aan hulle gesein is. Dit moes nie later nie as 31 Mei sonder enige veranderinge aanvaar of verwerp word.
Vir pres. Steyn tereg bestempel as die siel van daardie vryheidstryd was die vredesvoorstelle onaanvaarbaar, maar... hy was geknel deur n siekte wat hom totaal verlam het, en kon nie verder aan die verrigtinge deelneem nie. Op die 29ste Mei het hy sy amp as President neergelê en genl. De Wet in sy plek aangewys, met die pynlike opdrag om, as die Transvalers nie kans sien om die stryd voort te sit nie, ook maar met die besluit om vrede te maak, mee te gaan, want daar mog nie nou verdeeldheid kom, nadat hulle so een van hart en een van siel die oorlog deurgestry het nie.
En nou was dit De Wet se taak om teen sy eie oortuiging in, die meeste van sy Vrystaters te beweeg om die onvermydelike te aanvaar. Kestell skryf: "Ek sien hom nog, die onbuigbare man, met sy deurdringende oë, sy sterk mond en ken ek sien hom daar soos n leeu in n hinderlaag gevang. Hy wil nie, hy kan nie, maar hy moet die stryd opgee."
Daardie aand (29ste) verklaar die voorsitter, genl. Christiaan Beyers in n lang en ernstige toespraak: "Ek moet my gewete volg my gewete is by my nommer één en solank dit so bly, moet ek teen die voorstel (om oor te gee) stem." Maar later die aand lees hy in sy tent in sy Bybel en sy oog val op Sagaria 4:6: "Niet door kracht, noch door geweld, maar door Mijnen Geest zal het geschieden, zegt de Heere der heirscharen." Daarna verset hy hom nie meer teen die onvermydelike nie.
Nog baie hartroerende dinge wat uit die diepte van die hart kom, is gesê, maar uiteindelik het op 31 Mei die oomblik aangebreek waarop die vergadering moes besluit om die Britse voorwaardes te aanvaar of te verwerp.
In opdrag van die vergadering het genls. Hertzog en Smuts die oggend van die 31ste Mei n voorstel opgestel wat die sienswyse van die vergadering weergegee het. Dit was n roerende dokument en n felle aanklag teen die Britse optrede in Suid-Afrika. Punt vir punt het hulle daarin beskryf hoe die Britse krygsbeleid gelei het tot die algehele verwoesting van die Republieke se grondgebied; die onmenslike uitwissing van soveel vrouens en kinders; die bewapening en aanhitsing van die swartes tot moord en ander barbaarse handelinge teen die Boere; en dreiging dat die nog vegtende burgers se roerende en vaste eiendom gekonfiskeer sou word, waardeur hulle stoflik totaal sou ondergaan. Waar die aard van die stryd dit vir die Boere onmoontlik maak om Britse krygsgevangenes gevange te hou terwyl Boere-krygsgevangenes landuit gestuur word, is daar slegs n geringe deel oor van die strydmag waarmee die Boere die oorlog begin het. (Daar was toe maar sowat 18 000 burgers nog in die veld, d.w.s. minder as n derde van die getal waarmee hulle die stryd begin het). Vanuit n toestand van hongersnood en ontbering van noodsaaklike lewensbehoeftes moet hierdie geringe mag teen n geweldige oormag van die vyand veg, en nieteenstaande hul uiterste pogings en opoffering van alles wat vir hulle lief en dierbaar was, is daar geen redelike grond om te verwag dat die onafhanklikheid behou kan word deur die oorlog voort te sit nie.
Aangesien voortsetting van die oorlog onder die omstandighede alleen kan strek tot die maatskaplike en stoflike ondergang van "ons" en "ons nageslag", dra die vergadering aan beide Regerings op om die Britse voorwaardes te aanvaar en dit namens die volk van beide Republieke te onderteken. Ten slotte word die wens uitgespreek dat Brittanje die mate van amnestie wat aan Kaapse en Natalse rebelle beloof word, sal uitbrei. Nadat die afgevaardigdes hierdie voorstel aangehoor het, het landdros Stoffberg die Bybel oopgeslaan en Klaagliedere 5 voorgelees: "Gedenk, Heere! wat ons geschied is; aanschouw het, en zie onzen smaad aan. "Ons erfdeel is tot de vreemdelingen gewend, onze huizen tot de uitlanders "
Seker nog nooit sedert Jeremia sy klag voor die Here uitgestort het, is Klaagliedere 5 met soveel sielsontroering gebid as by dié geleentheid nie. Dit was die Skriflesing by die graf van die Boererepublieke. soos genl. Schalk Burger, waarnemend President van die ZAR, dit genoem het. Daarna het hulle gestem: 54 stemme vir die voorstel en 6 daarteen 3 Transvalers en 3 Vrystaters.
"Nooit sal ek vergeet waarvan ek daar getuie was nie", skryf n ooggetuie. "Ek sien nog die somber getrekte gesigte van die tot op daardie oomblik onbeweeglike offisiere wat afgevaardig was om die onafhanklikheid te handhaaf. Ek sien hulle nog starende asof in die leegte. Ek sien op hul gesigte iets onbeskryfliks gegraveer, die vraag: is dit die bitter einde van ons lyding en stryd, van ons geloof en sterk geroep tot God? Ek het daar die lippe sien bewe van manne wat nooit voor die vyand gebewe het nie. Ek het daar trane sien wel in oë wat droog was toe hulle hul dierbaarstes in die graf gesien wegsink het "
Vandaar is hulle na Pretoria, waar hulle kort voor elf uur by Kitchener se hoofkwartier in die nou bekende Melrosehuis aangekom het. "Kort voor elfuur het die regerings in Pretoria aangekom. Hulle is met spoed na Kitchener se hoofkwartier vervoer en in die groot eetkamer n oomblik alleen gelaat om die resolusie van die vergadering op Vereeniging alleen deur te lees voordat dit oorhandig word. Daarna kom Kitchener en Milner binne en gaan sit aan die hoof van die tafel. Aan Milner se kant sit die ses Transvalers; aan die ander kant die vier Vrystaters. Die Verdrag van Vereeniging is in viervoud op perkament getik en die eerste eksemplaar word voorgelê.
Om vyf minute oor elf word die eerste naamtekening aan die regterkant onderaan die bladsy geskryf: S. W. Burger; dan F. W. Reitz. Maar met die pen in die hand staan Reitz eers op en verklaar plegtig dat hy sy naam bloot as staatsekretaris teken nie as F. W. Reitz nie. Enkele weke later sou hy as balling sy land verlaat omdat hy geen eed van getrouheid wou aflê nie. Die naamtekeninge gaan voort: Louis Botha, J.H. de la Rey, L. J. Meijer, J.C. Krogh. Die dokument word na die ander kant geskuif: C. R. de Wet, J.B.M. Hertzog, W.J.C. Brebner, C.H. Olivier. Die name aan die regterkant is volledig. Aan die Iinkerkant kom net twee: Kitchener of Khartoum, en daaronder: Milner.
Vader Kestell, wat die toneel self aanskou het, beskryf die slottoneel soos volg: "Het document is geteekend. "Alles zwijgt in dat vertrek, waar er zoo veel gesproken werd. "Nog zit men een oogenblik stil. "Daar staan de leden van de Regeeringen der nu gewezen Republieken, als verbijsterd, op, om de zaal te verlaten. "Lord Kitchener gaat van den een tot den ander en biedt ieder de hand: ,We are good friends now!" zegt hij.
Met verbryselde harte het die Boereleiers die vertrek verlaat en die donker nag ingestap. Die Republieke was begrawe.
Deur die genadige beskikking van die Here is dit die twee onsterflike simbole van Afrikanervryheid, presiden-te Kruger as balling in Europa en Steyn deur siekte verlam gespaar om hul hand op papier te sit om die Afrikanervryheid weg te teken.