|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 4 Julie 2002
MEDIESE ETIEKKAN SELFMOORD IETS ANDERS AS MOORD WEES?
- DR MC DURAND -
Selfmoord is n handeling wat n persoon uitvoer waarby hy wetend sy eie dood veroorsaak. Die woord "selfmoord" impliseer egter in die gewone spreektaal reeds n morele afkeur. Soms word nie alle handelinge waardeur n persoon sy eie dood wetend veroorsaak het moreel afgekeur nie. Prof Douma (In J Douma, Rondom de dood, Kampen: Uirgeverij van den Berg, 1984.p. 61) bied n voorbeeld aan waar n persoon sy eie dood wetend kan veroorsaak sonder om morele afkeuring daardeur te verdien. Die voorbeeld is: n Soldaat wat op n granaat val om sy bevelvoerder se lewe te red. Om hierdie rede stel prof Douma voor dat eerder van die woord "selfdoding" gebruik gemaak word as van die woord "selfmoord". Die woord "selfdoding" bied dus ruimte vir beide selfmoord (soos dit gewoonweg verstaan word) asook vir "selfopoffering" (soos die soldaat wat op die granaat val).Kom ons neem die voorbeeld van die soldaat wat op die granaat val en daardeur wetend sy lewe beëindig onder die loep: Die vraag wat ons wil beantwoord is of hy moreel geregverdig sy lewe "geoffer" het aan die welsyn van sy bevelvoerder, of dat hy sy lewe moreel ongeregverdig "geneem" het vir die welsyn van sy bevelvoerder.
Daar is drie metodes waarop gepoog kan word om die soldaat se selfdoding te regverdig (met ander woorde om die soldaat te vrywaar van die oordeel van selfmoord).
Die eerste metode is om nie op die daad self te fokus nie, maar op die gevolge van die daad. Die handeling van selfdoding van die soldaat is inderdaad ononderskeibaar van die handeling van n selfmoord indien ons nie let op die gevolge nie. By die soldaat is die effek van sy selfdoding die redding van die lewe van sy bevelvoerder. Kan die bewuste selfdoding van die soldaat werklik geregverdig word deur die lofwaardige effekte daarvan (naamlik die effek van lewensredding)? Die eintlike vraag is of die gevolge van die handeling die middel heilig. By die beantwoording van hierdie vraag gaan dit dus oor die opweeg van gevolge. In ons voorbeeld weeg ons dat die waarde van die lewe van die soldaat teenoor die waarde van die lewe van die bevelvoerder.
Hierdie weegskaal word deur die Skrif egter nie toegelaat nie. Want nêrens leer ons in die Skrif dat die lewe van n geringe persoon (soos dié van n soldaat) minder beskermingswaardig as die lewe van n meerdere (soos dié van n bevelvoerder) is nie. Vergelyk Genesis 9:6, naamlik: dat die mens (dus elkeen), die beeld van God is, en daarom mag sy bloed nie gestort word nie. Vergelyk ook Romeine 5:12, naamlik: dat aangesien almal in Adam gesondig het, hulle die dood ontvang het. Dit beteken dat die soldaat se lewe nie meer opofferingswaardig is as die offisier se lewe nie. Op geen wyse sal ons kan weet hoe om die waarde van die lewe van die soldaat met die waarde van die lewe van die bevelvoerder op te weeg nie. Om te fokus op die gevolge bring ons nie tot die oplossing van ons dilemma nie.
n Tweede metode is om op die bedoeling van die soldaat te fokus. Volgens hierdie metode kan die soldaat (wat ten dele sy eie hart ken), meen dat aangesien hy nie sy eie dood bedoel nie, maar dat hy wel die redding van sy bevelvoerder bedoel, moreel geregverdig is om op die granaat te val. Aangesien hy slegs sy eie dood voorsien het en nie bedoel het nie, kan sy handeling nie neerkom op selfmoord nie. Die probleem met hierdie maneuver is dat daar n teoretiese skeiding gemaak word wat in werklikheid n eenheid uitmaak: Die soldaat weet mos van beide: Hy weet hy gaan sterf en hy weet hy gaan die lewe van sy bevelvoerder red. Verder neem hy ook net een besluit: Hy gaan óf op die granaat val óf van die granaat wegspring. Dit is net onwerklik om morele onderskeid te probeer maak tussen effekte wat hy eerder wil en effekte wat hy nie wil nie.
n Derde manier om die soldaat se selfdoding moreel te regverdig is om dit te sien as selfopoffering. Hiervoor moet ons eers kyk wat die Skrif ons leer oor die onderwerp van selfopoffering:
Ons word geleer dat ons hele wese en bestaan (daarom ons lewe en sterwe) gerig moet wees op God. Wanneer dit kom by die diens aan God, moet ons bereid wees om alles wat ons eie is te haat, selfs ons eie lewe (vergelyk Luk 14:26). Ons eie, selfs ons eie lewe, word nie die fokus van ons bestaan nie, maar God en Sy wil word die fokus van ons bestaan (vergelyk Romeine 15:13; Romeine 16:3 vv; Filippense 3:20). Maar beteken dit ooit dat ons onsself kan doodmaak? Beteken dit dat die soldaat daarom wel op die granaat mag val om sy bevelvoerder se lewe te red?
In 1 Johannes 3:16 word ons die volgende geleer: Hieraan het ons die liefde geken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê. En in Johannes 15:12 en 13 word ons geleer dat: Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het. Groter liefde het nie as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.
Leer God ons hier om ons eie lewe in die hande te neem solank as ons net hoop dat dit tot die voordeel van ander is? Of leer God ons eerder hier dat ons só moet lewe dat ons lewe nie gerig sal wees om ons dit te bewaar nie, maar só gerig sal wees dat ons met ons hele lewe Hom gehoorsaam te wees, al sou dit ons eie lewe kos? Die vraag is derhalwe nie of die soldaat kan aantoon dat sy sterwe tot die voordeel van sy offisier was nie. Die vraag is eerder of God hom die opdrag gegee het op die granaat te val.
Ook die voorbeeld van Christus leer ons nie dit nie. Christus het met die kruisdood nie sy eie lewe in sy hande geneem nie. Sy kruisdood het die verloëning van Judas, die haat van die Jode, sowel as die pligversuim van Pilatus behels. Christus het wel nie sy eie dood voorkom nie, maar dit beteken nog nie dat Hy dáárom sy eie lewe geneem het nie. Christus is gekruisig deur sy haters. Ons word geroep om ons lewens af te lê soos Christus dit gedoen het. Christus gee wel sy Gees aan sy Vader voor Hy sterf. Maar hierin kan ons Hom nie volg nie. Ons kan nie ons eie siel bewaar nie, laat staan om dit te probeer raakvat en oor te gee.
Dit wil eerder voorkom dat selfopoffering soos dit aan ons beveel word deur God nie kan beteken dat ons selfdoding mag pleeg nie. Dit beteken eerder dat die dood ons nie mag afsit van die gehoorsaamheid aan God nie.
Dit bring ons by n beter voorbeeld van selfopoffering wat in die lyn met die gehoorsaamheid aan God is, naamlik die voorbeeld van Johannes Hus, Guido de Bres, en al die martelare vir Christus. Ons kom nie uit by die voorbeeld van die soldaat wat op die handgranaat val nie. Die soldaat het selfmoord gepleeg.