|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 4 Julie 2002
OPVOEDING EN ONDERWYS 'N AFGROND - DR JD DU TOIT (TOTIUS) - GEPUBLISEER IN: DIE KERKBLAD, 6 JUNIE 1947 - Ons staan met ons volk, spesiaal met ons jong mense, voor 'n afgrond. En die afgrond is: onsedelikheid. Wil ons daardeur vir groot deel nie verswelg word nie, dan moet 'n alarmroep opgaan en maatreëls getref word.Voordat ons verder gaan, volg hier enkele sinne ontleen aan die "Ernstige Woord" wat ds Bruinooge in die Wachter (Noord-Amerika) geskrywe het.
Hy stel dadelik die vraag of ons jongmense dan nou slegter is as voorheen. Die antwoord lui: Nee. Vroeër was die mens ook onbekwaam tot enige goed en geneig tot alle kwaad. Die verskil is dat die jeugdiges tans in so baie verleidinge kom. Hulle raak hul stuur kwyt.
By wat ds Bruinooge sê, merk ons dit op: Elkeen besef dat daar minder geleentheid tot sonde was in die stille tent van Abraham as in een van die stede van die Kanaäniete.
Ds Bruinooge haal verder 'n ander skrywer aan wat sê: "Die jongeres vra nie meer na lewensin of na lewensdoel nie. Hulle wil alleen hulle dronk drink aan die lewe. Hulle vra nie meer wat goed of kwaad is nie. Hulle vra na Die Lewe. Dan, so gaan ds Bruinooge voort, "waarom sou jy nie meedoen as elkeen tog dans en na die bioskoop gaan en hom seksuele vryhede veroorloof nie?"
Wat nou heers, is nie die wet van God nie maar dié van die massa, sê hy. Verder: Ons leef in 'n besete wêreld . . waar die swemster en baasvoetbalspeler die massa opsweep, terwyl die prediking van die Lig van die wêreld maar matige of heeltemal geen belangstelling wek nie.
Ds Bruinooge gee hom enigsins rekenskap van die feit dat dit sover gekom het. Hy sê: Die lewe het so arm, so leeg geword. Ons sit op puinhope, en daar kan 'n jeugdige idealisme nie bloei nie. Die jeug is uitsigloos, hulle kan nie bou nie. Daar word geteer op vermaak, omdat die werk geen bevrediging gee nie. Die jeug dra die volle las van 'n vreeslike verlede, sonder dat 'n blye toekoms hulle wink.
En dan die duistere profesie: As julle vrede wil hê, maak klaar vir oorlog.
Meer kan ons hier nie aanhaal nie, want ons eie toestande dring tot 'n meer uitvoerige bespreking.
In Die Kerkbode van 14 Mei 1947 lewer die Kommissie vir Waaksaamheid teen Sosiale Euwels (Kaapse Kerk) rapport. Opmerklik is al dadelik die vermelding dat die kommissie vir die eerste maal in sy geskiedenis die werksaamhede aan hom opgedra, nie in een dag kon afhandel nie.
Onder verskillende hoofde kom die euwels ter sprake: Geboortebeperking, Rassevermenging, Onbehoorlike Publikasies, Sabbatsontheiliging, Loterye, Drankmisbruik, Onbehoorlike Kleredrag. Wat 'n swart register!
Insake onbehoorlike publikasies word gesê dat die stroom daarvan, vir sover dit die buiteland betref, onder bevredigende beheer is. Die moeilikheid is egter dat, wat binnelandse publikasies betref, geen dergelike beheer bestaan nie. As gevolg van vertoë het die Minister byvoorbeeld die buitelandse For men only verbied, maar nou word dieselfde blad in ons land uitgegee in Afrikaans: Vir mans alleen, en die Minister verklaar dat hy magteloos hierteenoor staan.
Ons voeg hieraan toe dat oor die pos reklame vir dié publikasie gemaak word. "Net vir Mans" heet in dié strooibiljet "die atoombom van Suid-Afrikaanse tydskrifte". En dat dit deur sy suggestiewe titel al genoeg lesers trek, blyk uit wat die biljet sê: "Waarom betaal meer as 20 000 mense elke maand een sjieling en ses sent vir 'Net vir Mans', en waarom het hierdie tydskrif in minder as 'n jaar 'n leserskring van 100 000 verwerf?" En dan word die sestal redes gegee waarom dit so populêr is. Op die eerste bladsy word 'n half ontblote vrou afgebeeld! Hierdie paar besonderhede is vir ons lesers seker al genoeg.
Onder die hoof: "Hospitaaljool" sê die kommissie: "Saam met verskillende vrouevereniginge wat dit reeds gedoen het, wil hierdie kommissie ten sterkste protesteer teen die onbetaamlike tentoonstelling van halfnaakte persone by hierdie geleentheid; die kommissie is ook besig om in die saak te onderhandel met die betrokke owerheid".
Die Kerkbode sê daarvan dit: die Hospitaaljool van die Kaapse studente wek seker by elke reggeaarde mens gedagtes van kommer, en ontsteltenis selfs, oor die openbare onsedelikheid in ons land". Verder haal die blad aan uit 'n Engelse dagblad: "Die jool op Saterdag was een van die mees naakte (undressed) wat die Universiteit nog gehou het. Die weer was ideaal vir daardie weelderige uitstalling van naakte figure met vyeblare, waarop Kaapstad getrakteer is".
('n Vraag: Is die vyeblare miskien 'n spotterny in verband met Genesis 3:7?)
In Johannesburg moet ook so 'n jool plaasgevind het. 'n Blad haal aan uit Die Vaderland: "Dit is 'n deurmekaar wriemeling van kleure, van meer as halfnaakte blanke meisies wat met naturel en kleurling onnadenkend verbroeder" (14 Mei 1947).
Ook die sportdrag vir dames is deur die kommissie vir sosiale euwels behandel. Tereg ook. Maar dan moet ons begin by koerante en tydskrifte wat sulke bedenklike illustrasies en advertensies plaas. Ja, as ons na die wortel van die saak wil gaan, sal ons baie diep moet grawe.
Ons dink byvoorbeeld aan enkele romans wat onder ons sirkuleer. Ons het al tevore gespreek oor een waarvan gevra kan word: of daar wel sulke Afrikaners bestaan, en so ja: watter nuttigheid dit kan hê om sulke karakters ten voete uit te skilder?
So pas het ons nog in 'n nuusblad gelees dat iemand (hy het sy naam onder sy stuk geteken) beswaar maak teen 'n dergelike publikasie. Hy sê dat dit wemel van godslasterlike taal en dat die storie gegrond is op moord en owerspel.
Alleen wil ons sê dat 'n moeder wat haar volk liefhet, enkele weke gelede aan ons gesê het: Daar is sommige van dié romans wat ek nie kan lees nie; ek voel ek besoedel myself.
As ons aanhou grawe, waar sal die end wees? By die beginsels van 'n moderne heidendom? Let maar op hoe graag die verhale melding maak van die Noodlot (met hoofletter N), die blinde, onweerstaanbare Mag van die Grieke en Romeine.
Sal die vernaamste fort vir ons wat God glo en aan sy wet wil vashou, nie naderhand die huisgesin wees nie? Maar as dan 'n hoofonderwyser voor die Vrystaatse Onderwyskommissie (altyd maar kommissie!) moet verklaar dat in baie huise die tug ontbreek - wat dan? . . .
Ons wil nie verder in hierdie trant voortgaan nie. Teenoor so 'n gevaarlike toestand moet iets baie positiefs gestel word, en dit vind ons alleen in die Woord van die Here. "Tot die wet en tot die getuienis!" (Jesaja 8:20). Daar sonder is daar ook vir ons volk geen dageraad nie.