|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 4 Julie 2002
OPVOEDING EN ONDERWYS HOMOSEKSUALISME - DS JOHAN THERON - MET INSTEMMING OORGENEEM UIT DIE BOODSKAPPER (APK) JULIE/AUGUSTUS 2002, BL 7 Hierdie onderwerp is vandag druk onder bespreking. Aan die een kant is daar diegene wat absoluut daar-teen gekant is; aan die ander kant diegene wat nie alleen simpatie het met diegene wat dit beoefen nie, maar daarmee saam dit ook wil regverdig. En in die brandpunt hiervan staan die Bybel.Die Bybel is in die brandpunt deurdat dit onomwonde die onnatuurlike seksuele verkeer van mense van dieselfde geslag veroordeel (Lev 18:22, 20:13; Rom 1:27; 1 Kor 6:10; 1Tim 1:10). Diegene wat konsekwent die Bybel bely as Woord van God, staan en val daarby. Diegene wat die Bybel nie as absolute Woord van God aanvaar nie, of geensins aanvaar nie, verwerp dié sondeveroordeling.
Wat dit egter verwarrend maak, is die feit dat selfs binne die kerk van die Here Jesus daar geen eenstemmigheid oor die saak is nie. Ook nie onder teoloë nie wat veronderstel is om herders van God se kudde te wees.
Verval
Die meningsverskil kom natuurlik vanuit en as gevolg van die liberale verval wat daar in die Christelike geloof onder sommige ingetree het. Daarom moet ons as absolute ver-trekpunt die geloofsoortuiging handhaaf dat die Bybel God se absolute Openbaringswoord aan sy geloofsgetroue kinders is.
Die Bybel leer ons dat God die man en vrou nie homoseksueel nie, maar heteroseksueel geskape het: man en vrou het Hy hulle geskape (Gen 1:27). Onmiddellik word hieraan die vrugbaarheid en vermeerdering van vers 28 verbind. Seksuele omgang, natuurlik ook in die geskape genot daarvan, geskied onder die seënende hand van die Here en hou op een of ander wyse prinsipieel verband met die moontlikheid van kindervoortbrenging en -versorging. Dit tref dat, waar voorafgaande ook van die diere geld (Gen 1:22), God die mens in dié opdrag persoonlik aanspreek (Gen 1:28) wat die mens in 'n besondere sin in sy seksualiteit verantwoordelik stel. In die Bybel word seksualiteit ook konsekwent aan die struktuur en dissipline van die huwelik verbind wat die basis bied vir 'n stabiele gesinslewe vir kinders om in groot te word. Wanneer seksuele omgang nie binne die huwelik plaasvind nie, is dit bloot eroties en dierlik, met die gepaardgaande verworde genot wat uiteindelik uitloop op die fisiese en geestelike vernietiging van die mens en sy samelewing.
Die seksuele omgang tussen man en man, en vrou en vrou hou geen moontlikheid van voortplanting in nie. Dit kan ook nie dien as 'n liefdevolle basis vir kindervoorligting en -opvoeding nie. Die sogenaamde nuwerwetse "huwelike" tussen diesulkes is 'n sondevervalle toestand wat sy oorsprong het by die sondeval van Adam en Eva en deur God met die geestelike en fisiese dood gestraf is (Gen 2:17; Rom 1:18-32, 6:23).
Die liefde van God vir die mens, soos in die Bybel geopenbaar, is die hefboom wat dikwels deur liberales gebruik word om hierdie verwording te regverdig. Ons ontken natuurlik ook nie daardie liefde nie. Maar wat openbaar die Bybel werklik oor dié liefde van God?
God het die mens soos Hy hom gemaak het, ook in sy seksuele aard soos hierbo beskryf, lief. Die mens het egter deur 'n daad van eiewilligheid en opstand in sonde geval. Hy is nou na sy aard én in sy dade 'n sondaar, en staan as sodanig onder die toorn en oordeel van God. Boonop is hy in sy aard én na sy dade verword. Daardie aard en die dade wat daaruit voortkom, staan onder die oordeel van God. Op grond hiervan kan ons dus nie sommer so in die algemeen sê dat God die mens liefhet met die bedoeling dat God maar verlief neem met wat ons van nature (in ons sondestaat) is en doen nie. Homoseksualisme kan onder geen omstandighede met so 'n beroep op God se liefde geregverdig word nie.
Oordeel, ook genade en hulp
God het sy Seun gestuur om sy uitverkore kinders se skuld aan die kruis weg te dra, en het ons só met Hom versoen. Net in Christus, deur gelowig te aanvaar dat God my skuld aan Hom gestraf het, word ek vrygespreek. Soos enige ander sonde, kan ook die homoseksuele hierdie vryspraak op hierdie wyse deelagtig word. Buite die versoening in Christus is daar geen aanspraak op aanvaarding van die sondaar deur God nie. Maar by die vryspraak en ver-gifnis kom alles ook nie tot stilstand nie. Geen sondaar, ook nie die homoseksuele nie, kan redeneer: ek het nou my sonde na Christus toegebring, Hy het dit vergewe, en nou kan ek maar weer die sonde opneem en daarmee voortgaan nie. By die smeek om vergifnis moet daar die opregte voorneme wees om die sonde te ontvlug, te laat staan en 'n geheiligde lewe voor God se Aangesig te leef.
Dit bring mee dat enige sondaar, ook die homoseksuele, 'n stryd moet aanknoop teen sy drifte en neigings wat vanweë die sonde in hom of haar tot uiting kom; dit maak nie saak hoe sterk die aandrang van die neiging is nie. Deur die genade staan die opreg-gelowige in daardie stryd nie alleen nie. Die Here het sy Heilige Gees aan ons gegee en Hy gee tot die stryd die krag wat ons nodig het - al beteken dit dat ons elke dag en elke oomblik tot die end van ons lewe maar weer die stryd moet aanknoop.
Maar wie sy of haar sondige neigings (ook die neiging tot homoseksualiteit) koester en vertroetel, keer hierdie proses om en werp homself weer onder die oordeel van God. Die enigste weg hieruit is weer: opregte berou, smeek ter wille van Christus om vergifnis, maak die voorneme opnuut vas om die sonde te laat staan en bind onder die krag van die Heilige Gees die stryd daarteen aan.
Daarby: soos die mens vir enige afwyking hulp moet ontvang, so ook die homoseksuele. Die probleem is egter dat die dwaling verkondig word dat die homoseksuele so geskape en gebore is en daarom dit nie kan verhelp nie - dit is 'n sogenaamde noodlot wat oor hom of haar gekom het. Is die seksueel-perverse dan ook so geskape en gebore en daarom ook onder hierdie noodlot te verdra en te bejammer? En die mens wat na die vlees belas is met aggressie en wat op grond daarvan uiteindelik moord pleeg - waarom word hy dan skuldig bevind en gevonnis?
Luister na die Woord van God: Die Skepper gee die "handboek" vir sy skepsel uit, en enige ander menslike "handboek" hoe geleerd en gesaghebbend ook al, is 'n "roofhandboek". Die Bybel leer ons dat ons die homoseksuele moet liefhê soos enige ander sondaar, maar daardie liefde bestaan juis daarin om hom ook op die sonde en God se straf, maar dan ook op die genade in Christus te wys. Die homoseksuele kerklidmaat wat in hierdie sonde volhard, sal om hierdie rede ook moet besef dat die kerk geen ander weg van liefde het as om die kerklike tug op hom of haar toe te pas nie.
Die loon van die sonde is die dood - geestelik en liggaamlik tot in die ewige dood. Dit is bekend dat VIGS in sy oorspronklike verbreiding met hierdie sonde gepaard gegaan het, hoewel dit vandag deur promiskuïteit uitbrei. Ons kan dit inderdaad sien as die aardse straf van God op hierdie sonde (Rom 1:18-32).