|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 4 Julie 2002
SKRIFOORDENKING
DIE GESUIS VAN 'N SAGTE KOELTEGod werk ook op eenvoudige maniere - 1 Konings 19
- DS MJJ (BOETA) ERASMUS - LYTTELTON -
En ná die vuur die gesuis van 'n sagte koelte. En toe Elia dit hoor, het hy sy gelaat met sy mantel toegedraai en uitgegaan en by die ingang van die spelonk gaan staan. En daar kom 'n stem na hom wat sê: Wat maak jy hier Elia? (1 Konings 19:12b en 13) Elia, die profeet van die HERE, het in die tyd van die goddelose koning Agab, "baie geywer vir die HERE, die God van die leërskare" (vers 10). Van koning Agab van Israel kan ongelukkig nie dieselfde gesê word nie. Van laasgenoemde weet ons dat hy gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here. In Hoofstuk 16 lees ons dat hy gedoen het "wat kwaad is in die oë van die HERE, meer as al sy voorgangers". Agab, die koning, wat vir die volk n voorbeeld moes wees, het gaan trou met die goddelose Isebel, dogter van die heidense koning Et-Baäl. Hý, die koning, sluit n lewenslange verbond, n huwelik, met n heidense prinses. Onder haar invloed laat bou Agab n Baältempel in Samaria, en rig hy gewyde boomstompe op, sodat die Israeliete na hartelus die Baäl-afgode kon aanbid.Kort voor die gebeure in 1 Kon19 egter, op die berg Karmel, terwyl die hele volk toekyk, het God Homself, deur die diens van sy profeet Elia, opnuut met beslistheid geopenbaar as die enige ware God. Die Baäl-priesters het n offer aan Baäl op hul altaar uitgepak en n hele dag rondom die altaar gedans in die hoop dat Baäl die offer met vuur sou aansteek. Niks het gebeur nie. Elia het gewag tot die tyd vir die aandoffer. Toe het hy n sloot rondom die altaar gegrawe en water oor die altaar uitgegooi sodat alles op die altaar sopnat was. Daarna het Elia die Naam van die H
ERE aangeroep en gebid. Met vuur uit die hemel het God self, voor die oë van al die Israeliete, sy brandoffer op die altaar aan die brand gesteek, sodat, in n oogwink, die vleis verteer en die water uit die sloot verdamp het. Daarop het Elia die volk opgeroep om die Baäl-profete te gryp baie van hulle is kort daarna in die Kisonspruit doodgemaak.Hierdie gebeure het Isebel, die goddelose vrou van koning Agab, haar met nuwe ywer en woede laat voorneem om Elia op te spoor en dood te maak (vers 2). Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. In die woestyn onder n besembos het hy gewens om dood te gaan. Hy was moeg, lewensmoeg. Hy het al so baie in sy lewe moes stry, vir die Naam en die diens van die H
ERE moes opkom, die afgodsdienaars moes beveg ter wille van God se volk. Elia het eenvoudig nou nie meer kans gesien om die goeie stryd van sy roeping verder te stry nie. Hy was moedeloos en lewensmoeg onder n besembos in die woestyn. Daar was baie ander plekke waarheen hy sou kon vlug, maar Elia vlug in die woestyn in omdat hy nie meer kans sien nie. Hy wil nou liewer doodgaan.Het jy al só gevoel?, Gevoel of die stryd vir jou eenvoudig te veel word? Jy moes nou al soveel maal man- of vrou-alleen opkom vir wat reg is; sê waarvoor ander nie kans sien nie? Jy moes nou al soveel maal ter wille van die H
ERE se naam en die ware geloof jou stem laat hoor by jou werk, dit dik maak in jou huisgesin. En, jy staan alleen, of altans, dit voel so. Jy vra nou al glad die vraag: "Hoeveel nóg HERE?" "Hoeveel moet ek dan nóg hieraan werk?" Jy voel of jy nie meer moed of raad het nie?, Jy wil liewer uitklim en laat vaar? Laat dan maar word... "Ek is moeggestry in hierdie lewe ter wille van die waarheid en die Christelike beginsels".As jy al so gevoel het of dalk tans so voel kyk goed hoe die H
ERE met sy moeggestryde profeet Elia gewerk het. Die HERE vergeet nie van sy profeet daar onder die besembos nie. Deur die diens van n engel gee God aan hom kos in die woestyn. Twee maaltye uit die HERE se hand het Elia in staat gestel om veertig dae en nagte aaneen te loop tot by Horeb, die berg van God. Híér wou God met sy lewensmoeë profeet praat.God praat vandag met ons deur sy Woord. Hoeveel moeite doen ons om werklik na sy Woord te luister? Elia het vir veertig dae en nagte aaneen geloop tot by Horeb, omdat God dáár met hom wou praat. Ons mag geen moeite ontsien om vandag werklik na God te luister wanneer Hy in sy Woord met ons praat nie. Elia het tot by Horeb geloop. Ons moet bereid wees om die hele Woord te ondersoek. God praat met ons op elke bladsy, met elke teks. Hy wil dáár in die profesie van Miga, of in die boek Klaagliedere, vir jou iets sê. Daarom: Loop tot by Horeb, soos Elia.
By Horeb, die berg van God, dieselfde berg waar God met Israel van ouds sy verbond bevestig het, terwyl Elia hom in n spelonk in die berg bevind, gebeur daar n merkwaardige ding: In n groot en sterk wind wat die berg geruk en rotse gebreek het was die H
ERE nie. Na die wind was daar n aardbewing. Maar in die aardbewing was die HERE nie. Na die aardbewing was daar n vuur. Maar in die vuur was die HERE nie... Na die vuur was daar "die gesuis van n sagte koelte". Toe Elia dit hoor het hy sy gesig met sy mantel toegedraai, uitgegaan en by die ingang van die spelonk gaan staan. Tóé hoor hy n stem wat vir hom sê: "Wat maak jy hier, Elia?" Met die gesuis van n sagte koelte in teenstelling met die sterk wind, die aardbewing en die vuur, openbaar God aan Elia dat Hy, die Almagtige, nie áltyd op asemrowende opspraakwekkende wyses te werk gaan nie. God gryp nie áltyd op bo-natuurlike aangrypende wyses in wanneer sake skeefloop nie. God werk ook natuurlik, doodgewoon soos "die gesuis van n sagte koelte".Tot nou toe in Elia se lewe, in dit wat vir ons in die Bybel opgeteken is, het God wél meestal op aangrypende wyses te werk gegaan. Dink maar aan die olie en die meel van die weduwee van Sarfat en haar seuntjie wat uit die dood opgewek word. Dink maar aan die aangrypende gebeure op die berg Karmel en hoe die mag van die H
ERE Elia kort daarna voor die wa van Agab laat uit hardloop het. Dink aan die engel wat vir Elia onder die besembos kos gegee het, sodat hy veertig dae in die woestyn aaneen kon loop. Nou, is dit asof God aan Elia sê: Elia, Ek ís die Almagtige. Ek kán alle dinge doen. Ek kán met wind, met aardbewings en met vuur werk. Máár, Ek werk óók op doodgewone eenvoudige maniere. Ek kán met n goddelike ingrype al jou teëspoede en probleme in n oogwink wegvee, maar nou werk Ek soos "die gesuis van n sagte koelte". Jy voel alleen, magteloos en bang vir jou lewe, maar my werk wat Ek doen gaan voort. Ék is nog altyd besig om my werk deur te voer. En, jý, Elia, jy is nog híér jy is nog nie dood nie. Ek het nog werk vir jou. Ek verwag nie gróót dinge van jou nie. Gaan... Doen maar net wat Ek aan jou sê. Ek is met jou. En wat meer is, jy het nie alleen oorgebly soos jy dink nie daar is nóg sewe duisend ander wat nie die Baälbeeld aanbid het nie (vers 18), mense soos jy waarvan jy nie eers weet nie.So praat die H
ERE met sy lewensmoeë profeet. Die HERE sê vir Elia: Nou gaan ek werk soos "die gesuis van n sagte koelte". Gaan, doodge-woon, gaan salf vir Hásael tot koning oor Aram, vir Jehu tot koning oor Israel, en vir Elisa, as profeet, wat jou een van die dae moet opvolg. My werk wat Ek doen gaan voort.Wanneer dinge voel of dit vir jou te veel word, wanneer jy voel of jy kan handdoek ingooi en gaan lê Besef: God is groter as ek en jy. Wanneer ons nie meer lig sien nie wil Hy maar net hê dat ons Hom met nog groter erns moet raadpleeg in sy Woord dan moet ons loop tot by Horeb. Sy werk gaan voort! Wat God in die wêreld doen troon uit bo ons persoonlike lewens en alles wat in die wêreld gebeur. God werk! Weliswaar nie altyd aangrypend en ingrypend nie, maar, ons kan sê, meestal doodgewoon. Doodgewoon deur ons as eenvoudige mensies in hierdie wêreld. Ons elkeen het vandag n roeping ontvang. Volhard in jóú roeping voor God.
Het jy dit al oorweeg om ons land te verlaat en heenkome elders te gaan soek waar omstandighede rooskleuriger blyk te wees? Beantwoord dan eers die vraag voor God: "Wat doen ek híér?" Dit is ook die vraag waarop Elia moes antwoord.
Wanneer jy moedeloos voel, wanneer jy wil ophou stry en wegvlug, dink daaraan dat juis in n tyd toe ons Here Jesus se dissipels gevoel het "alles is nou verlore en tevergeefs" hulle het hulle Rabbie aan n kruispaal n vloekdood sien sterf. Juis in só n tyd was ons Here Jesus Chris-tus besig om dié mees deurslaggewende daad van alle tye te verrig. Toe sy dissipels moedeloos, verward en teleurgesteld was, omdat hulle Hom aan n kruis sien sterf het, juis toe was Jesus Christus besig om die magte van die Satan en die dood, ter wille van ons, te oorwin, om die toorn van God in ons plek te dra. Daarna het Hy na drie dae uit sy graf uit opgestaan! In Hom, ons Here Jesus Chris-tus, is ons oorwinnaars! Dit maak van ons lewens: gawe en roeping. Omdat alles wat ons in die lewe is en het "gawe" is, moet alles wat ons doen en mee besig is "roeping" wees. Ons elkeen het n roeping voor God om enduit te vervul. Roeping is die lewenstaak wat die Almagtige God aan elkeen van ons persoonlik opgedra het. Roepingsvervulling is ook ons dankie sê aan God vir sy reddende genade in Christus.
Laat ons dan nooit bes gee nie. Die H
ERE se werk in Elia se dae het voortgegaan. Die HERE se werk, ook in ons land, gaan voort.