Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 Julie 2003
EEN WOORD WAT 'N REUSAGTIGE VERSKIL MAAK- DS GJ MEIJER, WONDERBOOMPOORT - PERSSKOU IN: WAARHEID EN DWALING, APRIL 2003, BL 22-24 -
Ratifikasie: tensy ... óf: totdat ... ?Om te ratifiseer beteken om besluite van meerdere vergaderings (sinodes en klasses) vir vas en bindend te hou. In Artikel 31 Kerkorde onderneem kerke om dit wat met meerderheid van stemme besluit is, vir vas en bindend te hou (Latyn: ratum habere). Die manier waarop 'n kerkraad die besluit van 'n meerdere vergadering vir vas en bindend hou is ... stap voor stap uiteengesit. Dit kom daarop neer dat die kerkraad die notules van die betrokke meerdere vergadering deeglik bestudeer. Besluite word met die liniaal van Gods Woord, die belydenis en die kerkorde getoets of dit geldig is (dit wil sê: ooreenkom met die Skrif, belydenis en kerkorde). Geldige besluite word as sodanig aanvaar en uitgevoer. Indien 'n kerkraad egter oordeel dat 'n besluit ongeldig is, moet dit by wyse van 'n beswaarskrif so gou as moontlik aan die kerkverband bekend gemaak word. Hierdie stappe kom ooreen met die vervolg van Artikel 31 van die kerkorde: Besluite word vir vas en bindend (geldig) gehou, tensy bewys word dat dit in stryd met Gods Woord of die artikels van die kerkorde (ongeldig) is. Artikel 31 impliseer dat ongeldige besluite nie vir vas en bindend gehou sal word nie.
In Die Kerkblad van Maart 2003 skryf ds Hentie Krüger die volgende na aanleiding van Artikels 31 en 46 van die kerkorde:
"Hierdie twee kerkorde-artikels beklemtoon twee belangrike regsbeginsels: (1) besluite is geldig en (2) besluite kan verander word. Genoemde artikels maak juis 'n ordelike pad oop vir diegene wat nie met 'n sinodebesluit saamstem nie.
Die bewyslas is op diegene wat beweer dat die sino-debesluit nie reg is nie en nie op kerke om te bewys dat 'n sinodebesluit Skriftuurlik is nie. Hy/sy moet dan bewys dat die besluit strydig is met die Woord van God. Tot tyd en wyl die beswaar bewys word, is die sinode-besluit geldig.
Ongelukkig bestaan die siening by sommige dat 'n kerkraad eers self 'n sinodebeluit geldig moet bevind of verklaar, met ander woorde dat die kerkraad moet bewys of 'n sinodebesluit Skriftuurlik is of nie. Gestel nou byvoorbeeld 'n kerkraad is oortuig dat die sinodebesluit nie volgens God se Woord, die belydenisskrifte of die kerkorde is nie, mag hy dan die genome besluit eiewillig ignoreer en maak asof dit nie bestaan nie? Nee, so werk gelowiges nie met mekaar nie. Die ordelike pad van liefde en waarheid vereis dan dat die betrokke kerkraad langs die kerklike weg hulle oortuiging moet bewys. Die besluit bly egter geldig tot tyd en wyl die nodige bewys gelewer is."
In Die Kerkblad van April 2003 skryf prof Dries du Plooy oor die gebeure in Die Gereformeerde Kerk Waterberg onder die opskrif: "Doleansie en ratifikasie - Reaksie op besluite van Waterberg":
"... Artikel 31 (van die kerkorde) gebruik die Latynse woord nisi (tensy). 'n Besluit is bindend, tensy bewys word ... Dit is die reël: bewys dit; oortuig die ander kerke daarvan. Hierdie problematiek het in Nederland gelei tot propagering van die sogenaamde ratifikasiereg.
In die geval van Waterberg se kerkraad is dit duidelik dat hulle die besluite van die sinode op die tafel van die kerkraad gehad het, en steeds besig is om die besluite te toets. Op sigself is dit - vanuit 'n bepaalde perspektief gesien - 'n korrekte en voordelige manier van doen, want besluite wat geneem is, kan verkeerd wees. Waterberg het egter verder gegaan; hulle het nie net met goeie reg krities na sommige besluite gaan kyk nie om te bepaal of dit reg of verkeerd is nie. Hulle het opnuut en telkens hul eie besluite oor die besluite van die Sinode geneem en besluit wat hulle as geldig of as ongeldig sal beskou. Met ander woorde: die besluite wat die Sinode geneem het, word eintlik deur hulle beskou as ongeldig tot tyd en wyl die kerkraad dit geldig/ aanvaarbaar of ongeldig/onaan-vaarbaar verklaar het.
Dit is die tipiese metode van die voorstaanders van die sogenaamde ratifikasiereg wat vroeër in die geledere van die Vrygemaakte kerke in Nederland aan die orde was. Terloops, dit geskied vandag nie meer so in daardie kerke nie. Volgens die ratifikasiereg moet die kerke na afloop van 'n meerdere vergadering die hele vergadering as 't ware herhaal. Dieselfde sake word dus twee keer in behandeling geneem: eers deur die sinode, en dan by die kerkraad waar dit geldig gemaak word (ratifikasie kom van die Latynse ratus facere = om geldig te maak; die artikel praat van ratus habere: om geldig te hou)."
Ds Krüger en prof Du Plooy se sienings oor Artikel 31 van die kerkorde verdien kommentaar.
Hulle gaan beide daarvan uit dat 'n besluit wat met meerderheid van stemme geneem is, geldig en daarom bindend is. Dit is onwaar. Dit staan ook nie so in Artikel 31 nie. Wanneer is 'n besluit geldig en gevolglik bindend? As dit met Gods Woord, die belydenis en die kerkorde ooreenkom. Die meerderheid van stemme bepaal nie die geldigheid van 'n besluit nie (vergelyk Artikel 7 NGB), maar die Skrif!
Ds Krüger stel dat, indien iemand meen dat 'n bepaalde besluit van 'n meerdere vergadering ongeldig is, die bewyslas op die persoon rus: "Hy/sy moet dan bewys dat die besluit strydig is met die Woord van God". Dit is heeltemal korrek. Dit is 'n suiwer regsbeginsel. Maar dan sê ds Krüger verder: "Tot tyd en wyl die beswaar bewys word, is die sinodebesluit geldig". Hy herhaal dit: "Die besluit bly egter geldig tot tyd en wyl die nodige bewys gelewer is."
Ds Krüger verander die tensy van Artikel 31 in tot tyd en wyl. Dit is 'n verandering van een woord, wat egter tot 'n reusagtige verskil lei. Dit impliseer dat 'n besluit wat met meerderheid van stemme geneem is (en volgens ds Krüger daarom geldig is) op 'n sta-dium ongeldig verklaar kan word. Dit is uiteraard onmoontlik.'n Ongeldige besluit kan nie geldig gemaak word nie; ook al stem 'n hele vergadering ten gunste daarvan. Net so kan 'n geldige besluit nie ongeldig gemaak word nie. Om van 'n lidmaat of kerkraad, wat oordeel dat 'n bepaalde besluit ongeldig is, te ver-wag dat hy/sy/hulle dit as geldig moet beskou totdat die teendeel bewys is, getuig nie van regspraak nie.
Ds Krüger en prof Du Plooy bevestig albei die noodsaaklikheid van bewyslewering indien 'n bepaalde besluit van 'n meerdere vergadering nie as vas en bindend gehou kan word nie. Dit is korrek. Wat egter onwaar is, is die voorstelling wat hulle maak van die ratifikasiereg, asof ratifikasie sou impliseer dat 'n kerkraad 'n besluit van 'n meerdere vergadering op sy eie ongeldig kan verklaar en dan maar doen wat hy wil. Ratifikasie beteken presies die teenoorgestelde. Indien 'n besluit getoets is en ongeldig bevind is, moet die bewyse vir ongeldigverklaring so gou moontlik aan die meerdere vergadering voorgelê word. Kerke is dit aan mekaar verskuldig om vermeende ongeldigheid aan mekaar bekend te maak.
Prof Du Plooy stel: "Volgens die ratifikasiereg moet die kerke na afloop van 'n meerdere vergadering die hele vergadering as 't ware herhaal. Dieselfde sake word dus twee keer in behandeling geneem: eers deur die sinode, en dan by die kerkraad waar dit geldig gemaak word". Dit is geen suiwer weergawe van die ratifikasieplig nie. Die studie wat sinodedeputate gedoen het, al die beredeneringe en bevindinge word nie opnuut oorgedoen as daar geratifiseer word nie. Die finale besluite van die meerdere vergadering word getoets. Dit is ooreenkomstig Artikel 33 van die Kerkorde 'n korrekte werkswyse. Afgevaardigdes moet aan die vergadering wat hulle afgevaardig het, kom verslag doen oor hulle werksaamhede. Die vergadering wat hulle gestuur het moet dan oordeel of hulle ooreenkomstig hulle mandaat opgetree het. So is dit deur alle eeue in die Gereformeerde Kerke gedoen. Herhaling van 'n sinode? Nee. Toets of die besluite wat geneem is, geldig is? Ja.
Prof Du Plooy wys op die term ratifikasie: "ratifikasie kom van die Latynse ratus facere = om geldig te maak; die artikel, praat van ratus habere: om as geldig te hou". Dit is korrek. Maar dan moet daar volledigheids- en eerlikheidshalwe bygevoeg word dat ratifikasie 'n geykte regsterm is, wat in die Gereformeerde kerkreg dui op ratihabitio: om as geldig te hou. Artikel 31 soos wat dit tans in die Kerkorde van die GKSA verwoord is, behoort eintlik te lees: "Wat op 'n kerklike vergadering met meerderheid van stemme besluit is, sal vir vas en bindend (geldig) gehou word, tensy ...".
Gaan die debat rondom ratifikasie al dan nie oor lettersiftery? Is dit 'n tegniese gekibbel oor 'n woord hier en 'n term daar? Voorwaar nie. Dit gaan oor baie meer. Die alleenheerskappy van die woord kom in gedrang as kerkrade (lasgewers) nie ooreenkomstig die Skrifte toets wat hulle afgevaardigdes (lashebbers) besluit het nie. Die Gereformeerde Kerk Waterberg het nie slegs vanuit "'n bepaalde perspektief" reg opgetree deur sinodebesluite te toets nie. Hulle het bloot hulle plig gedoen. Dit is 'n plig wat op die skouers van elke kerkraad rus.