Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
TENSY ....

AKTUEEL: Kommentaar op die hersiene godsdiensbeleid in skole.

SKRIFOORDENKING:
Deurgrond my, O God

Die "Sleutel van die kennis" (Lukas 11:52) en die Psalmomdigting 2001

Die Heilige Skrif: Foutloos of onfeilbaar?

Een woord wat 'n reusagtige verskil maak.

Totius - 50 jaar gelede heengegaan.

Begrafnisse en lykverbranding

Reformasie bring vervolging

KERKLIKE JOERNAAL: 
Die nuwe psalmboek op Hervormingsondag, feestelik in gebruik geneem

Klassis Waterberg ondersteun Gereformeerde Kerk Waterberg se "dolering"

Teologiese Skool Potchefstroom: Nuwe Rektor en Vise-rektor asook nuwe dagbestuur van kuratore

NGK - Draaipunt: Sosialisering

Cloete - omdigting berus op NAV 1983

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Die Pretoriase Akademie vir Christelike - Volkseie hoër onderwys.

Nuus oor PU vir CHO skokkend!

PU vir CHO laat demokrasie voor transformasie buig.

Universele gebed dalk voorskriftelik vir gebruik in skole.

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die vertekening van die Calvinisme

Dr A Kuyper oor die sosiale vraagstuk en die Christelike Godsdiens.

Doleansie en Toleransie

PERSRUBRIEK: 
RJW van der Kooi (Polemies)

Argument wat saak maak

Rekenaar-, Inligting- en Kommunikasie-tegnologie: Vriend of Vyand?

Die Internet: Boekrak vir die Christen.

KOMMENTAAR: Prof C Coetzee oor Sinodebesluite

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van vitalisme

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 4 Julie 2003

TOTIUS  -  50 JAAR GELEDE HEENGEGAAN

-  NANDOR SARKADY  -   PRETORIA  -

Op 1 Julie 2003 is dit 50 jaar gelede dat J.D. du Toit Afrikaanse Psalmberymer, Bybelvertaler, digter, teoloog en predikant in die ouderdom van 76 jaar heengegaan het. Die bydra wat hy, of soos hy in die volksmond bekend gestaan het as Totius, vir onder meer Afrikaans, die Gereformeerde Kerke en die Afrikaanse volkskarakter gelewer het, is moeilik te oorskat.

Dat sy groot werk as Psalmberymer en Bybelvertaler in die kollig staan sonder om die ander bydraes in newels te hul, behoort niemand te verbaas nie. Juis Totius se bydrae tot die eerste Afrikaanse Bybelvertaling en die Psalmberyming blyk selfs anno Domini 2003 nog hoogs aktueel te wees, in ieder geval in die Gereformeerde Kerke.

Dit was allerweë bekend dat Totius se gesondheid nie altyd goed was nie. Sy gestalte het die van broosheid beliggaam, voortgedrewe deur sy onblusbare besieling.

Die skemeraand van die psalmberymer se lewe was vredig en tog het hy andersyds tot die einde bly werk. Waaraan? Die hersiening van die Afrikaanse Bybel. Waaraan anders wil mens byna vra.

Die laaste twee jaar van sy lewe het hoogtepunte geken. Hierin was iets soos die selfstandigwording van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys in Maart 1951 ‘n mylpaal. Hy het die eerste kanselier geword. ‘n Waardige wyse om aan sy bydrae vir Christelike onderwys oor dekades te dink. Vandag byna ‘n ironie !

Dit kan nie nagelaat word om te dink aan die wyse waarop hierdie instelling sopas die beginsel waarvoor dit eintlik opgerig is nou amptelik prysgegee het nie. Die geskiedenis sal uitwys of die besluit wat nou geneem is nie reeds lank sluimerend was nie ? En dan mag hier die vraag dring, wát sou prof dr Du Toit hiervan gedink het? Wat sou sy mening vandag gewees het as hy nog sou geleef het? As nagegaan word watter groot deel in sy "Versamelde Werke" bestee is aan die bevordering van Christelike Onderwys, is dit nie so moeilik nie. Veranderde tye ? Was dit nie in 1869, 1905 en 1951 ook so nie ? Enkele jare voor 1951 het ‘n ander predikant gevra Quo Vadis, Afrikaner? ‘n Geldige vraag!

Op 30 Januarie 1952 het Totius sy laaste groot toespraak gehou in die Potchefstroomse Stadsaal tydens die Van Riebeeckfees. Sy tema: "Transformasie soos deur vuur". ‘n Titel wat 50 jaar later byna modern klink.

Enkele dae later op 2 Februarie 1952 onthul hy die gedenksteen van die nuwe gebou vir die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerke op Potchefstroom. Op Saterdag 16 Augustus 1952 preek hy op dieselfde terrein by die ingebruikneming van die nuwe kerkgebou van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom-Noord.

Die PU vir CHO het op 21 Maart 1953 aan hom ‘n ere-dokorsgraad toegeken. Hierna het Totius nog met haastigheid gewerk aan die hersiening van die 1933 Bybel-vertaling en die stukke begin Junie self in Johannesburg besorg.

Hy het hierna ‘n tweede hartaanval gekry en in Water-kloof, Pretoria by sy seun aangesterk. Op 30 Junie skryf die digter ‘n laaste paar reëls in sy Psalmboek wat begin met die woorde "Daar sal geen doodsvrees wees nie...." Woorde wat van geloofsbevinding getuig.

So het hy volgens getuienis dan sag heengegaan in Pretoria op Woensdagaand 1 Julie 1953. Die Saterdagmiddag het die begrafnis op Potchefstroom plaasgevind, gelei deur ds. A.S.E. Yssel. Huldeblyke het ingestroom, die digter S.J. Pretorius dig die dag na die begrafnis "Aan Totius", alles getuienis van die waardering wat daar bestaan het.

Ons gaan nie in op huldeblyke nie maar, op die waarde van die nalatenskap van hierdie begenadigde man wat meestal in Afrikaans sy Gereformeerde skoene volgestaan het op die plekke waar hy moes wees.

Baie mense het indrukke oor Totius gegee tydens sy lewe en daarna. Miskien is die halwe bladsy met herinneringe wat die groot Nederlandse skrywer A. Roland Holst in Die Huisgenoot van 21 Februarie 1947 neergepen het een van die aangrypendeste.

A. Roland Holst het na die trauma van die Tweede Wêreldoorlog ‘n tyd lank gedurende 1946-47 besoek aan Suid-Afrika gebring en onder andere by mense soos N.P. van Wyk Louw en Elizabeth Eybers vertoef.

Roland Holst noem die middag by Totius op die plaas Krugerskraal buite Potchefstroom ‘n groot oomblik in sy lewe en vertel in gespierde prosastyl van "de bijna heilige eenvoud....hoe deze kleine groote man, deze dienende dichter op een stillen achtergrond als het ware, het volksgeweten van den Afrikaander belichaamt." Hy gaan voort en beskryf die ontvangs in die "afgelegen eenvoudige woning, de rust van zijn sprekende stem, die een toon had van laat gewonnen rijkdom, de bescheiden nadruk van zijn ernst, zullen mij altijd bijblijven.

Oor die digkuns van Totius skryf hy onder meer dat daarin ‘n menswees gestalte kry wat skaars is, dienaar maar met waardigheid en beskeie, streng vir homself en mild vir die mense om hom heen. Maar dit was veral by die lees van die Psalmberyming dat Roland Holst (sonder om hom gelowig te verbind), gevoel het hy begryp Totius ten diepste: "bij het lezen van zijn Psalmberijmingen het gevoel kreeg hier in het geheim te worden genomen van zijn binnenst heiligdom? alsof hij het meest verhevene in zichzelf pas uit had kunnen spreken na het te hebben toegedacht- toegeschreven inderdaad- aan wat zoo veel ouder was dan zijn eigen leven?"