Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 Julie 2003
BEGRAFNISSE - PROF JD DU TOIT (TOTIUS) IN: DIE KERKBLAD, 9 AUGUSTUS 1946Enkele lesers, ook 'n lid van die Redaksie, het gemeen dat dit wenslik is om weer enige voorligting te gee insake die begrafnisse in verband met gebruike wat daarby onder ons plaasvind. Enigsins aarselend onderneem ons dit om oor hierdie onderwerp te skrywe, daaraan gedagtig dat hier teerheid van behandeling 'n vereiste is. Nietemin moet ook nou die deurslag gee dat die Here groot gemaak word, hetsy by die lewe of by die sterwe.
In die liturgiese geskrifte van die Gereformeerde Kerke kom geen bepalinge voor waarin die teraardebestelling van die dode gereël word nie. Dit was dan ook nie die bedoeling van die ou Gereformeerdes om in die strenge sin van die woord 'n "kerklike begrafnis" voor te skrywe nie. Ons kan dit verstaan. Hy of sy wat in die Here sterwe, hou op om lid te wees van die strydende kerk op aarde en word oorgeplant in die triomferende kerk in die hemel. Aan die gestorwenes kan deur die kerk op aarde die Woord nie meer bedien word nie. Allermins kan daar sprake wees van sakramentsbediening of aanwending van die tug. Hulle, die dode, het van ons af heengegaan om by die Here te wees. Dit is ons gerusstelling.
Met die Roomse Kerk staan dit heeltemal anders. Hier is 'n lykdiens in swang. Die priester arbei, om dit so uit te druk, nóg aan die oorledene. Hy hou 'n predikasie met gebede vir die sielsrus van die afgestorwenes. Dan volg die besprenkeling met wywater en word die dode in "gewyde" grond begrawe.
Hierteen het ons Gereformeerde sinodes opgetrek. Alreeds die Sinode van Dordrecht (1578) het daaroor uitvoerig uitspraak gegee in artikel 58 van die kerkorde. Daar staan: "Aangesien die gebruik van lykpredikasies baie gevare inhou, is ons gevoel dat hulle in die plekke waar hulle nie bestaan nie, nie ingevoer moet word nie."
Waar hulle geter gewoonlik gehou is, moet hulle "geduld" word, om hulle af te skaf sodra dit sonder ergernis kan gebeur. By so 'n diens moet dan nie 'n predikasie gehou word nie maar liewer 'n "ongepremiditeerde vermaning" wat met gebed begin en met danksegging beëindig word. Ten slotte word gewaarsku dat in dié dienste die lof van die afgestorwenes nie verkondig moet word nie.
Die Sinode van Middelburg (1581) en van Den Haag (1568) het hulle in dieselfde trant uitgespreek, totdat Dordt (1618-19) hierdie voorafgaande besluite vasgelê het. In ons redaksie van die KO staan dit kortweg: Lykpredikasies of lykdienste mag nie ingevoer word nie.
Dit is al. Vroeër was daar nog 'n "danksegging by die begrafnis van die dode", agter die Kategismus afgedruk. Maar die ou vaders het besluit dat die drukkers "vermaan" moet word om dit nie meer te doen nie (Mid-delburg, 1581 - vr 54).
Die moeilikheid van die genoemde sinodes was dat hulle teen twee gevare moes waak: (1) dat die eenvoudiges die gebede wat in verband met die begrafnis gedoen word, nie gaan beskou as 'n voorbede vir die afgestorwenes nie en (2) dat "die lof van die afgestorwenes" alte seer verkondig sal word, terwyl die ontroerende erns van die dood op die agtergrond raak. Die eerste gevaar bestaan onder ons nie meer nie, terwyl teen die tweede nog gewaak moet word.
Prof Heyns (VSA) sê in sy Liturgiek aangaande die "lofspreek" en "saligspreek" dit: "Omdat daar geen waaragtige troos is behalwe die van 'n salige afsterwe nie, wil ons, as dit moontlik is, die treurendes so graag daardie troos laat toekom. Maar die ligvaardigheid waarmee dit hier in ons land (Verenigde State van Amerika) geskied, waardeur godlose mense dan in die waan gebring moet word dat elke dode, hoe hy ook al geleef het, na die hemel gaan, moet ons tot dubbele versigtigheid maan" (bl 291).
Van ten minste een geval weet ons waar by die teraardebestelling van 'n gelowige wat algemene bekendheid verwerf het, selfs geen toespraak gehou is nie; alleen is gedeeltes uit die Heilige Skrif gelees, gesing en gebid. Nietemin het dit op die erns van die oomblik niks afgedwing nie. Inteendeel, daar was wyding en die regte stemming.
Om nou weer op artikel 65 van ons Kerkorde terug te kom - dit gaan in teen wat 'n offisiële kerklike lyksdiens genoem kan word. Die Reformasie het ook in hierdie opsig met Rome gebreek.
Dit wil egter nie sê dat die kerk by die begrafnis geheel uitgeskakel moet word nie. Wel is die begrafnis 'n familiesaak en is dit die familie wat alles reël in verband daarmee en ook die voorganger vra wat die leiding sal neem. Maar by dié reëling is dit paslik dat die kerk geken word. Immers, die getroue lidmaat wat afsterf, het sy kerk liefgehad, en sy kerk het hom liefgehad. Daarom is dit vanselfsprekend dat die leraar gevra word om voor te gaan; of, as hy nie kan nie, 'n ouderling, aangesien dit tot die ouderlinge-amp behoort "om veral die lidmate van die gemeente te vertroos" (artikel 23 KO). Artikel 65 wil dus nie so opgevat wees dat dit die voorganger verbied word om die familielede, saam met die belangstellende aanwesiges, te vertroos en ook tereg te wys as dit nodig is nie. Alleen moet sorg gedra word dat die toespraak nie die vorm van 'n diens van die Woord aanneem nie.
Ons hoop dat die opmerking ons ten goede gehou sal word dat so 'n toespraak nie so maklik is nie. 'n Bekwame dienaar van die Woord, alreeds ontslape, het eenmaal na waarheid gesê dat so 'n toespraak (laat dit selfs 'n predikasie wees) ten slotte nie dié indruk maak wat 'n mens daarvan sou verwag nie, gesien die erns van die oomblik. Die verklaring van hierdie verskynsel soek ons hierin dat die familielede liefs met hulle eie gedagtes in die stilte wil verkeer. Hulle wil luister na die dodespraak, nee, na die spraak van God self. Die stille maar magtige spraak waarmee God deur die dood spreek, oortref alles. Dié meditasie, fyn gespan soos tere herfsdrade, wil nie graag gesteur wees nie. Daarom moet ons woorde min wees. En ag, hoe moeilik is dit om die regte trooswoord te vind? 'n Simpatieke handdruk sê soms veel meer!
* * *
Wat die verdere gebruike betref wat by die begrafnis waargeneem word, ons gee eers verkort die beskrywing van prof Heyns hoe dit alles in Amerika verloop, om dan enkele opmerkings daaraan te verbind.
Die leraar lees in die sterfhuis 'n hoofstuk en doen 'n gebed. Daarna gaan die stoet (die leraar voorop) na die kerk. 'n Lykrede word daar gehou, terwyl die kis in die portaal of voor die preekstoel staan. Aan die einde versoek die leraar die gemeente om ordelik langs die lykkis heen te gaan ten einde 'n laaste blik op die oorledene te werp. Op weg na die graf ry die leraar voorop. Is die kis in die graf neergelaat, dan werp hy grond daarop met die woorde:"Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer." Daarna hou die leraar soms nog 'n kort toespraak en sluit met gebed.
Prof Heyns merk verder op dat die inbring van lyke in die kerk tot die middelmatige dinge behoort volgens sinodebesluit van 1886 van die Christelik Gereformeerde Kerk aldaar. Maar sê hy verder: "Daar kan ook gesê word dat die lê van blomme op die kis tot die middelmatige dinge behoort. Tog is dit nie sonder rede dat albei sake (lyke in die kerk en blomme), veral die laaste, by ons nie met guns bejeën word nie. Daar is in die Amerikaanse wêreld soveel bedrywigheid met en mooimaak van die dode, en in daardie pragtige kis, in daardie fleurige gewaad. In daardie blomme en kranse is soseer die toeleg merkbaar om die afskrikkende van die dood weg te moffel dat dit by ons weersin wek."
Op grond van hierdie aanhalings enkele aantekeninge:
(1) Hoeveel van die gebruike ook in die Christelik Gereformeerde Kerk in swang is, is nie heeltemal duidelik nie. Sover ons kan uitmaak, lyk dit of daar in hoofsake ooreenstemming is tussen ons hier te lande en die broeders in Amerika.
(2) In Amerika is daar dan 'n dubbele diens: een in die sterfhuis en een in die kerk. Waarom? As ons wonings groot genoeg is, is dit tog nie nodig om die kerkgebou aan te vra nie; en as ons wonings die skare nie kan herberg nie, is 'n diens in die kerk voldoende, tensy dan dat die toespraak in die kerk meer die vorm van 'n predikasie wil aanneem!
(3) Die inbring van die lykkis in die kerk kan as middelmatig beskou word, maar ons meen dat dit veiliger is om te volhard by wat onder ons hier te lande gebruiklik is, naamlik om dit nie te doen nie. Alle oortollige en selfs twyfelagtige pligpleginge moet vermy word.
(4) Die woorde: "Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer", wat ook wel in Suid-Afrika gehoor word, vind ons, om die minste daarvan te sê, nie gepas nie en ook nie stigtelik nie. Die woorde uit Genesis 3:17 is tog 'n Goddelike strafwoord; en mag die teraardebestelling van 'n gelowige dan eindig met 'n strafwoord? Christus het tog die straf gedra en ons daarvan verlos! Het Christus nie as Middelaar in die graf gelê nie, sodat óns die graf as 'n rusplek kan beskou? En is die liggaamstraf nie deur die Heilige Gees gekenmerk nie, tot op die dag van die opstanding?
(5) Wat aangaan die blomversiering by die graflegging - blomme is liewe dinge; hul laggende gelaat spreek tot ons die taal van vrede in ons kommernis. Wat sou die wêreld sonder hulle wees? As ons maar peinsend by hulle wou gaan staan en hulle nie gedagteloos wou verbyloop nie! Maar blomme, al word hulle tot heuwels opgehoop, kan die verskrikking van die Koning van Verskrikking nie wegneem nie. Daarvoor is hulle nie bestem nie. Alleen die geloof in Christus en die verlossing deur Hom teweeggebring, kan die dood se angel wegneem.
(6) Wat die lui van klokke by begrafnisgeleenthede aangaan - ons ou sinodes was daar vierkantig op teë, omdat dit volgens Roomse bygeloof sou dien: (1) om die bose geeste te verdrywe en (2) om die mense op te wek om vir die dode te bid.
Hier by ons het die klokgelui, waar dit nog mag plaasvind, niks te maak met duiwelbanning nie. Dit is bloot 'n kennisgewing dat iemand oorlede is. Natuurlik het so iets in 'n groot dorp of 'n stad geen nuttigheid nie.
LYKVERBRANDING Die Johannesburgse dagblaaie meld dat aldaar by die Brixtonse begraafplaas 'n krematorium geopen is, dit wil sê 'n gebou waarin lyke verbrand word.
Die gebou is deur Johannesburgse Hindoes opgerig en is in die eerste plek bedoel om hulle in hul godsdienstige gebruik tegemoet te kom. Die Hindoes begrawe naamlik nie hul dooies nie maar verbrand hulle. ...
Verder sê die Star ... dat dit netjies lyk en glad geen sombere vertoning maak nie. In die onmiddellike nabyheid van die "oond" of verbrandplek is 'n aantal kamers, onder andere ook 'n biblioteek, waarin alle voorsiening vir die roudraende persone gemaak word. Wie 'n lyk wil laat verbrand, sê die blad, kan inligting kry by die Hindoes , wat op 'n eeuelange ervaring aanspraak kan maak.
Dit blyk dat die Hindoes van Johannesburg al jare lank hierdie gebruik volg, maar die verbranding moes buitekant die stadsgronde plaasvind. Nou tree hulle meer publiek op, en hulle plan is selfs om deur publikasie van mediese getuienis propaganda vir die saak te maak.
Dit was 'n deel van die Hindoegodsdiens ... om die lyke te verbrand van die wat afsterwe. Daaraan lê ... die beginsel ten grondslag dat wanneer die wese, die gees, die "ek" die liggaam verlaat, dit nodig is om alle moontlike bande aan die liggaam so spoedig moontlik los te maak. 'n Mens het 'n gehegtheid aan die huis waarin hy 'n tydlank gewoon het , en hoewel hy dit verlaat en elders gaan woon het, openbaar hy soms tog 'n begeerte om terug te keer en die ou huis weer te sien. So ook kan 'n mens wat die stoflike liggaam verlaat het (gesterf het), wens om terug te kom om weer daarin te lewe vanweë die noue band wat eertyds bestaan het. Om dus die mens vry te maak van die ou bande, sodat hy hoër kan opgaan, vernietig hulle (die Hindoes) die stoflike huis (die liggaam) van die mens deur vuur, sodat hy na 'n reiner en fyner huis kan soek. So help hulle (so sê hulle) die eintlike mens in sy ontwikkeling. ...
Ons meen dat dit ons roeping is om as Christelike blad teenoor die openbare meningsuiting ten gunste van lykverbranding te stel die Christelike belydenis en praktyk van alle eeue, Daaruit sal duidelik word waarom ons teen lykverbranding ageer.
TOTIUS In: Het Kerkblad, 15 November 1918