Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
TENSY ....

AKTUEEL: Kommentaar op die hersiene godsdiensbeleid in skole.

SKRIFOORDENKING:
Deurgrond my, O God

Die "Sleutel van die kennis" (Lukas 11:52) en die Psalmomdigting 2001

Die Heilige Skrif: Foutloos of onfeilbaar?

Een woord wat 'n reusagtige verskil maak.

Totius - 50 jaar gelede heengegaan.

Begrafnisse en lykverbranding

Reformasie bring vervolging

KERKLIKE JOERNAAL: 
Die nuwe psalmboek op Hervormingsondag, feestelik in gebruik geneem

Klassis Waterberg ondersteun Gereformeerde Kerk Waterberg se "dolering"

Teologiese Skool Potchefstroom: Nuwe Rektor en Vise-rektor asook nuwe dagbestuur van kuratore

NGK - Draaipunt: Sosialisering

Cloete - omdigting berus op NAV 1983

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Die Pretoriase Akademie vir Christelike - Volkseie hoër onderwys.

Nuus oor PU vir CHO skokkend!

PU vir CHO laat demokrasie voor transformasie buig.

Universele gebed dalk voorskriftelik vir gebruik in skole.

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die vertekening van die Calvinisme

Dr A Kuyper oor die sosiale vraagstuk en die Christelike Godsdiens.

Doleansie en Toleransie

PERSRUBRIEK: 
RJW van der Kooi (Polemies)

Argument wat saak maak

Rekenaar-, Inligting- en Kommunikasie-tegnologie: Vriend of Vyand?

Die Internet: Boekrak vir die Christen.

KOMMENTAAR: Prof C Coetzee oor Sinodebesluite

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van vitalisme

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 4 Julie 2003

REFORMASIE BRING VERVOLGING

- PROF GJC JORDAAN - DIE KERKBLAD, 24 OKTOBER 2001 (BL 4) -

Dat die Gereformeerde Kerke jaarliks die Hervorming (31 Oktober gedenk, sê baie. Dit sê onder meer dat ons in ons tyd steeds getrou wil bly aan dié beginsels wat as dryfkrag van die Hervorming van die sestiende eeu gedien het:

• Sola Scriptura - deur die Skrif alleen

• Sola Gratia - deur genade alleen

• Sola Fide - deur die geloof alleen

• Sola Christo - deur Christus alleen

• Sola Deo Gloria - aan God alleen die eer

Hoewel hierdie artikel op 24 Oktober 2001 gepubliseer is, het dit dieselfde trefkrag, dalk meer nog, met die oog op Hervormingsondag, 26 Oktober vanjaar, vanweë die offisiële, selfs feestelike invoering van 'n skriftuurlik betwisbare Psalm-omdigting vir gebruik in die eredienste, nieteenstaande indringende besware wat daarteen aangevoer is.    (Red - PvdK)

Met die geloofshand kragtig om bovermelde beginsels geslaan, het die Hervormers téén die destydse kerklike praktyke die waarheid van God se Woord gehandhaaf. Téén die Roomse idee van regverdiging deur goeie werke het hulle daarop gestaan dat ons deur die geloof alleen regverdig word (bv. Rom 3:22); téén die Roomse idee dat die kerk ons salig kan maak, het die Hervormers Christus as enigste Saligmaker bely (bv. 1 Tim 2:5,6); téén die Roomse verdiensteleer het hulle geglo dat God alles slegs op grond van sy soewereine genade aan ons skenk (bv. 1 Kor 15:10).

Hiermee het die Hervormers die Roomse kerkleiers se woede oor hulleself gehaal. Gruwelike vervolging het oor hulle gekom. Maar selfs toe duisende Protestante oor hulle gereformeerde geloof wreedaardig vermoor is - tydens die berugte Bartolomeüsnag nie minder nie as 25 000! - het hulle die krag en die genade ontvang om te bly vasstaan. Hulle geloof sou hulle nie afsweer nie.

Geloofsvervolging in 2001

Nou, feitlik 'n halwe millennium later, is óns die geslag gereformeerdes wat in die wêreld van ons tyd die gereformeerde vaandel omhoog moet hou.

Geloofsvervolging soos dié van destyds beleef ons genadiglik nie. Daarvoor kan ons God maar net dank. Maar Satan rus nie. En in hierdie wêreld gee hy nooit die stryd gewonne nie (vgl 1 Pet 5:8). Op sy aanstigting sal gelowiges wat getrou aan God en sy Woord wil bly, altyd onder druk geplaas word. Daarom duur die geloofstryd vir ons vandag nog voort, al kom die vervolging net in 'n ander gedaante.

Gereformeerdes kom vandag te staan voor 'n felle aanslag van buite die kerk. Die Calvinisme, wat draer van die gereformeerde beginsels is, word deur sekere openbare figure van ons tyd openlik verguis as die groot boosdoener agter alles wat skeefloop. 'n Karikatuur van Calvinisme as eng en bekrompe word die wêreld ingestuur. Tot so 'n mate dat 'n bekende Afrikaanse akteur onlangs in die openbaar beweer het dat "ons ouers tog so deur die Calvinisme verdruk is" (vgl Sarie, 28 Junie 2001, bl 26).

Maar dit gaan verder as net 'n vyandige klimaat wat geskep word. Die teeenstand van ons huidige Suiid-Afrikaanse owerheid teen die eg Calvinistiese benadering van Christelike onderwys is nou al byna ou nuus. Tog bly dit steeds 'n harde werklikheid wat die onderwys van ons kinders nog swaar kan tref.

Dit lyk byna of hierdie aanslag vamn buite 'n bondgenoot van binne het. Dit gebeur elke keer wanneer teoloë vraagtekens plaas oor geloofswaarhede soos die uniekheid en die gesag van die Bybel, Christus as enigste Verlosser en die absolute almag van God.

Dat daar ook in Suid-Afrika teoloë vanuit die breë gereformeerde kring is wat aan sulke bevraagtekening deelneem, is nie meer nuus nie. Sulke vraagtekens staan lynreg teenoor die wese van ons gereformeerde godsdiens. Dit geld ook vir skeptiese opmerkings oor die vraag of die Bybel vandag nog met gesag kan praat oor kwessies soos homoseksualisme, die monogame huwelik en die verhouding tussen man en vrou.

Dit lyk of die jong geslag 'n besondere teiken in die aanslag teen die gereformeerde geloof is. Oor die televisie word persepsies oor God gepropageer wat direk teen ons gereformeerde oortuigings indruis (vgl bv. die TV-animasiereeks Bob and God en die liedjie van Koos Kombuis en Stef Bos, "Ek is die duiwel - en ek is God", wat onlangs in die program Geraas gebeeldsend is.

Gelukkig is daar duidelike tekens dat baie gereformeerde jongmense hulle nie hierdeur laat meesleur nie, maar daarteen weerstand bied. Met genade van die Here sal hulle bly vashou aan wat hulle ontvang het. Sola Gratia.

Oor die algemeen word 'n klimaat geskep waarin elkeen wat aan die beginsels van God se Woord wil vashou, bereid moet wees om gebrandmerk te staan as negatief, fundamentalisties en onderdrukkend. Die versoeking is groot om maar blindweg met die stroom van verandering saam te dryf. Die nalatenskap van die reformasie lê egter die dure plig op ons om op te staan en te sê: "Hier staan ons, ons kan nie anders nie."

Reformasie in 2001

Om gereformeerd te wees, beteken natuurlik bereidheid om te bly reformeer. Maar dit doen ons deeglik bewus daarvan dat nie alle verandering reformasie is nie. Slegs as die verandering 'n naderbeweeg aan God se Woord is, kan dit reformasie genoem word. Verandering wat teen God se Woord ingaan, is nie refor-masie nie, maar deformasie. Dan het ons nie met hervorming te doen nie, maar met vervorming - misvorming. Die waarheid word vervorm, sodat die kerk van die Here uiteindelik 'n misvormde gestalte kry, wat nog die naam kerk het maar dit nie meer is nie.

Daarom dring die nalatenskap van die Reformasie ons om voortdurend te bid dat God ons die onderskeidingsvermoë sal gee sodat ons sal insien wat ware reformasie is en wat in werklikheid deformasie is. Ons mag ons immers nie laat ontsenu of van koers af laat bring deur diegene wat deformasie onder die vaandel van reformasie wil invoer nie. Ook mag ons nie so "behoudend" wees dat ons nie bereid is om die verandering wat reformasie van ons eis, enduit deur te voer nie.

In alles gaan dit nie om die eer of die wil van mense nie. Dit gaan immers om die wil van God - sola Scriptura. En uiteindelik gaan dit om sy eer - soli Deo gloria.