Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 Julie 2003
GESPREK MET DIE LESERS
REDAKSIONEEL
Onweerlegbaar seker as gevolg van die kerklike verwikkelinge in die Gereformeerde Kerke, ná vanjaar se Nasionale Sinode en belangrike besluite wat daar geneem is, wat betwis word, het ons blad 'n aantal intekenare bygekry wat ons hartlik verwelkom in ons leserskring. Ook ontvang ons meer as tevore positiewe kommentaar op die publikasie van ons Internet-webruimte.Ons is dankbaar dat die publikasie van ons blad veral in hierdie tyd van kerklike spanning en verwarring kan bydra aangaande inligting en kommunikasie oor die sake wat belangrik is om vas te staan in die geloof soos die Here dit aan ons geopenbaar het, soos dit in die belydenisskrifte uiteengesit asook kerkordelik bepaal is. Reaksie word ook ontvang van buite die GKSA kerkverband. Daar word waarderend ver-wys na die behoudendheid wat in ons blad gevind word.
Die brosjure van die Gereformeerde Kerk Pretoria-Die Kandelaar (bl 9) word sterk aanbeveel vir kennisname en vermeerdering/verspreiding, daar waar dit nodig is om agtergrondsinligting oor die sinodebesluite te verskaf en dit skriftuurlik/kerkordelik te beoordeel.
Ons sal graag verneem hoe die stand van sake by die verskillende gemeentes van ons lesers gesteld is. Kontak ons asseblief en vermeld die beson-derhede. Daar is verskeie gemeentes waarvan ons bewus is wat ook besware het teen die toepassing van die sinodebesluite aangaande die toelating van kelkies by die viering van die nagmaal, wat ook nie die 2001- (Cloete) omdigting sal aanvaar nie en wat volstrekt weier of nog twyfel oor die aanvaarding van vroue in die amp van diaken en nog te meer aangaande die leer- en regeerampte van predikant en ouderling. Solank ons geen bevestiging ontvang het nie, durf ons dit nie publiseer nie.
ADMINISTRATIEF
Hoewel ons huiwerig was om dit te besluit, is dit egter noodwendig dat vir die volgende jaargang die bydraes vir intekening verhoog moet word. Die vaste koste vir drukwerk, die verhoogde pryse vir aankope van papier, drukkersink ensovoorts, asook die posgelde, aankoop van koeverte, die bedryfskoste, telefoon, vervoer, instandhouding van rekenaarapparatuur en nog onvoorsiene uitgawes maak dit noodsaaklik om vanaf Januarie 2004 die bydraes te verhoog met 20 %. Dit beteken dat u versoek word om ons tegemoet te kom om die bydraes te verhoog na R120-00 vir die volgende jaargang. Ons sal graag wil voortgaan met publikasie van Die Kerkpad, maar ... "die koste gaan voor die baat uit!" Ons vertrou dat u dit so sal aanvaar.