Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
TENSY ....

AKTUEEL: Kommentaar op die hersiene godsdiensbeleid in skole.

SKRIFOORDENKING:
Deurgrond my, O God

Die "Sleutel van die kennis" (Lukas 11:52) en die Psalmomdigting 2001

Die Heilige Skrif: Foutloos of onfeilbaar?

Een woord wat 'n reusagtige verskil maak.

Totius - 50 jaar gelede heengegaan.

Begrafnisse en lykverbranding

Reformasie bring vervolging

KERKLIKE JOERNAAL: 
Die nuwe psalmboek op Hervormingsondag, feestelik in gebruik geneem

Klassis Waterberg ondersteun Gereformeerde Kerk Waterberg se "dolering"

Teologiese Skool Potchefstroom: Nuwe Rektor en Vise-rektor asook nuwe dagbestuur van kuratore

NGK - Draaipunt: Sosialisering

Cloete - omdigting berus op NAV 1983

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Die Pretoriase Akademie vir Christelike - Volkseie hoër onderwys.

Nuus oor PU vir CHO skokkend!

PU vir CHO laat demokrasie voor transformasie buig.

Universele gebed dalk voorskriftelik vir gebruik in skole.

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die vertekening van die Calvinisme

Dr A Kuyper oor die sosiale vraagstuk en die Christelike Godsdiens.

Doleansie en Toleransie

PERSRUBRIEK: 
RJW van der Kooi (Polemies)

Argument wat saak maak

Rekenaar-, Inligting- en Kommunikasie-tegnologie: Vriend of Vyand?

Die Internet: Boekrak vir die Christen.

KOMMENTAAR: Prof C Coetzee oor Sinodebesluite

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van vitalisme

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 4 Julie 2003

Hoofartikel

TENSY ...

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika verkeer tans in 'n krisis wat, as die Here dit nie verhoed nie, ernstige gevolge gaan hê. Die oorsaak daarvan is dat daar 'n geslag opgegroei het wat nie die beproefde ou paaie bewandel nie. Teologiese vernuwing en liturgiese veranderings is in baie kerke ingevoer terwyl die konsekwensies daarvan nie oorweeg is nie. Wat is die rede daarvan, wat en wie sit daaragter? 'n Nederlandse boek vermeld dit in die titel: "De theologen gingen voorop". Dit is 'n eenvoudige verhaal van die ontmanteling van die Gereformeerde kerke, geskryf deur Ds AM Lindeboom. Aan die ander kant is dit nog altyd, danksy Koning Jesus Christus en die trou van die eenvoudig gelowige lidmate van die kerke, dat die ware kerk van Hom steeds voortbestaan.

"Met al hun schone woorden, met al hun stout geschreeuw; Zij zullen ons niet hebben, de goden dezer eeuw. TENZIJ het woord des Zwijgers (Prins Willem van Oranje) moedwillig wordt verzaakt: 'k Heb met de H

"Met al hun schone woorden, met al hun stout geschreeuw; Zij zullen ons niet hebben, de goden dezer eeuw. TENZIJ het woord des Zwijgers (Prins Willem van Oranje) moedwillig wordt verzaakt: 'k Heb met de HEER der Heren een vast verbond gemaakt." So dig die skrywer van "Bezwaren tegen de geest der Eeuw" in 1823, Isaac da Costa. Hierdie werk van hom was 'n ontleding en weerlegging van die beginsels van die Franse Rewolusie en gerig teen die ondermyners van die Skrifgesag. Dit was in die tyd dat die getroue kerklidmate in Nederland onderwerp was aan 'n liberale kerk- en landsregering. Net soos vandag in ons land was ook daar bekommernis en onsekerheid met die oog op die toekoms. Vir hulle het dit nie slegs oor die materiële nie, maar veral ook gegaan oor die geestelike verval wat plaasgevind het. Hulle is in die geloof versterk met onder andere hierdie woorde van Da Costa: dat die gode (maghebbers en leiers) van hierdie eeu ons nie sal hê (kry) nie, egter onder hierdie voorwaarde, naamlik as vasgestaan word by die geloof en die trou van die vaders van die Reformasie en dit nie vergeet en versaak word nie. Daarom TENSY. Tensy die woord van Willem van Oranje: 'k Het met die "Heer der heren" 'n vaste verbond gemaak; dat dit nie vergeet word nie en steeds in ere gehou word. Dit geld ook vir ons land se geskiedenis en ten opsigte van die gelowiges in die voorgeslag wat in gedagtenis gehou moet word. Dit geld ook vir die omstandighede van vandag in ons land.

Oor kerklike en wêreldlike regerings oefen die Satan 'n geweldige invloed uit deur te laat afwyk van die skriftuurlike eise en gebooie wat vasgelê is in die belydenisskrifte en kerkorde. As gevolg daarvan slaag die Satan daarin om twyfel te saai in die harte van gelowiges. In die staat geskied dit deur middel van wetgewing en uitoefening van mag volgens die beginsels van die rewolusie waarby die mens op die troon van God gestel word. Daar word nie gevra hoe wil God hê dat die land geregeer moet word nie, maar uitsluitend gelet op die sekulêre belange van die "demokraties" verkose meerderheid, verteenwoordig deur 'n regering wat nie die HEER van alle here dien nie.

In die kerke (algemeen) word nie die tug bedien en gehandhaaf oor teoloë wat voorop loop om leerafwykings te verkondig, onder andere dat Jesus Christus nie die waaragtige Seun van God is nie. Daar is teoloë wat voorloop met die strewe na 'n sinkretistiese eenheid van alle godsdienste om eenheid en wêreldwye broederskap te bewerkstellig. "Almal aanbid en bely mos dieselfde God?" Dit is op hierdie vlak waar sogenaamde kerkleiers en wêreldlike leiers elkaar ontmoet en saamwerk. Dit is wat Isaac da Costa in sy dae in Nederland waargeneem het en wat óns nou waarneem in die "nuwe Suid-Afrika" van vandag. Wat en wie sit daaragter, agter dié hemeltergende verval van kerk en staat?

Daar waar Christus sy kerk bou, dáár is Satan aktief besig om dit af te breek en die gelowiges te verwar. Kom, laat ons konkreet die omstandighede van vandag beskou en ontleed.

Die kerkverbande van die Afrikaanse Kerke word beïnvloed deur die tydsgees wat verlang dat daar nie meer gevra word na die norme, die wette en beginsels wat Gods Woord aan ons openbaar nie. Daaroor word gedisputeer, dit word geïnterpreteer, aan die menslike rede onderwerp en op dié wyse van sy gesag beroof. Dit is die wyse waarop Satan in die gedaante van 'n slang Adam en Eva in die Paradys (Gen 3) verlei het. Hy het die verbondseis van God op sy wyse geïnterpreteer om sy doel te bereik, om die mens afvallig van God te maak. Die vrou, Eva, het eerste daarvoor geswig en daarna die man, Adam, in haar val meegesleur.

Wat vandag gebeur moet nie gerelativeer word nie, maar in sy werklike gedaante en perspektief gestel word. Die Bybel is nie, soos beweer word, verouderd en aan die destydse Oosterse kultuur gebind nie. Dit is nie maar 'n boek met, o ja, nuttige voorskrifte vir 'n voorbeeldige lewe nie. Dit is die BOEK VAN DIE VERBOND. Die Boek van die Verbond van die HERE met sy volk, die Kerk van alle eeue en met die kinders wat Hom in waarheid en in onbetwyfelde geloof aanbid en dien. Vir die staat en openbare samelewing van vandag dra hierdie Woord geen gesag meer nie en in die kerke word dié gesag ondermyn deur Skrifkritiek wat op ontstellende wyse hoogty vier, soos deur Isaac da Costa in sy tyd raak gesien en geopponeer. Hierdie Skrifkritiek het verskillende gedaantes. Dit kom openlik met die betwyfeling van Jesus Christus se Goddelike eienskappe in sy liggaamlike vergestalting op aarde. Dit kom op "kousevoete" deur middel van Bybelverklarings wat deur gereformeerde teoloë met die medewerking van hulle fakulteite op die kerkvolk afgelaai word. Die noodwendige gevolg daarvan is 'n veranderde beskouing en toepassing van Bybelse beginsels en die voortspruitende etiek, asook die orde en reëls vir die persoonlike bestaan en die kerklike en maatskaplike samelewing.

Helaas is daar geen eenheid in die praktyk tussen die Afrikaanse kerke, gegrond op die Reformasie van die sestiende eeu, nie. Daar het op verskeie wyses skeiding van die weë ontstaan. Geskilpunte: (1) Grondliggend die toepassing van die orde in die kerk. Die sogenaamde "enkel Gereformeerdes" het weer gaan vasstaan by die kerkorde van Dordt, waar die NG en NH Kerke dié ou pad verlaat het en in navolging van Nederland hulle aan liberale reëls en wette onderwerp het. (2) Die aanvaarding van 'n Gesangebundel in die kerk naas die Beryming van die 150 Psalms, terwyl vanuit Nederland daarteen gewaarsku is en van die "Doppers" dié besware sterk ondersteun het. (3) Die onwilligheid om die kerklike tug te bedien oor predikante se afwykings in hul leer en kerkregering (4) Politieke oorheersing van die kerk deur liberale bewindvoerders om die kerk te sekulariseer.

Is dit nie dieselfde as wat ons tans in die Gereformeerde Kerke ervaar nie? En word die gevolge daarvan nie ook al hoe meer ervaar binne die nog behoudende geledere van die NG en NH Kerke nie? En vind as gevolg daarvan tans nie ook 'n skiftingsproses plaas binne die AP Kerke nie? Word dit nie tyd om te herbesin oor wat in die verlede tot die uiteengaan van mekaar gelei het nie? Hoe en waar staan ons, as behoudendes uit die verskillende Afrikaanse kerke, ten opsigte van mekaar? Herken ons die TENSY soos hierbo gemotiveer en weet ons van die TENSY van artikel 31 van die Dordtse kerkorde wat in die Gereformeerde Kerke nog van toepassing is? "Wat op 'n kerklike vergadering met meerderheid van stemme besluit is, moet as vas en bindend beskou word, TENSY bewys word dat dit in stryd is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde." Ware Gereformeerde kerke erken geen pouslike gesag of hiërargie in hulle midde nie. Waarheen is ons dan nou op pad?