Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 Julie 2003
KERKLIKE JOERNAALDIE NUWE PSALMBOEK OP HERVORMINGSONDAG, FEESTELIK IN GEBRUIK GENEEM Die Kerkblad van Junie 2003 (bl 48) berig oor die bekendstellingsgeleenthede van die nuwe Psalmboek, dat dit op Pinkstersondag, 8 Junie, in elf streke gereël is. Die Deputate vir Liturgiese Sake het daarvoor 'n klein keurbundel van 22 Psalms en Skrifberymings saamgestel sodat gemeentes intussen van die nuwe omdigtings met bekende (en sommige nuwe) wysies kon leer ken het.Die sentrale fees vind plaas op Hervormingsondag, 26 Oktober vanjaar. Vir diegene wat dit nie kan bywoon nie, word streekfeeste deur skakelpersone op of rondom dieselfde datum gereël.
Dit is duidelik dat dit, net soos tevore in die NG en NH Kerke, moet dien om die bemarking van die produk te bevorder.
Helaas word geen rekening gehou met die besware wat binne die verband van kerke gestel is en teen die omdigting as sodanig gehandhaaf word nie. 'n Meer sobere geleentheid sou beter van pas gewees het om die hartseer gevoelens van die beswaardes in ag te neem.
'n Sentrale fees in die Stadsaal van Pretoria, onder leiding van di Johannes Bingle en Ben Fourie, word as hoogtepunt vermeld.
Die berig vermeld voorts dat die nuwe Psalmboek naas die 1936-beryming en die 2001-omdigting ook nuwe goedgekeurde Skrifberymings plus die Belydenisskrifte, Formuliere en Gebede sal bevat. Dit is in omvang so groot soos die "Liedboek" van die NG en NH Kerke. Beide die 1936-beryming en die 2001-omdigting word in dié een bundel opgeneem. Dus kan uit albei gesing word.
Die standaarduitgawe sal ongeveer R89-00 kos. Die luukse uitgawe word op R150-00 gestel.
Die uitgewer wil teen die helfte van September die Psalmboek (en die Begeleiersboek) by die Administratiewe Buro aflewer. Dan kan verspreiding daarvan na die kerke onmiddellik begin.
Terwyl daar legio besware teen die invoering van die Cloete-beryming onafgehandel is, rys die vraag of die besluit oor die aanvaarding vir kerklike gebruik hierna nog ooit herroep kan word?