Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 Julie 2003
KERKLIKE JOERNAALKLASSIS WATERBERG ONDERSTEUNGEREFORMEERDE KERK WATERBERG SE "DOLERING"
- Onderstaande uit die Nuusbrief van Die Gereformeerde Kerk Waterberg (dolerend),Sondag 8 Junie -
Die afgelope Dinsdag het Klassis Waterberg met sy voortgesette sitting sy werksaamhede afgehandel wat reeds op 22 April 2003 begin het. Beide ons beswaarskrifte het by die klassis geslaag.* Die beswaarskrif oor die vrou in die amp as diaken het op twee kerkregtelike gronde geslaag, naamlik: Die Sinode het met bogenoemde besluit in stryd met artt 46 en 31 KO opgetree.
Nou word dit 'n saak van die Klassis wat gaan dien op die eerskomende Partikuliere Sinode Bosveld. Die kerkraad kan nog oorweeg om met 'n aparte beswaarskrif met inhoudelike besware na die Partikuliere Bosveld te gaan.
* Die beswaarskrif oor die 2001-Psalmomdigtings het geslaag op vier gronde wat insluit: kerkregtelike, leerstellige en inhoudelike besware. Die Sinode het art 31 KO in bogenoemde besluit verontagsaam. Die Sinode het in bogenoemde besluit die "Sleutel van die kennis" uit die Psalms gehaal en dit is strydig met art 7 NGB. Die Sinode se besluit bring art 29 NGB in gedrang. Ook hierdie beswaar word nou deur die Klassis verder geneem.
* Dit beteken dat die Klassis vir Gereformeerde Kerk Waterberg gelyk gee ten opsigte van sy gronde vir dolering. Ons doleansie word juis begrond deur die twee spesifieke besluite wat die toets van die Skrif nie kan slaag nie, maar wat tans met haas en selfs met groot reklame by baie kerke ingevoer word.
Ons sê dit is nie tot eer van die HERE nie en dien ook nie tot stigting van die kerke in die kerkverband nie.
Die Klassis het ook deputate benoem wat 'n studie moet doen of hierdie omstandighede binne die kerke 'n spesiale Sinode, volgens art 50 KO, regverdig. Dié deputate moet die klassis in September 2003 hieroor adviseer. Ds Sarel Cilliers en oudl Hendrik van der Wateren is onder andere tot dié deputate benoem.
Die korresponderende Kerkraad van die betrokke klassis, is Die Gereformeerde Kerk Warmbad, wat die volledige besluite sal kan voorsien.