Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 Julie 2003
KERKLIKE JOERNAALNGK-DRAAIPUNTSOSIALISERING VAN DIE NG KERK
BERIG OP VOORBLAD VAN DIE KERKBODE, 13 JUNIE 2003
J Oosthuizen berig in bovermelde uitgawe van Die Kerkbode dat die NG Kerk besig is om sy vere reg te skud vir die toekoms wat deur sommige kerkleiers as 'n draaipunt of oomblik van waarheid vir dié kerk en sy lidmate bestempel word.Dit vorm alles deel van 'n omvattende proses waarin die NG Kerk homself wil herposisioneer en omskakel van 'n kerk wie se sinodes hoofsaaklik verslag gedrewe was, tot 'n kerk wat met die oog op die toekoms visionêr wil dink.Die voorsitter van die visionêre span wat deur die Algemene Sinodale Kommissie aangewys is, dr Nelus Niemandt, sê dit kan as 'n draaipunt vir die NG Kerk beskou word. Dit het sy oorsprong in die roepingsverklaring wat tydens verlede jaar se Algemene Sinode in Pretoria aanvaar is. Daarin verbind die kerk hom opnuut aan God en tot Afrika en in die besonder Suider-Afrika. Die NG Kerk het hom ook verbind tot groter eenheid met ander kerke en het gemeentes opgeroep om betrokke te raak by wat genoem is die genesing van die land.
Dr Niemandt sê daar bestaan groot entoesiasme by die lede van die taakspan wat na die kerk se toekomsrol moet kyk. "Ons sien dit as die begin van 'n nuwe verhaal wat vir die kerk geskryf word en die geboorte van 'n droom. As die kerk 'n boodskap vir die land het en dink hy (sy) kan 'n verskil maak, moet hy ook die strukture en diegene wat in leierskapsposisies betrokke is, dienooreenkomstig bemagtig". Hy sê die kerk se leierskap moet in staat gestel word om beter te kommunikeer en aan die openbare debat deel te neem.
Daar sal binnekort 'n proses aan die gang gesit word om indringende gesprekke te voer met al die verskillende rolspelers in die kerk met die oog op herstrukturering sodat daar in die toekoms meer prakties en visionêr opgetree kan word. Volgens dr Niemandt sal sinodesittings in die toekoms aansienlikanders lyk as voorheen. Die kerk wil onder meer organisatoriese sisteme daarstel sodat sinodebesluite baie gouer deurgevoer kan word.
Die geweldige transformasieproses wat reeds by die meeste streeksinodes plaasgevind het, het volgens dr Niemandt groot vrugte afgewerp.
Die visionêre taakspan se eerste verslag is deur die Algemene Sinodale Kommissie bespreek, wat saamgestem het dat die NG Kerk hom nou in alle opsigte op die toekoms moet rig. Dr Niemandt sê hy het geen twyfel dat dit 'n bepalende draaipunt is vir die manier waarop die NG Kerk in die toekoms sal funksioneer nie.
'n Verdere stap in die rigting van die sosialisering van die NG Kerk (Red - PvdK)