Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
TENSY ....

AKTUEEL: Kommentaar op die hersiene godsdiensbeleid in skole.

SKRIFOORDENKING:
Deurgrond my, O God

Die "Sleutel van die kennis" (Lukas 11:52) en die Psalmomdigting 2001

Die Heilige Skrif: Foutloos of onfeilbaar?

Een woord wat 'n reusagtige verskil maak.

Totius - 50 jaar gelede heengegaan.

Begrafnisse en lykverbranding

Reformasie bring vervolging

KERKLIKE JOERNAAL: 
Die nuwe psalmboek op Hervormingsondag, feestelik in gebruik geneem

Klassis Waterberg ondersteun Gereformeerde Kerk Waterberg se "dolering"

Teologiese Skool Potchefstroom: Nuwe Rektor en Vise-rektor asook nuwe dagbestuur van kuratore

NGK - Draaipunt: Sosialisering

Cloete - omdigting berus op NAV 1983

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Die Pretoriase Akademie vir Christelike - Volkseie hoër onderwys.

Nuus oor PU vir CHO skokkend!

PU vir CHO laat demokrasie voor transformasie buig.

Universele gebed dalk voorskriftelik vir gebruik in skole.

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die vertekening van die Calvinisme

Dr A Kuyper oor die sosiale vraagstuk en die Christelike Godsdiens.

Doleansie en Toleransie

PERSRUBRIEK: 
RJW van der Kooi (Polemies)

Argument wat saak maak

Rekenaar-, Inligting- en Kommunikasie-tegnologie: Vriend of Vyand?

Die Internet: Boekrak vir die Christen.

KOMMENTAAR: Prof C Coetzee oor Sinodebesluite

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van vitalisme

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 4 Julie 2003

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY

DIE VERTEKENING VAN DIE CALVINISME

-  PROF AD PONT.  IN: DIE KERKBLAD, 7 OKTOBER 1998, BL 20-21  -

In een van sy kommentare sê Calvyn - nogal terloops - "Niks moet meer gevrees word as dat die Here die lig van die suiwer leer sal uitdoof en toelaat dat ons in die donker verdwaal nie."

Dit is 'n waarskuwing wat nie verontagsaam behoort te word nie, veral as ons bemerk dat "die lig van die suiwer leer" al minder waardeer en gesien word. As verstaan word dat vir Calvyn "die suiwer leer" gelykluidend is met "die ware evangelie van Jesus Christus", dan is sy waarskuwing nie sommer maar net 'n woord wat verbygegaan kan word nie.

Die omwenteling van 1994

Dit hang dan saam met die feit dat die landsburgers van Suid-Afrika in 1994 gewillig en selfs met oorgawe die bestaande, min of meer Christelike, lewensorde van Suid-Afrika verruil het vir 'n nie-Christelike, sosialistiese lewensorde. Of om dit so te sê: in die plek van God se Tien Gebooie as die basisstruktuur van die gemeenskap is gekies om liewer gehoorsaam te wees aan 'n humanistiese Akte van Menseregte.

Om daardie keuse te regverdig en die verwerping van die gehoorsaamheid aan God te verklaar, is dit vandag die mode om die verlede te beskuldig.

Verontskuldiging beteken dat die skuld willekeurig elders geplaas moet word. So het die beleid van "apartheid" 'n soort openbare sondebok geword. Terselfdertyd word "die Calvinisme" voorgehou as die oorsprong van apartheid en word gesuggereer dat dit saam met "apartheid" geban moet word.

Die vertekening van die Calvinisme

Onder die bekoring van die oorheersende, humanistiese ideologieë van ons tyd geld dit byna as 'n aksioma dat in die kerk en in die samelewing geen ander werklikheid meer bo of buite hierdie aardse, ondermaanse werklikhheid aanvaar word nie.

Daarom word geoordeel dat so iets soos God nie regtig fisies kan bestaan nie, omdat dit nie "wetenskaplik" vasstelbaar is nie. Slegs daardie verskynsels wat vir die mens verstaan- en verklaarbaar is, het 'n bestaansreg, so word al meer geoordeel.

Vandaar dat daar 'n ernstige beweging aan die teologiese opleidingsentra is om 'n sogenaamde "teologie-van-onder-af" of selfs 'n "demokratiese, nie-gesagsteologie" te ontwerp waar die mens die uitgangs-punt en die maat van denke sal wees. Dit is in die dampkring van hierdie denke waar die Bybel as Woord van God bevraagteken word, die belydenisskrifte van die kerke as "ouderwetse formulerings" verbygegaan word en alles gekeur word deur die rasionalistiese denke van die mens.

In ander kringe word baie aandag gegee aan 'n soektog na "die historiese Jesus" waar veral die geskiedenis se arm gedraai word om te sê dat dit 'n vergissing was dat Jesus van Nasaret verstaan en geglo is as die werklike Seun van God.

Diegene in ons kerke, in die kultuur en openbare lewe wat die oorgawe van 1994 moontlik gemaak het, handhaaf die druk om die hele samelewing te transformeer. In daardie denkklimaat is die Calvinistiese teologie

'n Lastige struikelblok en wil dit lyk asof allerlei mens-sentriese denkpatrone gebruik word om die Calvinisme, die grondliggende teologie van ons kerklike belydenisskrifte, uit die pad te probeer stoot.

Die waarde van die Calvinisme

Die vertekening van die Calvinisme wat ons in ons gemeenskap sien, dui op 'n behoefte van sommige onder ons om hulle te distansieer van die sekerhede waarop die vadere gebou het. Dit is nogal kenmerkend van die post-Christelike heidendom wat in Europa die geestelike ankers van die Christelike beskawing losgekap het en nou die heil van die mensdom verwag van 'n toenemende ekonomiese groeikoers of die beperking van die geldvoorraad.

Gedurende Oktober elke jaar, wanneer die Kerkhervorming van die sestiende eeu herdenk word, is dit belangrik om die teologie van Calvyn weer in sy samehang te verstaan. Nie alleen is dit 'n uitnemende vertolking van die teologie van Paulus nie, maar dit sluit ook aan by die duidelike, Bybelse elemente van die teologie van die kerkvader Augustinus. Daarom gaan dit in die Calvinistiese teologie so duidelik oor die sonde, die verlossing van die mens uit die sonde, oor die Verlosser en ten derde oor die dankbaarheid wat die gelowige aan God verskuldig is.

Die kernboodskap van hierdie teologie is tog die evangelie van die regverdigmaking van die sondaar deur die geloof alleen. Dit is die hart van die Calvinistiese teologie: die saak van die verhouding van die lewende God met die sondaarmens, dit gaan oor sonde en genade, verlossing en dankbaarheid.

Calvyn self stel dit so: "Dié geestelike insig is veral in drie dinge geleë: die kennis van God, sy vaderlike guns teenoor ons waarop ons saligheid berus, en ten laaste die manier waarop ons ons lewe na die reël van sy Wet moet inrig" (Inst II.2.18). Dié waarheid is deesdae in ons kerke en samelewing 'n lastigheid omdat die ideaal van die humanistiese ideologieë is om eerder die mens as die oorsprong, maat en doel van alles te sien.

Ons is byna terug in die klimaat van die Romeinse Ryk. Toe is die gelowiges gekonfronteer deur die vraag of hulle saam met die landsburgers die knie sal buig voor die goddelike kurios, die keiser, en of hulle slegs die knie sou buig voor die Kurios, die Here Jesus Christus. Toe, soos nou weer, staan die mens wat homself as god beskou teenoor God wat ter wille van ons verlossing mens geword het.

Die irriterende natuurlik, vir die mens van alle tye, is dat in hierdie saak daar nie werklik 'n keuse te maak is nie. Die sondaar kan slegs die sonde kies. Alleen as die lewende God Hom oor die mens ontferm en hom die geloof skenk, kan die mens, tot sy verlossing, in die Drieënige God glo. Hier geld die basiese stelling: dit is genade om genade te ontvang.

Nou lê die groot waarde van die Calvinisme daarin dat dit op so 'n besondere helder manier die basiese grondlyne van God se goeie boodskap aan ons mense onder woorde bring.

Miskien daarom dat die humanistiese ideologieë alles in die stryd werp om die Calvinisme en sy boodskap skeef te trek. Immers, waar die evangelie die duidelikste onder woorde gebring word, daar sal die magte van die duisternis sy aanvalle konsentreer. Daarom waarsku Calvyn ons as hy sê: "Wanneer ons onsself die vryheid gee om God op hierdie of daardie manier, volgens ons insigte, te dien, dan skep ons afgode vir onsself ..."

Die teologie van Johannes Calvyn geld nou al vir meer as vierhonderd jaar as 'n betroubare vertolking van die evangelie van God se groot genade. Miskien, as ons dit oorweeg en opnuut besef wat dit beteken, kan ons ook nadink oor Calvyn se woorde: "Dit is beter om met geslote oë God as gids te hê as om op ons eie insigte te vertrou en te verdwaal."