Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 Julie 2003
KERK, STAAT EN MAATSKAPPY DR A KUYPER OOR DIE SOSIALE VRAAGSTUK EN DIE CHRISTELIKE GODSDIENSDit is stellig soos 'n skrywer dit so pragtig uitdruk: Die daaglikse brood staan nooit op sigself nie; ook nie in die Onse-Vader-gebed nie; dit staan omring deur baie rykdomme van die koninkryk; maar dit staan tog daar, in volle waarde, op God gerig, van Hom afhanklik en gestel onder sy heilige reg. 'n Mens sou die ganse Christelike geloof in sy kern aantas wanneer jy die daaglikse brood hier sou uitlig. Wat God belangrik ag, mag ons sekerlik nie misken nie.
Laat my dit eenvoudig stel: Brood is vir God belangrik omdat die mens wat Hy gemaak het en liefhet, daarvan afhanklik is vir sy lewe.
Dr A Kuyper het reeds in 1891 in 'n rede oor "Het Sociale Vraagstuk en de Christelijke Religie" die volgende sterk taal gebesig: "Dit verraai geestesarmoede wanneer die kerk van Christus die lewensvrae van die dag nie onder die oë durf sien nie." Daarmee het hy natuurlik allermins bedoel dat van die kerk 'n blote maatskaplike organisasie gemaak moet word. Die bedoeling is dat die kerk sy oog wyd oop moet hou vir die evangelie wat enersyds nie oor stoflike nood heenloop asof dit nie deel van die evangelie is nie, en andersyds ook weer nie die brood tot hoofinhoud van Gods boodskap of die menslike strewe maak nie.
Die politiek wat die Sosialisme en die Kommunisme van brood en stoflike goedere gemaak het, is nie 'n verset teen blote oorgeestelikheid nie, maar teen die plek wat die stoflike in die Godsplan of die koninkryk inneem. Ons kan dit so stel: Hulle het die daaglikse brood losgemaak uit die Onse-Vader-gebed en losgeruk uit sy verband met die koninkryk en met God self.
Die verskil is dit: Vir die Christengelowige is brood egte brood. Hy kou nie iets geesteliks nie. Maar hy geniet dit as 'n gawe uit die hand van God - 'n gawe wat nie geskei kan word van die seëninge van vergifnis, vernuwing en vertroosting nie. Vir die broodpolitici is brood ook wel brood, maar dan só dat die Christelike godsdiens hoogstens geduld word en die seëninge van die evangelie as iets vir persoonlike smaak beskou word wat dan nie in die politiek geduld word nie.
Ons reaksie op laasgenoemde benadering is nie die vergeesteliking van stoflike dinge wat vir ons liggaam nodig is nie.
Ook nie dié soort vergeesteliking waar mense in tydelike nood slegs met die belofte van die hiernamaals getroos word nie; nie met minagting vir dié dinge waarvoor mense hulle afsloof om liggaamlik aan die lewe te bly nie, maar deur die stoflike dinge, in hul wesenlike waarde, in verband te sien met die hele werklikheid en die volle heil van God vir die mens.
Daarom kon bogenoemde skrywer oor die verhouding tussen die Christelike godsdiens en die sosiale node die volgende sê: "As daar vir ons felbewoë maatskappy nog redding moet daag, dan moet aan ons eeu wat op die punt staan om te sterwe, die Christus as sy Heiland verskyn." En hy voeg die bede daaraan toe dat, "al mag die redding uitbly en al moet die stroom van die ongeregtigheid nog hoër opstoot, dit nooit van Nederland se Christene gesê sal kan word dat deur ons skuld, dat deur die louheid van ons Christelike geloof in hoëre of laere stande, die redding van ons maatskappy verhinder is en die seën van God verbeur is nie."
Wat hieraan ten grondslag lê, is dat die evangelie nie die mens in twee splits nie. Nie in 'n wesenlik-geestelike en toevallig-stoflike deel nie; en ook nie in 'n wesenlik-stoflike en toevallig-geestelike deel nie. Hy is gees èn liggaam. Nie net liggaam nie. Maar ook nie so geestelik dat sy stoflike belange suiwer vergeestelik moet word nie.
DR AP TREURNICHT, In: "Waar die Soeklig val" bl 88,89