Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 Julie 2003
KERK, STAAT EN MAATSKAPPYDOLEANSIE EN TOLERANSIE
Polemiese beantwoording aan die Redakteur Die Kerkblad
- KERKRAAD GEREFORMEERDE KERK WATERBERG (DOLEREND) - DS SAREL CILLIERS -
Antwoorde op vrae, met n duidelike vraagteken. Hoekom dan die vraagteken? Ons verwys na die redaksionele artikel in Die Kerkblad van Mei 2003 waarin die redakteur sekere vrae aan Gereformeerde Kerk Waterberg (Dolerend) [GKW(d)] vra.Ons waardeer die standpunt van die redakteur vir verantwoordelike en voortdurende gesprek om onderlinge vertroue te probeer bou. Dit word egter moeilik as dit blyk dat sekere vrae n gerieflike sambreel bied waaronder sekere stellings en vrae bogenoemde standpunt nie dien nie. Daarby sal mens die versekering wil hê of daar voldoende geleentheid en ruimte gegee sal word om betyds en spesifiek te kan reageer op vrae en stellings wat in Die Kerkblad oor GKW(d) se doleansie geplaas word. Die tydsverloop sedert Prof Dries du Plooy se kritiek teen die doleansie en die plasing van GKW(d) se spesifieke verweer dien byvoorbeeld nie die saak nie.
Ons wil egter graag die vrae eerlik en so kort moontlik antwoord en waar nodig ons diepe kommer uitspreek oor die manier van vraagstelling en daarom antwoorde met n vraagteken.
VRAAG EEN
"Is die saak waaroor dit gaan, belangrik genoeg om te doleer?" - aldus prof Van Wyk. Hy vra verder:
* Of daar iemand in die GKSA is wat enige fundamentele geloofswaarhede openlik verwerp?
* Of die verskillende Skrifverklarings in die GKSA wel tot n kritiese Skrifbeskouing lei?
* In hoe n mate die kultuurhistoriese konteks in die Skrif in berekening gebring moet word?
* Watter implikasie hou die versoeningswerk van Jesus Christus vir kerk en samelewing in?
GKW(d) het die redes vir sy dolering duidelik probeer uitspel (Die Kerkblad, April 2003). Dit is gesetel binne twee besluite van Sinode 2003.
T.o.v. die 2001-Psalmomdigting is aangetoon dat die "sleutel van die kennis" (vgl. Luk 11:52) doelbewus uit die omdigtings uitgehaal is. Baie is blykbaar daarmee tevrede dat Hy wat die SLEUTEL moet wees van die Psalms, maar gedegradeer kan word na onderstaande voetnotas. Wie die "sleutel van die kennis" aantas, tas die Waarheid aan en is dan besig met n dwaling. Of hierdie Psalms voetnotas het of nie, is dit duidelik dat die fundamentele waarheid, naamlik Christus die sleutel van die waarheid, doelbewus uit die inhoud van die Psalmomdigtings uitgehaal of verwerp is. (vgl. Rapport van 4 Nov. 2001 waarin T.T. Cloete self verklaar dat hy die "Messiaanse verwysings in sekere psalms . op grond van nuwe navorsing verwyder het.")
Die groot rede met die stigting van die GKSA in 1859 was juis dat hierdie dwaling met die gesange die kerk sou insluip. In 2003 kom dieselfde dwaling die kerk binne met die kosbare Psalms. Is dit genoegsame rede vir dolering?
Ds Danie Haasbroek, n leraar van die N.G. Kerk, skryf as slotaanbevelings van sy studie: "Ons neem kennis van die feit dat die beryming van Psalms in die Liedboek onhoudbare teologiese afwykings bevat deurdat geen psalm as direk-Messiaans berym is nie, en deurdat die Godheid van Jesus Christus wegberym is. Ons aanvaar die feit dat ons die eer van God hoër moet ag as die eer van mense en dat die beryming van die Messianse psalms soos in die Liedboek vervat, dus reggestel moet word" (Is Jesus In Psalms?, 2003, bl. 36)
Dit is n vreugde om te hoor hoe Jesus, die Messias-Koning, deur Dawid in die Psalms besing word. Ds Haasbroek sê dit is iets om oor opgewonde te raak. Nou moet kerke, medebroeders en susters, psalms sing wat hierdie vreugde gaan mis, omdat hulle alleen sal kan sing van aardse konings.
Nou word oraloor gesê: Julle mag nie treur (doleer) nie, want die saak is nog nie so ernstig nie, daar is nie genoegsame redes nie, maar intussen word die onterende psalms in baie kerke gesing. Terselfdertyd word honderde duisende rande vir nuwe Psalmboeke spandeer.
T.o.v. die vrou in die amp van diaken kom die hele saak van die verskillende Skrifverklarings, -beskouings en hanterings aan die orde.
Met die gramaties-historiese eksegese neem mens die Skrif as die begin en eindpunt van sy studie en beweeg hy van die onduidelike tekste soos Rom. 16:1 en 2 na meer duide-like tekste soos Hd. 6:3 en 1 Tim. 3: 8-12. Daarby word die saak ook getoets binne die hele openbaringsinhoud van die Skrif, soos onder andere: die skeppingsordinansie tussen man en vrou, nog voor die sondeval; asook die plek van die huwelik en gesin binne die Nuwe Testamentiese Kerk. Hierdie Skrifhantering skep geen verwarring nie, maar bied duidelike antwoorde veral op belangrike sake soos die plek van die vrou in die kerk en wie bevestig kan word in die besondere ampte binne die kerk.
Die sosiologies-historiese eksegese raak verstrik in onduidelike tekste waarby buite-Bybelse gegewens die finale verklaringsgrond vir die Skrif word. Dan gebeur dit dat wat vroeër met sekere gegewens verkeerd was, nou met andere gegewens skielik reg is. Dit skep verwarring omdat dit inderdaad lei tot n Skrifkritiese beskouing wat die absolute gesag van die Skrif aantas (vgl art. 5 N.G.B). Is dit genoegsame rede vir dolering?
Intussen word verneem hoedat hierdie besluite nie net n strydpunt is binne die GKSA nie, maar dat dit binne plaas-like gemeentes die eenheid van die kerk aantas. Die Skrif is juis vir ons gegee om verwarring op te klaar (vgl. Art 7 N.G.B "Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie") Daarom heers daar die versugting:
Hoekom kon die Sinode nie duidelike besluite neem nie? Hoekom moes besluite afgewentel word na kerkrade wat heeltemal verskillend daaroor handel?
Die kultuurhistoriese konteks is wel van waarde waar dit middelmatige sake soos kleredrag raak (Institusie van Calvyn, vertaling Simpson 1988, boek 3, p. 1072), maar dit mag nooit so oorgeaksentueer word dat dit verwarring saai, bots met die volle Skrifopenbaring en die Skrifgesag aantas nie.
Christus se versoeningswerk se duidelikste implikasie vir ons lewe op aarde is dat Christus alleen nou ons Koning is, aan Wie die kerk uit liefde diensbaar wil wees (vgl 1 Joh 5:3). Die kerk is dus nie bereid om te buig voor n nuwe tydsgees nie, maar wil net in alles ootmoedig buig voor sy Woord.
Kerke wat soos GKW(d) bogenoemde besluite verwerp, het dus genoegsame rede om ook amptelik te treur (doleer) oor die huidige stand van sake binne die GKSA.
VRAAG TWEE
"Is bestaande kerkregtelike kanale (beswaarskrifte, appélle) behoorlik benut en uitgeput?" Prof Van Wyk vra ook of die doleansie op hierdie stadium nie voortydig is nie.
Ons het in ons aanvanklike artikel (Gereformeerde Kerk Waterberg (Dolerend) waarheen?, Die Kerkblad, April 2003) juis twee sake duidelik probeer stel wat bogenoemde vraag moes beantwoord.
Eerstens is gemeld dat die bestaande kerkregtelike weë reeds betree is.
Tans kan met groot dankbaarheid gemeld word dat die beswaarskrifte van GKW(d) teen beide besluite reeds by die Klassis geslaag het en dat dit nou die pad na die Partikuliere Sinode sal loop en daarna na die eersvolgende Sinode.
Tweedens is gemeld dat die onrus wat die besluite veroorsaak het, inderdaad n onhoudbare situasie binne die GKSA geskep het. As n damwal breek, kan daar tog nie eers n vergadering gehou word om die krag van die vloed te bespreek en besluite te neem nie.
Fotos en artikels in Die Kerkblad en Die Vroueblad, asook haastige sangbyeenkomste, in enkele gevalle in die plek van n erediens, om die nuwe psalms ingebruik te neem, toon die haas waarmee kerke die besluite uitvoer. Ons vra nou: Moet die gesag van Christus nou buig voor die gesag van n meerderheid? Moet Christus nou eers vir drie jaar swyg voordat kerke tot orde geroep kan word?
Terwyl baie kritiek teen Waterberg se doleansie uitgespreek word, kan ons getuies inroep wat kan bevestig hoedat enkele predikante en professore met duidelike uitsprake, onbeskaamd stemming maak vir n aanslag om die vrou by die volgende Sinode ook in die ander twee ampte te kry.
Is die doleansie dan nog voortydig? Huil kom baie keer ook te laat!
VRAAG DRIE
Kan n daad van doleansie Skriftuurlik verantwoord word? Prof Van Wyk stel dan dat n beroep op kerkgeskiedenis, buite die Skrif om, n Rooms-Katolieke praktyk is, waarmee ons heelhartig saamstem. Hy verwys ook na die gemeente in Korinthe en na die sewe gemeentes in Klein Asië en meld dat daar geen doleansie was nie.
GKW(d) het met sy doleansie wel na die doleansie in Nederland verwys, maar nooit daarop aanspraak gemaak dat dit identies dieselfde situasie is nie. Ons het deurgaans, oor die gronde vir dolering, ons uit die Skrif en die Belydenis verantwoord.
Daarby ag GKW(d) hom nie beter of hoër as enige ander kerk binne die GKSA nie. Inteendeel, ons voel ons met al die kerke een voor die HERE, ook t.o.v. hierdie onterende besluite. Ons treur inderdaad ook oor ons eie aandeel aan hierdie besluite dat ons nie instaat was om dit te kon keer nie. Dit is ook n treurende saak om te verneem van al die stryd en verwarring wat dit tans binne baie plaaslike kerke veroorsaak.
Om te treur wanneer die eer van God in gedrang is, is tog Bybels verantwoord. In Jeremia 8:21 is Jeremia die een wat treur en beswaard is oor die sondige toestand van God se verbondsvolk. Die Bybel met verklarende aantekening noem Jer 8:18 9:1 profetiese leed. Die Heidelbergse Kategismus spreek duidelik van die hartlike berou wat daar moet wees dat ons God deur ons sondes vertoorn en dat ons daarom hoe langer hoe meer die sondes moet haat en daarvan wegvlug (Rom. 8:13; Joël 2:13; Hos. 6:1). Dit is inderdaad n voortdurende saak vir elke sondaar. Maar dit kan tog ook n nodige saak word binne kerkverband wanneer die eenheid van kerke in gedrang kom deur besluite soos hierbo aangetoon.
Die wêreldse droefheid dryf jou weg van God af. Wee jou as jy so treur! Die gelowige droefheid dryf jou na God toe. In ons smarte moet ons terug na die Man van Smarte en terug na Sy Woord. Daar vind jy die Saligmaker wat sê: "Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word." (Mt 5:4)
VRAAG VIER
"Wanneer kritiek teen bepaalde standpunte (sinodebesluite byvoorbeeld) uitgespreek word, behoort dit altyd hand aan hand te gaan met selfondersoek en selfkritiek" aldus prof Van Wyk. Hy vra dan of diegene wat doleer gemaklik daarmee is wanneer n broeder en suster van n ander kultuur-groep n erediens by hulle sou bywoon?
Wie die splinter uit n ander se oog wil haal moet tog eers die balk uit sy eie oog uithaal. (vgl. Mt 7:3-5) Dit geld vir GKW(d) en ook vir prof Van Wyk.
Sy vraag oor die erediensbywoning van n broeder en suster uit n ander kultuurgroep is hier glad nie ter sake nie. Sou hy egter poog om ou koeie uit die sloot te haal, spreek dit van liefdelose optrede aangesien die verlede behoorlik afgehandel is, in so n mate dat die kerke in die klassis daarmee tevrede was. Hiermee oortree hy sy eie neergelegde reëls t.o.v. negatiewe en opbouende kritiek. Daarin stel hy: "Kritiek teen die kerk as sodanig hoef nie n slegte verskynsel te wees nie. Dit hang maar af met watter gesindheid en doel dit gedoen word. Is dit gemik op die opbou van die gelowiges, die groei van die kerk en die koms van die koninkryk, of is dit afbrekend, persoonlik, onnodig kras? Dis die vrae wat hier belangrik gaan wees" (Die Kerkblad, 12 Februarie 2003, p. 6).
Nie eens die wêreldse pers het met die saak oor doleansie verwys na sake van ses jaar gelede nie (vgl. Beeld, 20 Maart 2003, p. 8; Die Pos, 20 Maart 2003, p.1). n Medebroeder in kerkverband ag dit egter gerade om die saak op te haal by wyse van n vraag en gee so vir RSG geleentheid om juis dié vraag in n kerklike nuusbulletin op 18 Mei 2003 aan te gryp. Dit was onnodig en afbrekend.
So n vraag in 2003, waaroor geen huiswerk gedoen is nie, stel die kerk van ons Here Jesus Christus by medekerke en in die wêreld onnodig onder verdenking en bring die negende gebod in gedrang.
VRAAG VYF
"Is dit nie so dat elke gemeente altyd in n staat van doleansie behoort te verkeer nie, dit wil sê in n staat van voortdurende droefheid oor die eie sonde, nala-tigheid en ongehoorsaamheid.".
Die antwoord is inderdaad n duidelike JA. Maar selfkritiek word tog nie aan die groot klok opgehang nie. Net soos opbouende kritiek tussen kerke selfs nie eers deur die wêreldse pers hanteer behoort te word nie, sal n gemeente sy selfkritiek tog nie deur Die Kerkblad verkondig nie.
U is egter vry om n studie te doen oor die prediking en huisbesoeke in GKW(d) sedert die doleansie. Moontlik sal ons boodskap dan duideliker wees en sal daar meer begrip vir GKW(d) se saak wees.
WAT DAN VAN TOLERANSIE?
Die voorbeelde van God se groot verdraagsaamheid oor die sonde, waarna prof Van Wyk verwys, beteken tog nie dat God nou oor die sonde swyg en daarmee tevrede is nie. Sy verdraagsaamheid gaan juis saam met ernstige en duidelike oproepe tot bekering. Dit beteken dat daar met berou van die sonde weggebreek moet word. God se verdraagsaamheid is juis die geleentheid wat Hy bied dat daar dadelik bekering moet plaasvind. Hy leer ons egter ook dat sy verdraagsaamheid nie onbeperk is nie. (vgl. Joh 2:13-17; Op 3:16; Op 20:12).
GKW(d) poog met sy doleansie om juis, soos Christus, verdraagsaam te wees. Ons kan egter nie swyg waar Christus en sy Woord deur belangrike besluite geminag word nie. Ons pleit vir die herroeping van daardie besluite. Daarvoor is daar nog tyd. In groot verdraagsaamheid wag ons dit biddende af.
Ons bekommernis word nie gemeet aan die bekommernis van die Nuwe Hervormers nie, maar moet wel gemeet en getoets word aan die Skrif soos hierbo duidelik aangetoon.
Die keuses is tog duidelik uitgespel, naamlik VIR Christus of TEEN Christus. Die gesag van Christus in sy Woord is vir GKW(d) ononderhandelbaar.
In alles wil ons ordelik en eerbaar optree omdat dit juis gaan om die eer van die HERE. Hierdie saak is in biddende opsien na Hom begin met die geloofsver-wagting dat Hy dit sal voleindig. (vgl. Ps 138:8)
Ons bede is daarom dat die huidige doleansie binne die GKSA alle sterk standpuntstellers tot besinning sal bring en dat ons debat nie die huidige verwarring sal vergroot nie, maar dat ons gehoorsaam aan die Skrif en Belydenis, duidelik en eenstemmig uit die Woord aan die kerke leiding sal gee.
Hierdie Polemiek is ook gepubliseer in Die Kerkblad, Julie 2003, bl 40 - 42