Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 Julie 2003
OPVOEDING EN ONDERWYSDIE PRETORIASE AKADEMIE VIR CHRISTELIK-VOLKSEIE HOëR ONDERWYS
Die Pretoriase Akademie vir Christelik-volkseie Hoër Onderwys is op 11 Mei 2002 formeel opgerig. Die noodsaak en tydigheid van hierdie stap word onteenseglik bevestig deur gebeure van die afgelope weke wat die skyn van Afrikaanse en Christelike hoër onderwys in die gevestigde openbare stelsel van universiteite en technikons finaal gekelder het.
Al die voorheen Afrikaanse staatsuniversiteite het hulle Afrikaanse en Afrikaner-kulturele karakter prysgegee. Pretoria, RAU en Stellenbosch is enkele weke gelede deur die Universiteit van die Vrystaat gevolg, wie se taalbeleid toon dat ook hy Afrikaans verlaat. En op 21 Junie 2003 word die laaste en belangrikste stap in die transformasie van openbare hoër onderwys bekend gemaak dat die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys in Januarie 2004 in die North-West University opgaan en dat die beskrywing "CHO" verdwyn. Daarmee word die laaste reste van Christelike hoër onderwys en Afrikanergerigte hoër onderwys amptelik begrawe. Geen verdoeseling kan hierdie voldonge feit versluier nie.
Die oprigting en bestaan van die Pretoriase Akademie vir CVHO maak dit duidelik dat die Afrikanervolk hom nie neerlê by die vernietiging van die voormalige stelsel van Afrikaanse hoër onderwys in die Christelike tradisie nie. Die Pretoriase Akademie vir CVHO staan ondubbel-sinnig op die Calvinistiese lewens- en wêreldbeskouing as grondslag soos dit in die Drie Formuliere van Eenheid van die Christelike geloof verwoord word. Vanuit hierdie belydenisgrondslag aanvaar die Pretoriase Akademie vir CVHO dat die Afrikanervolk deur Goddelike beskikking tot stand gekom het en geroep is om die kultuuropdrag van Genesis 1 en 2 in hierdie landstreek uit te voer. Hier-die geroepenheid strek van die bewerking en bewaring van die land tot die vestiging van die Kerk van Christus en die uitbreiding van sy Koninkryk deur Woord- en roepingsverkondiging ook aan ander volke.
Die Pretoriase Akademie vir CVHO het reeds ver gevorder met onderhandelinge vir owerheidsakkreditering en -registrasie waar dit van toepassing kan wees, soos die leerprogramme in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Opvoedkunde en Regte wat reeds ingedien is en waaroor tans onderhandel word. Terselfdertyd is aansoek om registrasie as private instelling gedoen. Ondersoeke ter plaatse is reeds deur die owerheidsliggame gedoen om die vermoë van die Pretoriase Akademie vir CVHO te bepaal.
Die direksie van die Pretoriase Akademie vir CVHO hanteer verder versoeke en ondersoek die aanbieding van kursusse waarvoor daar behoefte bestaan maar nie aan amptelike erkenning onderhewig is nie.
Kort kursusse in talle rigtings is onder bespreking, asook kursusse vir byskoling en die opleiding van mense van wie n bepaalde kennisvlak maar nie noodwendig n erkende kwalifikasie nie, vereis word.
Belangstellendes kan navraag doen by:
Telefoon (012) 663-3190, Faks (012) 663-2808
E-pos:
navrae@pacvho.org.zaDie webwerf van die PA vir CVHO kan besoek word by:
www.pacvho.org.za www.pacvho.org.zaDie Pretoriase Akademie vir CVHO kan persoonlik besoek word by Grondvloer, Karee, Tuinhof, Westlaan 265, Verwoerdburg.
DR PIETER VAN DER DUSSEN (Besturende Direkteur)
Mediavrystelling, 27 Junie 2003