Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 Julie 2003
OPVOEDING EN ONDERWYSPU VIR CHO LAAT DEMOKRASIE VOOR TRANSFORMASIE BUIG- Kommentaar MWU-Solidarity -
Die PUK is n klassieke gevallestudie waar die demokrasie voor die ideologie van transformasie moes buig. Verlede jaar het meer as 90% van die studente vir die behoud van die PUK se Christelike karakter gestem, die personeel het hul stem oorweldigend ten gunste van die CHO uitgebring, vakbonde het hul stem dik gemaak teen die planne van die Universiteit om die CHO weg te vat en oud-studente het verskeie protesaksies geloods om hulle stem te laat hoor. Indien demokrasie die hoogste gesag was, sou die PUK se naam en karakter nie verdwyn het nie. Die dilemma is egter dat transformasie gebruik is as hoogste gesag en die rolspelers se stem is dus ondergeskik daaraan. Dit was die reaksie van Dirk Hermann oud-studenteraadsvoorsitter van die PU vir CHO op die aankondiging dat die naam en karakter van die PU vir CHO gaan verdwyn na die samesmelting met die Universiteit van Noorwes. Hermann en 10 ander studenteraadsvoorsitters het hulle verlede jaar sterk uitgespreek teen die planne van die PU vir CHO om sy naam te verander.
Dit is egter nie net demokrasie wat die knie moes buig voor transformasie nie, maar ook die Grondwet. Die Grondwet maak dit moontlik vir onderwysinstellings om op n spesifieke taal en godsdiens gebaseer te wees. Dit pas egter nie in die transformasie-agenda nie en waar transformasie en die grondwet in botsing is, is transformasie die hoogste gesag.Tans is Christelike Hoër instellings n wêreldwye tendens. In die VSA het die Christian College Coalition meer as 60 lede. In Asië is daar n Association of Christian Universities and Colleges. Daar bestaan n International Association for promotion of Christian Higher Education. In Nigerië is daar die Hilltop University en in Zimbabwe die Christian College of Southern Africa. Ongelukkig moet internasionale tendense ook die knie buig indien dit in botsing is met die transformasie-ideologie.
Die besluit van die PUK is nie net n kosmetiese naamsverandering nie, maar n radikale skuif weg van sy wetenskapbenadering. n Waardegedrewe universiteit is iets radikaal anders as n universiteit op n Christelike grondslag. n Waardegedrewe universiteit beroep hom op die waardes van die Grondwet, terwyl n universiteit op n Christelike grondslag hom beroep op die waardes van die Bybel. Die besluit is ook slegs n tussenfase na n Engelse universiteit.
Die Universiteit het besluit om met sy geskiedenis te breek. n Breek met die geskiedenis is egter ook n breek met sy oud-studente. Oud-studente is die grootste voedingsbron en donateurs van die Universiteit.