Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 Julie 2003
OPVOEDING EN ONDERWYSUNIVERSELE GEBED DALK VOORSKRIFTELIK VIR GEBRUIK IN SKOLE
'n Universele gebed en die lees uit godsdienstige geskrifte tydens godsdiensbeoefening op skool is voorstelle in die hersiene konsepbeleid oor godsdiens in onderrig wat die ergste teenkanting kan kry.
Die nuwe beleid van mnr Kader Asmal, minister van onderwys, is reeds in die Staatskoerant gepubliseer. Die publiek het 'n maand om kommentaar te lewer.
Kerklui en politici se reaksie het gister gewissel van opgewondenheid oor toegewings tot sienings dat dit weinig verskil van die vorige omstrede beleid.
Ingevolge die beleid kan leerlinge en onderwysers enige tyd godsdiens beoefen mits dit die "multi-religieuse" aard van die samelewing weerspieël. 'n Universele gebed en verskillende godsdiensgeskrifte óf die afwisseling van godsdienste word voorgestel.
Godsdiensbeoefening buiten saalbyeenkomste word toegelaat. Leerlinge mag op grond van geloof geskei word, maar daar moet gelyke geleenthede vir leerlinge wees om hul geloof te beoefen.
Volgens die beleid kan 'n skool nie godsdienseenheid afdwing op leerlinge van verskillende godsdienste nie. Leerlinge kan ook nie op grond van gewetensbesware verskoon word nie, want dit beteken hul reg op vryheid van gewete word geskend.
Die beleid bepaal godsdiensonderrig met opvoedkundige uitkomste is die verantwoordelikheid van die skool.
Belydende en sektariese vorme van godsdiensleer in skole word as onvanpas gesien in 'n demokratiese samelewing met godsdiensverskeidenheid.
Die beleid gee meer erkenning vir die rol wat verteenwoordigers van godsdiensorganisasies en kerkleiers kan speel om te help met godsdiensonderrig.
Volgens Asmal is daar kommer oor die wye "godsdiensongeletterdheid" onder onderwysers. Godsdiensorganisasies sal versoek word om te help met hul opleiding.
Wat godsdiensleer betref, sê die beleid dit hoort by die huis, gesin en kerkgemeenskap tuis. Dit kan nie deel van die skoolprogram wees nie, maar skole kan geriewe vir die doel beskikbaar stel solank dit vir alle gelowe is.