Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 Julie 2003
SKRIFOORDENKING
DEURGROND MY, O GOD
Psalm 139:1-24
- DR IL BEKKER - DIE MOOT -
Bokant Psalm 139 is deur die 1933-Bybelvertalers as opskrif geskryf: "Die goddelike alwetendheid." Tog gaan dit in hierdie pragtige gedig om méér as net God se alwetendheid. Dit gaan ook oor die mens. Daar word gepraat van mense wat verkeerd optree; wat deur hulle optrede God se vyande en daarom ook die digter se vyande is. Die digter praat ook oor homself as enkeling, as mens wat dikwels soekende en soms self vlugtende voel. Dan hoor ons ook van God wat Hom met hierdie mens bemoei en vir hom omgee. Ons hoor van God wat hierdie kind van Hom volkome ken: Hy lees sy gedagtes, Hy ken sy hart, Hy ken sy toekoms. Hy weet ook van die donker en skadelike dinge in sy lewe. Nogtans lei God die digter op 'n uitnemende, dit is op 'n ewige pad.Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg. Ps 139:23,24Die swaartepunt van Psalm 139 lê dus nie eintlik in God se alwetendheid nie, maar eerder in God wat toets en deurvors.
"Deurgrond my, o God." Die woord deurgrond in die oorspronklike Hebreeus het te doen met die skeiding maak tussen koring en kaf, die wanproses. So keur die H
ERE ook die digter se lewenshandelinge om te sien wat goed en kwaad is. Daar moet nagespeur en ondersoek gedoen word, sodat die ware bedoelinge duidelik kan word.As ons deurgrond word, word daar fyn gekyk na dit waarna ons eintlik strewe. Dit waarop ons uit is, ons diepste dryfveer moet dan na boontoe kom.
"Ken my hart ..." Die hart moet geken word, dan ken jy die mens; want uit die hart is die uitgange van die lewe. En tog kan die een mens die ander mens se hart uiters moeilik ken. Dit is so te sê onmoontlik. Maar vir God is dit wel moontlik. Die mens sien bloot aan wat voor oë is, maar die H
ERE sien die hart aan."Toets my ..." In die woord toets lê byna dieselfde gedagte opgesluit as in deurgrond. Dit sien op dinge uit mekaar uithaal en uit mekaar uithou. Soos in die smeltkroes die skuim van die silwer geskei word en met 'n speurende oog die stukkies onsuiwerheid uit die edelmetaal uitgehaal word, so moet die H
ERE ook met die digter doen. Hy moet hom werklik louter."Ken my gedagtes ..." Gedagtes sien op alles wat die digter oorweeg en beplan, op al die mooi en die minder mooi dinge wat daar binne-in hom afspeel. Gedagtes het hier direk te doen met sy intieme gemoedslewe.
By hierdie sake roep hy God se hulp in. Hy verlang God se teenwoordigheid as hy met homself en sy mees intieme en persoonlike sake besig is. Hy het die H
ERE ondersoekend en vorsend in sy eie lewe nodig.Nou kan ons onsself afvra: waarom sal iemand tot God bid om deurgrondend en soekend in sy hart teenwoordig te wees? Kan 'n mens maar nie maar self sien kom klaar nie? Dit probeer ons tog eintlik almal? Elkeen moet maar sy eie potjie krap. Jy moet maar jou eie stryd stry, want niemand ken jouself eintlik beter as jyself nie. Tog is dit nie reg nie. Alle selfkennis sonder God is selfbedrog en selfmisleiding. Vreemd om dit so te stel, maar jyself as mens kan nie eens werklik jou eie hart ken nie. Tereg sê Jeremia: "Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?" (Jer 17:9)
Waarom is ons hart bedrieglik? Weet u waarom? Bloot omdat ons in ons selfkennis uit is op selfverdediging. Ons wil self ons dinge goed maak by God. Die verkeerde wat ons gedoen het, praat ons goed. Die kwetsende optrede teenoor 'n medegelowige probeer ons verskonend te wyt aan karaktergebreke:"Ek is nou maar eenmaal te reguit", of "Ek praat maar so as ek kwaad is, maar bedoel dit nie regtig nie." Ons is gou om 'n misstap aan die omstandighede toe te skryf.
Die foute van ander mense sien ons wel raak. Ons is ook gou om dit as vreeslike oortredinge, as sonde in 'n baie erge graad, uit te wys. Ons verwyt die ander ook daarvoor. Maar ons eie foute sien ons liefs nie raak nie. Ons wil dit gewoonlik nie sien nie. Dan raak ons hoogmoedig, regverdig in eie oë en ons is vinnig om ons naaste te veroordeel.
Dan is ons ook op pad - want hy wat 'n ander jaag, staan self nie stil nie. Ons is op die pad van smart. 'n Ander vertaling vir 'n weg van smart is 'n heillose of verderflike weg.
Die digter bid tot sy God: "Kyk of daar by my 'n weg is van smart", met ander woorde: Mag U in u alwetendheid my daarvoor bewaar dat ek beland op 'n pad wat vir my net hartseer en wroeging gaan inhou. Laat my tog sien, insien dat ek besig is met 'n cul de sac, 'n doodloopstraat.
Laat my tog insien dat ek op hierdie pad geen vreugde, geen vrede en geen ware lewe gaan vind nie. Plaas dan 'n blokkade op my pad, o H
ERE, dat ek tot stilstand kan kom. Stop my in my voetspore en lei my op die regte pad. "Leer my HEER u regte weë, wys die regte pad my aan ..."Dawid, die digter van hierdie Psalm, het God geken. Hy weet dat hy niks vir Hom kan wegsteek nie. Waarheen hy ook sou dink om te vlug: na die hemel daarbo of diep onder die aarde, sou dit vir hom niks help nie. Selfs die duisternis sou hom nie vir God kan verberg nie, want die alsiende oog van God sien ook deur die duisternis. Vir Hom maak dit geen verskil of dit lig of donker is nie.
Simbolies gesien dui dit hier ook op die onwetendheid van die mens as donkerheid, dit dui op die donkerheid van sy skuld voor die hoë God, die donker dade en gedagtes waarby en waardeur hy die pad byster geraak het. God se lig straal deur al hier-die donkerheid en verlig dit helder.
Die digter kan van hierdie God wat Hom met sy mense bemoei, nie wegkom nie. God se alwetendheid gaan hier saam met sy alomteenwoordigheid en sy deurgronding van alles. Hierdie sake is nie abstrakte en bloot dogmatiese eienskappe van God nie. Nee, dit is lewende werklikhede. Dit is die praktiese lewenswerklikheid van die ontmoeting van die mens as enkeling met die almagtige en alwetende God.
Die digter besef nou dat hy alleen nie uit sy omstandighede kan uitkom nie, dat hy alleen nie met sy bedrieglike hart kan saamlewe nie. Hy is nou eerlik. Hy is eerlik gemáák voor God. Alle paaie waarop hy sou wou wegvlug, is gesluit. Dit bring mee verootmoediging en beskaming. Daar kom inkeer.
Hy verloor sy selfhandhawing en gewaande selfkennis. Nou wil hy die H
ERE nie meer uit sy lewe uitsluit en van Hom wegvlug nie, maar hy wil Hom juis oor sy goddelike raad, sy gedagtes, by hom hê: "Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie! Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U" (vs 17, 18).So 'n alsiende, alomteenwoordige God kan nie die sonde verdra nie, nie in sy vyande en ook nie in sy kinders nie. Daarom word daar in dié Psalm die ondergang afgebid van die goddelose oor die algemeen, en dan word daar in die besonder verwys na oortreders van die derde en die sesde gebod. Dié wat gehaat word is vyande van God en juis daarom ook vyande van die gelowige. Dit gaan immers oor die saak van God.
As die digter klaar na hierdie vyande van God gekyk het, dan kyk hy met 'n eerliker oog weer na homself. Dit dring net skerper tot hom deur dat die alsiende God ook in hóm die sonde moet ontdek. Met oorgegewenheid vra hy nou dat die HERE hom moet deursoek met sy speurende oog en aan hom moet openbaar wat daar verkeerd is.
Die digter vertrou hom nou ten volle aan God toe. Vrymoedig vertrou hy hom aan sy God toe. Hy ken God as die God wat soek en wat liefhet, wat opsoek en vashou, wat vergewe en genadig is. Hy soek die H
ERE terwyl Hy nog te vinde is; hy roep Hom aan terwyl Hy naby is (Jes 55:6).Hierdie God verstoot jou nie, al het jy dit verdien. Hierdie God maak jou nie dood nie, al het jou sonde dit verdien. Hy vergewe. Die geheim hiervoor is geleë in Jesus Christus. Hy is verstoot en alleen gelaat sonder dat Hy enige sonde gedoen het. Hy is gestraf en verlaat om óns ontwil.
As ons dan só, soos die Psalmdigter, bid om deur God getoets te word, dan sien ons hoe ons lewe soos 'n boek ooplë voor God. Die donker doodgeswygde dinge word nou sonde. Die eiewysheid en selfhandhawing is nou nie langer 'n kwessie van geaardheid nie, maar word as skuld voor God bely. En die een wat so bid, ontvang 'n antwoord. Die H
ERE weet watter soort gedagtes Hy oor ons koester. Sê Hy dan nie self nie: "Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee" (Jer 29:11). Daarom is sy gedagtes vir ons kosbaar.Ons leer só om ons sondes in te sien en te bely. Ons word daarvan verlos deurdat God in Christus vergeef. Dan kom daar vrede en ruimte. Dan word jy werklik vry. Vry teenoor God en vry teenoor die mense. Dan is jy 'n nuwe mens wat graag op 'n nuwe pad deur jou Vader gelei wil word. As God met jou onder vier oë praat, is dit heilsaam en bevrydend. Jy lewe word dan stil en kalm. Jou hele bestaan word rustig ingebed in die vergewing van die troue God.
Dan eindig Dawid sy Psalm met dié versugting: "Lei my op die ewige weg!" U het klaar vir my laat sien die weg van smart. Dat dit 'n doodloopstraat is, het ek goed ingesien. Dat op hierdie eiewillige pad vir my en my medemens net skade en skande, net hartseer en ontnugtering wag, het ek nie betwis nie. Hierdie pad wat ek nou loop of nou wou loop, het dus geen toekoms nie.
Help my dan, o troue God! Wys my ook 'n ander pad. Die pad met 'n toekoms. Die pad wat nie doodloop nie, maar deur die oop poorte van die nuwe Jerusalem kronkel tot voor die troon van U, o lewende God.
Dié ewige weg is die pad agter Christus aan. Hy is die Leidsman. Waar Hy lei, daar loop ek. Sy pad is die pad van nederigheid, van geduld en selfverloëning. Op sy pad word hier op aarde die kruis gedra, maar eendag ook die kroon.
Moeilik, bittere moeilik is dit om onsself te oorwin. Ons het daarvoor baie gebed nodig, baie liefde, baie krag van die Heilige Gees.
Die ewige pad is ook die pad waarop vrede verkry word. Vrede met God. Vrede met my huweliksmaat of my gewese huweliksmaat.Vrede met my kinders. Vrede met my ouers. Vrede met my kollegas. Vrede met my omstandighede en - vrede met myself. Hierdie vrede sal nie slegs eendag geld nie, maar kan nou al reeds in volle heerlikheid ervaar word. Ons Here het naamlik sy vrede as erfpor-sie vir ons nagelaat.
Wie is ek? Wat wil ek uit die lewe en uit myself hë? God weet dit. God sê dit. Hy wys my die pad. Die alwetendheid en alomteenwoordigheid van hierdie genadige God is geen verskrikking nie. Dit is 'n groot troos.
Rustig gestem, laat ons dan as gelowiges, strydende en worstelende met onsself, stil word voor God en saam met Dawid vrymoedig bid: "Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!"