Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 Julie 2003
Rob van der Kooy (Villieria-Pretoria) polemiseer in Die Kerkblad, Junie 2003 (bl 52, 53) die antwoord van prof Dries du Plooy op die "Doleansie"-verklaring van die gemeente Waterberg, onderteken deur ds Sarel Cilliers (gepubliseer in Die Kerkblad van April 2003). Hy skryf soos volg:As ek prof Dries du Plooy in Die Kerkblad van April reg verstaan, voer hy onder meer aan dat die besluite van die Gereformeerde Kerk Waterberg insake verskeie sinodebesluite verkeerd is omdat hulle "tensy" van artikel 31 KO nog nie oortuigend bewys het nie. Hy stel dat voordat Waterberg die sinodebesluite mag verwerp en nie toepas nie, hulle eers ander kerke daarvan moet oortuig. "Daar rus 'n bewyslas op hulle om dit aan te toon by diegene wat die besluite geneem het. "Hulle is verplig om hulle argumente of standpunte eers te laat toets ..." Daarmee verander prof Du Plooy die "tensy" na "totdat hulle oortuig is". Hierby vergeet hy enkele punte:
Dat min of meer 'n derde van die af-gevaardigdes op die Sinode duidelik 'n ander insig gehad het en dat daar dus reeds heelwat "meerdere insigte" is wat soos Waterberg dink.
Dat enige kerk in biddende oorweging aan die hand van Gods Woord die volste reg en roeping het (1 Joh 4:1-5) om, selfs al sou so 'n kerk alleen wees, van sinodebesluite te verskil (vgl 1 Kon 22:12-23) en dat vanaf die oomblik dat die insig kom, so 'n kerk se gewete nie gebind mag word bloot omdat die Sinode dit besluit het nie (vgl NGB, artt 29 en 32).
Dat al die kerke nou kan sien en dat die Bybel self duidelik aantoon of Waterberg (en andere) genoeg "bewysmateriaal" aanvoer om sy insigte te onderbou en ten volle bereid is om die kerklike weg te volg, maar sonder om hul eie gewete te beswaar.
En dat 'n besluit wat teen Gods Woord is, nooit vir geldig gehou mag word nie, selfs nie vir 'n sekonde nie.
Soos Joh Jansen (Korte Verklaring van de Kerkenordening, JH Kok, Kampen, 1923, bl 147) dit stel (vry vertaal:) "'n Kerk is aan die besluite van die meerderheid gebind tensy hy die een of ander besluit vir homself bewys het as in stryd met Gods Woord." Voetius word hier aangehaal as hy stel dat 'n plaaslike kerk wat gedwing word om 'n besluit wat hy bevind het in stryd met Gods Woord te wees, uit te voer, dat so 'n kerk dan liewers uit die kerkverband moet tree as om teen Gods Woord en teen sy gewete te handel.
Natuurlik moet geen kerk oorhaastig of emosioneel optree nie. Maar dit is 'n kerk se eie verantwoordelikheid. Dit is glad nie 'n kwessie van "regter in eie saak wees" soos die skrywer aanvoer nie. Dis 'n kwessie van doen wat jou gewete jou beveel, en seker maak dat jou gewete Bybels-korrek is. Daarmee kan ander kerke of kundiges help, maar nie dwing nie. Want anders as 'n kerkraad het 'n meerdere vergadering afgeleide, dienende, mindere, afhanklike gesag. 'n Meerdere vergadeing behoort nie tot die wese van die kerk nie, maar tot die welwese (Jansen, a.w. bl 164-166).
Prof du Plooy voer ook aan dat die Sinode alle argumente van Waterberg geweeg en tog daarteen besluit het. Dit mag so wees, hoewel ek dit nie glo nie. (So is die minderheidsrapport ten opsigte van die Psalmomdigtings nie deur die Kommissie of die Sinode oorweeg nie omdat daar eenvoudig nie tyd daarvoor was nie. Dit is bloot afgestem ten gunste van die meerderheidsrapport, sonder om dit behoorlik te oorweeg.) Ongeag die omstandighede, kan 'n sinode altyd 'n verkeerde besluit neem, soos die geskiedenis keer op keer bewys.
Ten slotte: Ons moet besef dat die sinodebesluite 'n dieper agtergrond het as net 'n aantal argumente voor of teen sekere menings of voorstelle. Dit gaan hier om 'n diepliggende verskil oor die kerk- en veral oor die Skrifbeskouing. Binne die kerke is daar nou 'n denkskool wat die Gereformeerde Skrifhantering van Sola Scriptura verlaat het en nie meer aanvaar dat die hele Skrif alleen genoegsaam is om Homself te verklaar nie. Sonder uitsluitsel daaroor gaan die meningsverskille en die onrus in die kerke al meer en erger word.
Laat die kerke, dieTeologiese Skool en sy Kuratorium en ook die meerdere vergaderings dit asseblief dringend en as eerste prioriteit aanspreek. Ter wille van die unica catholica.